Search form

Jeremia 14

Here, moenie weggaan van ons nie

1Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor die droogte. 2Die mense van *Juda *rou, almal in die *poorte van die stede huil en treur, hulle dra *rouklere en hulle sit op die grond. Die mense van Jerusalem skree en vra iemand moet hulle help. 3Die belangrike mense stuur die mense wat vir hulle werk, om water te gaan haal, hulle kom by die watergate, maar hulle kry nie water nie, hulle *kruike is leeg wanneer hulle terugkom, hulle weet nie wat om te sê of te doen nie, hulle is moedeloos. 4Die koringplante lê plat op die grond, want dit het nie gereën op die land nie. Die boere weet nie wat om te doen nie, hulle is moedeloos. 5Ja, ook die takbok in die veld los haar lam en gaan weg, want daar is nie gras nie. 6Die *wildedonkies staan op die heuwels waar daar nie plante groei nie, en hulle ruik die lug soos jakkalse. Hulle oë is dof, want daar is nie gras nie.

7Here, ons sonde praat teen ons,

en U moet met ons doen wat U besluit,

want U is die Here.

Ons het baie maal opgehou om U te dien,

ons het teen U sonde gedoen.

8U is die *Hoop van Israel,

sy *Redder wanneer dit sleg gaan.

Hoekom is U soos ’n *vreemdeling in die land,

soos iemand wat verbygaan en net

van die pad afgaan om een nag daar te slaap?

9Hoekom is U soos ’n man wat niks kan doen nie,

soos ’n soldaat wat nie iemand kan red nie?

Here, U is by ons, en ons behoort aan U.

U moenie weggaan van ons nie.

10Die Here sê vir hierdie volk dit is waar wat hulle sê, maar hulle hou daarvan om weg te loop van Hom, en hulle het aangehou om dit te doen. Daarom hou Hy nie meer van hulle nie. Hy sal onthou dat hulle verkeerd gedoen het en Hy sal hulle straf oor hulle sonde. 11Die Here het vir my gesê: “Jy moenie vir hierdie volk bid nie, jy moenie vra dat dit goed moet gaan met hulle nie, 12want wanneer hulle *vas, dan sal Ek nie luister hoe hulle soebat nie. En wanneer hulle *brand-offers en *koring-offers bring, dan sal Ek dit nie neem nie. Nee, Ek sal hulle laat sterf in oorlog en van *pes en omdat hulle nie kos het om te eet nie.”

13Ek, Jeremia, het gesê: “Ag, Here, my Here, hoor wat sê die *profete vir hulle. Hulle sê U sê: ‘Julle moenie bang wees vir oorlog of vir honger nie, dit sal nie met julle gebeur nie. Ek sal dit altyd goed laat gaan met julle in hierdie land.’ ”

14Toe sê die Here vir my: “Die profete lieg en hulle sê Ek het hulle gestuur, maar Ek het hulle nie gestuur nie. Ek het nie vir hulle gesê wat hulle moet doen nie, Ek het nie met hulle gepraat nie. Hulle dink self die dinge en sê vir julle hulle het iets gesien of hulle weet iets wat ander mense nie kan weet nie. 15Daarom, hierdie profete sê Ek het hulle gestuur en daar sal nie oorlog en honger in hierdie land kom nie. Maar hulle sal self sterf in oorlog en omdat hulle nie kos het om te eet nie. 16En hulle probeer om profete vir mense te wees, maar daardie mense se dooie liggame sal op die strate van Jerusalem lê. Hulle en hulle vroue en hulle kinders sal sterf in oorlog en omdat hulle nie kos het om te eet nie. Niemand sal hulle begrawe nie. Ek sal hulle straf oor die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. 17En jy, Jeremia, jy moet vir hulle dít sê:

“ ‘Ek sal aanhou huil, elke dag en nag,

want my volk het baie seer gekry,

hulle kry baie swaar.

18Wanneer ek uitgaan in die veld,

dan sal die dooie liggame daar lê,

die liggame van mense wat in oorlog gesterf het.

En wanneer ek in die stad kom,

dan sal ek sien hoe sterf die mense

omdat hulle nie kos het om te eet nie.

Ja, ook die profete en die *priesters

sal moet weggaan na ’n land

wat hulle nie ken nie.’ ”

19Here, het U waarlik vir Juda gelos?

Haat U vir *Sion?

Hoekom het U ons so hard geslaan

dat ons nie gesond kan word nie?

Wanneer ons dink daar sal vrede wees,

dan kom daar niks wat goed is nie.

Wanneer ons dink ons sal gesond word,

dan gebeur daar dinge wat ons nog banger maak.

20Here, ons weet ons is *skuldig,

en ons *voorvaders was ook skuldig,

want ons almal het sonde gedoen teen U.

21U moet ons nie los nie,

want U is die Here.

U is op hierdie plek Koning,

U moenie dat mense nie meer hierdie plek *eer nie.

U moet onthou U het ’n *verbond gemaak met ons,

U moenie die verbond breek nie.

22Nie een van die *gode van die volke

kan dit laat reën nie, die gode beteken niks,

en die lug kan nie self reën laat val nie.

Net U kan dit doen, Here, ons God,

en ons wag dat U dit doen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index