Search form

Jesaja 49

Ek moet die nageslag van Jakob terugbring na die Here toe

1Mense wat ver van hier

langs die see woon,

julle moet luister na wat ek sê:

Die Here het my geroep

voordat ek gebore is,

ek was nog in my ma se liggaam

toe Hy my naam genoem het.

2Hy het vir my geleer om goed te praat,

my woorde is soos ’n skerp swaard, soos ’n pyl.

Maar die Here het gesê

ek moet eers stilbly,

Hy het my weggesteek

soos ’n swaard of ’n pyl.

3Hy het vir my gesê:

“Jy is my *dienaar, jy is Israel.

Wanneer die mense na jou kyk,

dan sal hulle My *eer.”

4Ek het gedink: Ek is moeg,

ek het nie meer krag nie.

Ek het baie hard gewerk,

maar dit het niks gehelp nie.

Maar die Here weet wat ek gedoen het,

my God sal my betaal.

5Voordat ek gebore is, het Hy gesê

ek moet sy dienaar wees

en ek moet die *nageslag van Jakob

na Hom toe terugbring,

die Israeliete wat nou ver van mekaar woon.

Die Here het my belangrik gemaak,

en dit is my God wat my sterk maak.

Hy het nou weer met my gepraat.

6Hy het gesê: “Jy is my dienaar,

jy moet die Israeliete terugbring,

die mense wat oorgebly het

van die *stamme van Jakob.

Maar dit is nie genoeg nie,

jy moet nog meer doen,

jy moet die lig vir die ander volke wees,

Ek wil al die mense op die aarde red.”

Ek het julle gekies om aan My te behoort

7Die Here praat, die *Bevryder van Israel,

die *Heilige God van Israel.

Hy praat met die Israeliete

wat dink hulle beteken niks,

die ander volke

hou niks van hulle nie,

en hulle is nou die *slawe

van die mense wat oor hulle regeer.

Die Here sê: “Die konings van die ander lande

sal na julle kyk

en hulle sal opstaan en buig,

want hulle sal weet dat Ek, die Here,

doen wat Ek sê.

Ek is die Heilige God van Israel

en Ek het julle gekies

om aan My te behoort.”

Jy sal my verbond wees met my volk

8Die Here het vir my gesê:

“Toe Ek besluit het om my volk te red,

het Ek geluister na jou gebed en Ek het jou gehelp.

Ek beskerm jou en jy sal

my *verbond wees met my volk.

Jy moet hulle roep

om terug te kom na die land

en om te kom woon op die plekke

waar nou niemand is nie.

9Jy moet die *gevangenes

in donker plekke roep,

jy moet vir hulle sê

hulle moet uitkom.

Hulle sal soos skape loop en wei.

Daar sal gras wees op die paaie

en op die kaal plekke.

10Hulle sal nie honger of dors wees nie,

en die son sal hulle nie brand nie.

Ek is jammer vir hulle,

Ek sal voor hulle loop,

Ek sal hulle versigtig lei

na plekke waar waterstrome is.

11Ek sal al my berge gelyk maak

sodat daar ’n hoë grootpad sal wees.

12Julle moet kyk, my volk sal van ver kom,

party sal kom uit die noorde

en party uit die weste,

en party uit die land Sinim.”

13Hemel, aarde, berge,

julle moet juig en vrolik wees,

want die Here laat dit goed gaan met sy volk,

Hy help sy mense wat hulleself nie kan help nie.

Ek het my Naam op jou geskryf

14*Sion, jy het gesê: “Die Here het my verlaat,

my Here het my vergeet.”

15Maar die Here vra: “Dink julle

’n vrou sal haar baba vergeet?

Sal sy nie jammer wees vir haar kind nie?

Nee, sy sal dit nie doen nie.

Maar as sy miskien haar kind sal vergeet,

Ek sal jou nie vergeet nie.

16Sion, jy moet weet, jy is mý stad.

Ek het my Naam op jou geskryf,

Ek dink altyd aan jou mure.

17Jou mense sal vinnig terugkom,

en die mense wat jou *verwoes

en stukkend geslaan het, sal weggaan.

18Kyk rondom jou,

jou mense kom bymekaar

en hulle kom na jou toe.”

Die Here sê: “Ek belowe:

Jou mense sal vir jou so mooi wees

soos die dinge waarmee ’n bruid

haarself mooi maak.

19Jy is nou net hope klippe,

daar woon nou nie mense in jou nie,

en jou land is verwoes.

Maar daar sal nie genoeg plek in jou wees

vir al jou mense nie.

En die mense wat jou verwoes het,

sal ver weg wees.

20Jou mense wat weg was, sal nou vir jou sê:

‘Hier is nie genoeg plek vir ons almal nie,

jy moet vir ons plek maak,

ons wil hier woon.’

21En jy sal dink: Van waar

kom al hierdie mense?

Ek was soos ’n vrou wat nie kinders

kan kry nie,

ek was alleen, niemand het van my gehou nie,

ek was so alleen soos ’n weduwee

wat haar kinders verloor het.

En van waar kom al my mense nou?”

22Die Here sê: “Nou tel Ek my hand op

na die volke toe

en Ek waai my vlag,

en hulle sal jou seuns en jou dogters na jou toe dra.

23Konings en koninginne sal jou kinders

vir jou oppas,

hulle sal laag buig voor jou

en hulle sal die stof van jou voete aflek.

Dan sal jy weet dat Ek die Here is.

Almal wat glo dat Ek hulle sal help,

sal nie teleurgesteld wees nie.”

24Wanneer ’n soldaat oorlog gemaak het

en dinge gevat het van sy vyande,

dan sal niemand daardie dinge wegvat van hom nie.

Wanneer iemand *gevangenes goed oppas,

dan sal die gevangenes nie vry kan word nie.

25Ja, die Here sê: “Dit sal miskien gebeur

dat iemand die gevangenes kan wegvat

van ’n soldaat,

of dat ’n soldaat die dinge kan verloor

wat hy gevat het.

Dit sal nie met jóú gebeur nie.

Ek sal oorlog maak teen die mense

wat oorlog wil maak teen jou,

en Ek sal jou kinders red.

26Ek sal die mense straf wat jou verdruk,

hulle sal hulle eie liggame se vleis moet eet.

Hulle sal dronk word van hulle eie bloed,

soos mense dronk word van nuwe wyn.

Hulle sal weet Ek is die Here wat jou red,

Ek is jou *Bevryder,

Ek is die *Sterk God van Jakob.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index