Search form

Genesis 47

Jakob en sy familie gaan woon in die land Gosen

1Josef het na die *farao toe gegaan en vir hom gesê: “My pa en my broers het van Kanaän gekom en hulle is nou in Gosen. Hulle het hulle diere en alles wat hulle het, saamgebring.”

2Josef het vyf van sy broers saamgeneem na die farao toe.

3Die farao het vir hulle gevra: “Watter soort werk doen julle?”

Hulle het geantwoord: “Ons is veeboere, ons en ons *voorvaders voor ons.”

4Hulle het ook vir die farao gesê: “Mag ons *vreemdelinge word in jou land? Want in Kanaän is daar nie meer gras vir ons skape en bokke nie. Daar is baie min kos. Mag ons asseblief in Gosen woon?”

5Die farao het vir Josef gesê: “Jou pa en jou broers het na jou toe gekom. 6Hulle mag enige plek in Egipte woon. Kies die beste deel van die land vir jou pa en jou broers. Hulle mag in Gosen woon. As hulle goeie skaapwagters is, dan moet jy vir hulle sê om my skape ook op te pas.”

7Josef het sy pa gebring om die farao te ontmoet. Jakob het die farao gegroet en gesê hy hoop dit sal goed gaan met die farao. 8Die farao vra toe vir Jakob: “Hoe oud is jy?”

9Jakob het vir die farao gesê: “Ek is 130 jaar oud. Die Here het gesê dit is hoeveel jaar ek hier op die aarde mag woon. My voorvaders het ouer geword, maar ek het baie swaar gekry.”

10Jakob het toe vir die farao gegroet en hy het weggegaan. 11Josef het vir sy pa en sy broers die beste deel van Egipte gegee om in te woon, soos die farao gesê het. Dit was by die stad Rameses en dit het hulle eie grond geword. 12Josef het vir sy pa en sy broers en hulle kinders, vir sy hele familie, kos gegee.

Josef koop al die grond in Egipte vir die farao

13Daar was baie min kos in die hele land, die *hongersnood was baie swaar. Al die mense in Egipte en Kanaän het honger gely. 14Josef het koring aan die mense van Egipte en Kanaän verkoop, en hy het al die geld gekry wat die mense gehad het. Hy het die geld na die *farao se huis geneem.

15Toe daar nie meer geld oor was in Egipte en Kanaän nie, het die mense van Egipte na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Gee asseblief vir ons kos. Ons het nie meer geld nie. As Meneer nie vir ons kos gee nie, dan sal ons hier by jou sterf.”

16Josef het gesê: “As julle geld op is, bring julle diere vir my, dan kan ons ruil. Gee vir my julle diere, dan sal ek vir julle kos gee.”

17Hulle het toe hulle diere vir Josef gebring en Josef het vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies. Hy het daardie jaar vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle diere.

18Die volgende jaar het hulle weer na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Meneer, jy weet dat al ons geld op is en dat al ons diere nou aan Meneer behoort. Ons het niks oor om vir Meneer te gee nie. Ons het net ons lewe en ons grond, dit is al wat ons het. 19Hoekom moet ons hier by Meneer sterf? Hier is ons en ons grond. Vat ons en ons grond en gee vir ons kos. Ons sal die farao se *slawe wees, en ons grond sal aan hom behoort. Gee vir ons kos sodat ons kan lewe, want as ons dood is, dan sal niemand op ons grond kan werk en saai nie.”

20Josef het al die grond in Egipte vir die farao gekoop. Almal in Egipte moes hulle grond verkoop omdat hulle nie kos gehad het om te eet nie. So het dit gebeur dat die hele land die farao se grond geword het.

21Al die mense in die hele land het die farao se slawe geword, en hy het hulle in stede laat woon. 22Josef het al die grond gekoop, maar nie die grond van die *priesters nie, want die farao het altyd vir die priesters betaal en vir hulle kos gegee. Daarom het die priesters nie hulle grond verkoop nie.

23Josef het vir die volk gesê: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is saad vir julle. Saai dit in die grond. 24Maar wanneer julle die koring afsny, dan moet julle een vyfde daarvan vir die farao gee. Vier vyfdes van die koring-oes mag julle hou. Dit is julle saad om te saai sodat julle kos kan hê om te eet, julle en julle kinders en al die mense in julle huise.”

25Hulle sê toe vir Josef: “Jy het ons lewe gered. Jy was goed vir ons, en ons sal die farao se slawe wees.”

26Josef het ’n nuwe wet in Egipte gemaak wat tot vandag toe daar is. Een vyfde van alles wat die mense afsny, behoort aan die farao. Maar die priesters se grond het nie die farao se grond geword nie.

Josef belowe hy sal vir Jakob in Kanaän begrawe

27Jakob en sy familie het in Egipte in die land Gosen gewoon. Hulle was *vrugbaar, hulle het baie geword. Hulle het ’n groot en sterk volk geword.

28Jakob het 17 jaar lank in Egipte gewoon. Toe hy 147 jaar oud was, 29het hy gevoel sy dood kom nader. Jakob het sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Sal jy my asseblief help en iets vir my doen. As jy lief is vir my, sit dan jou hand onder my *heup en belowe dat jy sal doen wat ek vra. Jy moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. 30Wanneer ek sterf, dan moet jy my liggaam uit Egipte neem en jy moet dit gaan begrawe by my *voorvaders in ons familiegraf.”

Josef het gesê: “Ek sal doen wat Pa gevra het.”

31Toe sê Jakob: “Belowe dit.”

Josef het vir Jakob belowe dat hy dit sal doen. Toe het Jakob op sy bed gekniel en hy het vir God dankie gesê.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index