Search form

Genesis 18

Die Here verskyn aan Abraham

1Die Here het aan Abraham *verskyn by die bome van Mamre. Abraham het by sy tent se deur gesit. Dit was op die warmste tyd van die dag. 2Toe hy opkyk, het hy drie mans voor hom gesien staan. Toe hy hulle sien, het hy na hulle toe gehardloop en laag gebuig voor hulle. 3Hy het gesê: “Menere, julle sal my gelukkig maak as julle nie by my verbygaan nie. 4Ek sal ’n bietjie water gaan haal sodat julle julle voete kan was, en dan kan julle kom rus onder die boom. 5Ek wil vir julle ’n stukkie brood gaan haal, sodat julle weer nuwe krag kan kry. Ek weet dit is hoekom julle na my toe gekom het. Julle kan verder gaan nadat julle geëet het.”

Hulle sê toe vir hom: “Goed, jy moet doen soos jy gesê het.”

6Abraham gaan toe gou na Sara in sy tent en sê vir haar: “Neem gou drie *sea van die beste meel, knie dit en bak brood.” 7Daarna het Abraham gou na die beeste gegaan, hy het ’n mooi jong bul-kalf gevang en hy het dit vir ’n *slaaf gegee om gaar te maak.

8Toe die kalf gaar is, neem Abraham ook botter en melk en hy gee dit vir die mans. Hy het hulle onder die boom bedien, en hulle het geëet.

9Hulle vra toe vir hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Sy is hier in die tent.”

10Toe sê die Here: “Ek sal volgende jaar dieselfde tyd terugkom na jou toe. Dan sal jou vrou Sara ’n seun hê. Dit is seker.”

Sara was agter Abraham by die tent se deur en sy het dit gehoor. 11Abraham en Sara was altwee baie oud, en Sara was al te oud om kinders te kry. 12Sara het stilletjies gelag en gedink: Kan ek nou nog lus wees om by ’n man te slaap? Nee, ek is te oud en my man ook.

13Die Here vra toe vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag en gedink sy kan nie meer ’n kind kry nie? 14Is daar iets wat te moeilik is vir die Here? Volgende jaar dieselfde tyd kom Ek terug na jou toe. Sara sal dan ’n seun hê.”

15Sara was bang. Sy het gestry en gesê: “Ek het nie gelag nie.”

Maar die Here het gesê: “Dit is nie waar nie, jy hét gelag.”

Daar is nie tien goeie mense in Sodom nie

16Die mans het opgestaan om te gaan, en Abraham het ’n entjie saam met hulle gestap. Hulle het na die stad Sodom gekyk.

17Die Here dink toe: Ek sal nie stilbly nie, Ek sal vir Abraham vertel wat Ek wil doen. 18Abraham se *nageslag sal ’n groot en sterk volk word, en al die mense van die aarde sal sy naam gebruik om te bid dat Ek hulle moet *seën soos Ek vir Abraham geseën het. 19Ek het ’n *verbond met Abraham gemaak. Hy moet vir sy seuns en sy nageslag sê om gehoorsaam te wees aan My. Hulle moet doen wat Ek wil hê. Dan sal Ek vir Abraham doen wat Ek vir hom belowe het. 20Toe sê die Here: “Ek hoor baie mense kla oor die stede Sodom en Gomorra, want daardie mense doen baie sonde. 21Ek wil afgaan en gaan kyk of hulle regtig doen wat Ek gehoor het. Ek wil dit weet.”

22Die mans het omgedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog voor die Here gestaan. 23Abraham kom toe nader en vra: “Sal U die goeie mense saam met die slegte mense straf? 24Miskien is daar 50 goeie mense in die stad. Sal U hulle ook doodmaak en die hele stad straf as daar 50 goeie mense in die stad is? 25Sal U die goeie mense saam met die slegte mense doodmaak? U sal nie dieselfde doen met goeie mense en met slegte mense nie. U sal dit nooit doen nie. U, die *Regter van die hele aarde, sal reg *oordeel.” 26Toe sê die Here: “As Ek in Sodom 50 goeie mense kry, dan sal Ek al die mense in die stad se sonde vergewe.”

27Toe sê Abraham weer: “Ek is ’n mens wat van stof en as gemaak is. Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. 28Miskien is daar vyf minder as 50 goeie mense. Sal U die hele stad *verwoes oor vyf mense?”

Toe sê die Here: “Ek sal dit nie verwoes nie as Ek daar 45 goeie mense kry.”

29Abraham het nog ’n maal met die Here gepraat en gesê: “Miskien is daar 40 goeie mense.”

En die Here het gesê: “As daar 40 is, dan sal Ek dit nie doen nie.”

30Toe sê Abraham: “Asseblief, Here, moenie kwaad word as ek praat nie. Miskien is daar 30 goeie mense.”

Die Here het geantwoord: “Ek sal dit nie doen nie as Ek daar 30 goeie mense kry.”

31Toe sê Abraham: “Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. Miskien is daar 20 goeie mense.”

En die Here sê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar 20 goeie mense is.”

32Toe sê Abraham: “Moet asseblief nie kwaad word as ek nog hierdie laaste maal praat nie. Miskien is daar tien goeie mense.”

En die Here het gesê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar tien goeie mense is.”

33Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan. Abraham het teruggegaan na sy tent.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index