Search form

Jesaja 35

Ons God sal kom

1Die droë woestyn

sal bly wees en juig,

daar sal blomme groei

in die woestyn.

2Daar sal oral blomme wees,

die woestyn sal juig,

meer nog, hy sal sing.

Die woestyn sal so mooi wees

soos die Libanon-berg

of soos die Karmel-berg

en die *Saron-vlakte.

Almal sal sien

dat die Here die Koning is,

hulle sal sien dat ons God kom,

hulle sal die lig rondom Hom sien.

3Mense se hande hang pap

en hulle knieë bewe,

maar julle moet hulle

sterk maak en help.

4Sê vir die mense wat moedeloos is:

“Julle moet sterk wees,

julle moenie bang wees nie.

Kyk, julle God sal kom,

Hy kom om die vyande te straf

omdat hulle slegte dinge

aan julle gedoen het.

Julle God kom

en Hy sal julle red.”

5Dan sal die blinde mense

weer kan sien,

en die dowe mense

sal weer kan hoor.

6Dan sal lam mense

soos ’n takbok spring,

en stom mense sal sing,

want in die woestyn

sal daar fonteine wees,

en riviere wat vol water is.

7Grond wat droog geword het

in die son,

sal vol water wees.

Daar sal fonteine wees

waar daar niks water was nie.

Daar sal gras, *riete en *biesies groei

waar daar net jakkalse was.

8Daar sal ’n pad wees,

en die mense sal die pad noem “*Gewyde Pad.”

*Onrein mense en *dwase

sal nie op hierdie pad loop nie,

net mense wat reg lewe, sal daar loop.

9Leeus en ander wilde diere

sal nie op die pad loop nie.

Die Here het mense gered,

en net hulle sal daar loop.

10Die Here het sy mense vrygemaak,

en hulle sal sing

wanneer hulle in *Sion kom.

Hulle sal vrolik en bly wees,

hulle sal nie swaarkry

en huil nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index