Search form

Genesis 12

Abram kom na die land Kanaän

1Die Here het vir Abram gesê: “Jy moet uit jou land gaan, weg van jou familie en van jou pa se huisgesin. Ek sal jou wys na watter land jy moet gaan.

2“Ek sal jou *seën,

en jou *nageslag

sal ’n groot volk word.

Ek sal jou naam belangrik maak,

en mense sal jou naam gebruik

om ander mense te *seën.

3As iemand jou seën,

dan sal Ek hom ook seën,

en as iemand jou *vervloek,

dan sal Ek hom ook *vervloek.

Al die mense van die aarde

sal jou naam gebruik

om te bid dat Ek hulle

moet seën soos Ek jou

geseën het.”

4Abram het toe weggegaan soos die Here vir hom gesê het. Lot het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggegaan het.

5Abram het sy vrou Sarai, sy broer se seun Lot en al hulle goed saamgeneem. Hy het ook al die *slawe geneem wat hulle in Haran gehad het. Hulle het weggegaan na die land Kanaän. Toe hulle in Kanaän kom, 6het Abram deur die land getrek tot by die *gewyde plek van Sigem, dit is die boom van die mense wat dink hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. In daardie tyd het die Kanaäniete in die land gewoon. 7Die Here het aan Abram *verskyn en vir hom gesê: “Ek gee hierdie land vir jou nageslag.”

Abram het daar ’n *altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. 8Abram het van daar verder getrek na die berg oos van die stad Bet-El, en hy het sy tente daar opgeslaan. Bet-El was wes van hulle, en die stad Ai was oos. Abram het daar ’n altaar vir die Here gebou. Hy het die Here aanbid. 9Later het Abram verder getrek na die Suid-land toe.

Abram in Egipte

10In daardie tyd was daar *hongersnood in die land. Abram het na Egipte gegaan om daar te gaan woon, want daar was baie min kos in sy eie land. 11Toe hy naby Egipte kom, het hy vir sy vrou Sarai gesê: “Ek weet jy is ’n mooi vrou. 12Wanneer die mense van Egipte jou sien, dan sal hulle sê: ‘Dit is Abram se vrou.’ Dan sal hulle my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat lewe. 13Jy moet vir hulle sê jy is my suster. Dan sal hulle my nie doodmaak omdat hulle jou wil hê nie. Hulle sal dink ek is jou broer en hulle sal goed wees vir my. So sal jy help om my lewe te red.”

14Toe Abram in Egipte kom, het die mense van Egipte gesien Sarai is baie mooi. 15Die *farao se *amptenare het haar gesien, en hulle het vir die farao gaan vertel van die mooi vrou. Hulle het haar gaan haal en sy moes in die farao se paleis gaan bly. 16Die farao was goed vir Abram omdat hy gedink het Sarai is sy suster. Hy het vir Abram skape, bokke, beeste, donkies, *slawe, *slavinne, donkie-merries en kamele gegee.

17Maar die Here het die farao en sy huisgesin swaar gestraf omdat hy Abram se vrou Sarai gevat het. 18Die farao roep toe vir Abram en vra vir hom: “Hoekom het jy dit aan my gedoen? Hoekom het jy nie vir my gesê Sarai is jou vrou nie? 19Hoekom het jy gesê sy is jou suster, want toe het ek met haar getrou. Hier is jou vrou nou. Neem haar en gaan weg!”

20Die farao het toe vir sy amptenare gesê hulle moet Abram en sy vrou en al sy goed uit die land stuur.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index