Search form

Jesaja 17

Damaskus sal verdwyn

1Die Here was kwaad vir die mense van die stad Damaskus.

Hy het gesê Damaskus sal verdwyn,

dit sal nie meer ’n stad wees nie,

dit sal net ’n hoop klippe wees.

2Die mense sal weggaan

uit die stede by Aroër.

Skape en bokke

sal in die stede lê en rus,

en niemand sal hulle skrikmaak nie.

3Daar sal nie stede met sterk mure

in *Efraim wees, soos voorheen nie,

en Damaskus sal nie meer ’n koning hê nie.

Dit sal met die mense wat nog lewe in Damaskus,

gaan soos met die mense van *Israel.

Dit sê die Here wat oor alles regeer.

Die mense sal vra die Heilige God moet hulle help

4Daardie dag sal die mense van *Israel

nie meer sterk wees nie,

hulle sal swak en arm wees.

5Dit sal wees soos wanneer iemand

in *Spook-laagte

die *koring-are bymekaarvat en afsny

en dan al die koring-are bymekaarmaak.

6Maar daar sal ’n paar van die mense

van Israel oorbly.

Dit sal wees soos wanneer ’n boer

die olywe van ’n olyfboom afgeslaan het,

en net ’n paar olywe bly oor

aan die boonste takkies.

Dit sê die Here, die God van Israel.

7Daardie dag sal die mense kyk

na die God wat hulle gemaak het,

hulle sal vir die *Heilige God van Israel

vra om hulle te help.

8Hulle sal nie glo dat

die *altare van die *afgode

hulle kan help nie,

of die *gewyde pale

of die *wierook-altare nie.

Dit is altare wat hulle self gemaak het.

9Daardie dag sal die stede wat sterk mure het,

leeg wees,

so leeg soos die bos

toe die ander volke vir die Israeliete gevlug het.

10Ja, Israeliete, julle het weggegaan

van die God wat julle gered het,

julle het die *Rots vergeet

by wie julle veilig was.

Julle maak mooi tuine

en julle plant daar vreemde plante.

11Maar as die plante groot word

en blomme kry

dieselfde dag wanneer julle hulle plant,

dan sal dit ook niks help nie.

Wanneer julle siek en swak word,

dan sal die plante julle nie gesond maak nie.

Die volke wat nou baie raas, sal vlug

12Dit sal sleg gaan

met die baie volke wat nou baie raas.

Hulle raas soos die see,

hulle raas hard soos baie water.

13Hulle raas soos die groot branders,

maar wanneer die Here kwaai met hulle praat,

dan vlug hulle ver weg.

Hulle word soos *kaf

of soos ’n bol gras wat wegwaai

in die sterk wind.

14In die aand is almal nog bang vir die volke,

maar voordat dit oggend is, is hulle weg.

Dit is wat sal gebeur met die mense

wat nou ons goed vat.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index