Search form

Jakobus 1

Jakobus groet die mense wat sy brief lees

1Ek, Jakobus, is ’n *dienaar van God en die Here Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir die *twaalf stamme van Israel wat oral in die hele wêreld woon. Ek groet julle!

Julle moet bly wees wanneer julle swaarkry

2-3My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskillende soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo. 4Julle moet so aanhou glo dat julle geloof heeltemal sal wees soos dit moet wees. Julle moet so aanhou glo dat julle alles sal doen wat God wil hê, dan sal julle heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees.

5As daar by julle iemand is wat nie *wysheid het nie, dan moet hy vir God vra om vir hom wysheid te gee, en God sal dit gee. Want God gee baie graag, Hy praat nie kwaai met mense wat tot Hom bid nie. 6Wanneer mense bid, dan moet hulle glo dat God sal gee wat hulle vra, hulle moenie twyfel nie. Want ’n mens wat twyfel, is soos die see se branders, die wind waai die branders heen en weer. 7Iemand wat twyfel, moenie dink dat die Here vir hom iets sal gee nie, 8so ’n mens weet nie wat hy moet besluit nie, hy weet nooit wat hy moet doen nie, hy is nie seker nie.

Ryk mense en arm mense

9’n *Gelowige wat onbelangrik en arm is, moet bly wees dat die Here dink hy is belangrik. 10Maar ’n gelowige wat ryk is, moet bly wees dat die Here nie dink hy is belangrik nie, want sy baie goed kan wegraak soos ’n veldblom wat verdwyn. 11Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is ’n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos ’n veldblom.

Dinge wat ’n mens toets en wat ’n mens laat swaarkry

12Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy ’n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so ’n mens, dan sal God vir hom ’n prys gee, God sal vir hom die *ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom. 13Wanneer daar dinge is wat ’n mens se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen, dan moet die persoon nie sê: “Dit is God wat wil hê ek moet verkeerde dinge doen” nie, want niemand kan vir God verkeerde dinge laat doen nie, en God wil ook nie hê dat mense verkeerde dinge moet doen nie. 14Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen. Hy wil die dinge baie graag doen, dit is vir hom soos ’n *vangnet wat hom vang. 15Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood.

16My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie. 17Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos ’n lig wat altyd skyn. 18God het besluit om vir ons die boodskap te stuur wat waar is, Hy het vir ons nuwe lewe gegee, ons het die eerste en belangrikste geword van almal wat Hy nuut gemaak het.

Luister na die Woord van God en doen dit

19My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie. 20Want wanneer ’n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie. 21Daarom moet julle heeltemal ophou om verkeerde en slegte dinge te doen. Julle moet *nederig wees en julle moet luister na die goeie boodskap wat God in julle harte gegee het. Dit is die boodskap wat vir julle kan red.

22Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan *bedrieg julle julleself. 23Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos ’n mens wat in ’n spieël na sy eie gesig kyk. 24Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat ’n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so ’n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê.

26As iemand dink dat hy vir God dien maar hy dink nie voordat hy praat nie, dan bedrieg hy homself, en dan beteken sy godsdiens niks. 27Die regte en die *rein manier om vir God die Vader te dien, is dit: Jy moet sorg vir weeskinders en vir weduwees wat swaarkry. En ’n mens moenie dat hierdie sondige wêreld jou *onrein laat word sodat jy slegte dinge doen nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index