Search form

Jesaja 15

Al die mense in Moab roep dat die Here hulle moet help

1Die Here is kwaad vir die Moabiete. Hy het gesê:

“Die vyande het die stad Ar-Moab

in een nag *verwoes en afgebreek,

hulle het ook die stad Kir-Moab

in een nag verwoes en afgebreek.

2Die mense van die stad Dibon

gaan na die *tempels,

hulle gaan na die *offer-plekke

om te huil.

Die Moabiete huil oor die stede Nebo en Medeba.

Hulle het hulle *hare en hulle baard afgeskeer,

3hulle trek *rouklere aan op die strate,

hulle sit almal en huil

op die dakke en op die oop plekke,

hulle is baie hartseer,

hulle wil sterf.

4Die mense van die stede Gesbon en Elale roep

en vra dat iemand hulle moet help,

die mense van die stad Jahas hoor dit.

Daarom bewe die soldate van Moab,

hulle word moedeloos.

5Ek is baie jammer vir die Moabiete,

want hulle vlug tot by die stede Soar en Eglat-Selisija,

hulle huil en gaan na die stad Lugit,

hulle skree op die pad na die stad Goronajim

omdat hulle land verwoes is.

6Daar is nie meer water by die stad Nimrim nie,

die gras het droog geword,

daar is nie meer plante nie,

niks is groen nie.

7Daarom vat die Moabiete al hulle goed

en dra dit oor die Populier-rivier.

8Al die mense in Moab roep

en vra dat iemand hulle moet help,

ook die mense in die stede Eglajim en Beër-Elim.

9Die water van Dibon is vol bloed,

maar Ek, die Here, sal dit nog slegter laat gaan

met die mense van Dibon.

Ek sal leeus stuur om die Moabiete aan te val,

die Moabiete wat nog lewe

en wat oorgebly het in die land.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index