Search form

Jesaja 51

Ek sal dit weer goed laat gaan met Sion

1Die Here sê:

“Julle wat wil reg doen,

julle moet luister na My.

Julle wat My wil dien,

julle moet onthou

van waar julle kom.

2Julle moet dink

aan julle *voorvader Abraham

en aan Sara, julle is uit haar gebore.

Abraham was alleen

toe Ek hom geroep het,

en Ek het hom *geseën,

Ek het vir hom ’n groot *nageslag gegee.

3Regtig, Ek sal dit weer goed laat gaan met *Sion.

Die stad is nou net hope klippe,

maar Ek sal dit weer daar goed laat gaan.

Dit lyk nou soos ’n woestyn,

maar Ek sal dit laat word soos die tuin in *Eden.

Dit lyk nou soos ’n droë stuk grond,

maar dit sal word soos die tuin van die Here.

Die mense in die stad sal vrolik en bly wees.

Hulle sal sing en hulle sal vir My dankie sê.”

Dit is nou die tyd wanneer Ek julle wil red

4“My volk, julle moet luister na My.

Al die mense wat aan My behoort,

julle moet hoor wat Ek sê.

Ek wil vir julle leer wat julle moet doen

en Ek wil hê al die volke

moet weet dat Ek reg besluit.

Dit moet vir hulle die lig wees.

5Dit is nou die tyd

wanneer Ek wil doen wat reg is,

Ek wil julle nou red.

Ek regeer oor al die volke.

Die mense in die lande langs die see

wag ook dat Ek oor hulle moet regeer.

6Kyk na die lug daarbo

en na die aarde hier onder.

Die lug sal verdwyn soos rook,

die aarde sal word soos ou klere,

en die mense op die aarde

sal sterf soos muggies.

Maar Ek sal julle red,

julle sal altyd Myne wees.

Ek sal nooit ophou om reg te doen nie.

7“My volk, julle weet wat reg is,

julle weet wat Ek wil hê,

julle moet luister na My.

Julle moenie bang wees

wanneer mense julle spot nie,

julle moenie skrik

wanneer mense sleg praat van julle nie.

8Dit sal met hulle gaan

soos met ou klere en wol

wanneer motte dit vreet.

Maar Ek sal altyd reg doen,

en Ek sal mense red,

die mense van elke *geslag.”

Die Israeliete sal nou terugkom

9Here, U moet wakker word,

U moet wakker word.

U moet weer sterk wees.

U moet wakker word soos in die tyd

toe alles begin het,

lank, lank gelede.

Dit is U wat vir *Rahab stukkend gekap het,

dit is U wat vir *Tannin doodgesteek het.

10Dit is U wat die see droog gemaak het,

die water van die *groot see.

Dit is U wat deur die diep see

’n pad gemaak het

sodat die Israeliete daar kon deurgaan

toe U hulle vrygemaak het.

11So sal die Israeliete nou terugkom

wanneer U hulle vrymaak.

Hulle sal juig en aanhou om bly te wees

wanneer hulle in *Sion kom.

Hulle sal vrolik wees en lag,

hulle sal nie meer bekommerd wees

en nie meer sug nie.

Ek het vir die mense van Sion gesê: Julle is my volk

12Die Here sê:

“Dit is Ek wat dit weer

goed sal laat gaan met julle.

Hoekom is julle bang vir mense

wat kan sterf?

Hoekom is julle bang vir mense

wat soos gras is en gou doodgaan?

13Julle het My vergeet,

Ek is die Here wat julle gemaak het.

Ek het die *hemeldak gemaak

en Ek het die aarde op sy plek gesit.

Nou hou julle aan om te bewe

vir die mense wat kwaad is vir julle,

die mense wat vir julle verdruk en wat vir julle wil doodmaak.

Maar waar is daardie mense nou,

die mense wat kwaad was en wat vir julle verdruk het?

Hulle verdruk julle nie meer nie.

14Wanneer iemand ’n *gevangene is,

dan is hy haastig om vry te word.

Hy wil nie sterf en afgaan na die *doderyk nie,

hy wil nie altyd honger wees nie.

15Ek is julle God die Here wat die water in die see roer

sodat die branders wild word.

My Naam is die Here wat oor alles regeer.

16Ek het my woorde in jou mond gesit

en Ek het jou toegemaak in die skaduwee van my hand.

Ek het die hemeldak gemaak

en Ek het die aarde op sy plek gesit.

Ek het vir die mense van *Sion gesê:

Julle is my volk.”

Ek vat die beker uit jou hand

17Jerusalem, jy moet wakker word,

jy moet wakker word en opstaan.

Die Here was kwaad vir jou.

Hy het jou laat drink uit die beker,

die *beker van swaarkry

wat jou dronk gemaak het.

Jy moes die beker leegdrink.

18Die Here sê:

“Jerusalem, jy was soos ’n vrou

wat baie kinders gekry het,

maar nie een kind het later

haar hand geneem en haar gelei nie.

19Twee dinge het met jou gebeur,

en niemand was jammer vir jou nie.

Die vyande het jou seergemaak

en stukkend geslaan.

Die vyande het jou mense laat honger word

en het hulle doodgemaak.

Wat moet Ek doen sodat dit weer

goed kan gaan met jou?

20Jou seuns het flou geval.

Hulle het gelê waar die strate

teen die stad se mure kom,

soos wildsbokke wat in ’n *vangnet gevang is.

Dit het gebeur omdat die Here kwaad was,

omdat jou God jou wou laat swaarkry.

21Jy kan jouself nie help nie,

daarom moet jy luister.

Jy is dronk, maar nie van wyn nie.

22Jou Here, jou God die Here, praat.

Hy sal sy volk help.

Hy sê: Kyk, Ek neem die beker uit jou hand,

die beker wat jou dronk gemaak het

omdat Ek kwaad was vir jou.

Jy moenie dit drink nie, jy mag dit los.

23Maar Ek gee die beker vir die mense

wat jou laat swaarkry het,

die mense wat vir jou gesê het:

‘Gaan lê, ons wil oor jou loop.’

Jy moes word soos die grond,

soos die strate waar die mense loop.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index