Search form

Jeremia 3

1Die Here vra: “Wanneer ’n man skei van sy vrou en sy gaan weg van hom en sy trou met ’n ander man, dink julle die eerste man sal dan teruggaan na haar toe? Nee, want dan sal die hele land *ontwy wees. Julle het baie afgode gedien en wil julle nou na My toe terugkom? Nee.

2“Kyk na al die heuwels

waar nie bome groei nie.

Julle het oral afgode gedien.

Julle het langs die paaie

in die woestyn gesit

soos Arabiere wat wag

dat mense verbykom.

Julle het afgode gedien

en slegte dinge gedoen,

en so het julle die land ontwy.

3Ek het nie die winter-reën

en die lente-reën laat kom nie.

maar julle was soos *prostitute

wat nie skaam word nie.

4“Julle sê nog altyd vir My:

“ ‘Ons Vader, U is nog altyd ons goeie vriend.’

5Julle sê Ek moenie aanhou kwaad wees nie,

maar julle hou aan om verkeerd te doen

waar julle kan.”

Julle moet terugkom, kinders wat My verraai het

6Dit was die tyd toe Josia koning was. Die Here het vir my gesê:

“Het jy gesien wat die mense van *Israel gedoen het? Hulle het My *verraai. Hulle het *afgode gaan dien op elke hoë berg en onder elke groen boom. 7Ek het gedink hulle sal na My toe terugkom nadat hulle al hierdie dinge gedoen het, maar hulle het nie teruggekom nie. Die *ontrou mense van *Juda het dit gesien, en hulle het ook afgode gaan dien. 8Ek het die mense van Israel wat My verraai het, weggejaag soos ’n man vir sy vrou ’n *skeibrief gee en haar wegjaag wanneer sy *egbreuk gepleeg het. Maar Ek het gesien die ontrou mense van Juda word nie bang nie. Hulle het ook afgode gaan dien. 9Dit was vir die mense van Israel maklik om afgode te dien. Hulle het die land ontwy en hulle het My gelos om afgode van hout en klip te dien. 10Toe Ek die mense van Israel weggejaag het, het die ontrou mense van Juda gesê hulle kom terug na My toe, maar hulle het dit nie regtig gedoen nie.”

Dit het die Here gesê. 11Die Here het ook vir my gesê: “Maar die mense van Israel wat My verraai het, was minder *skuldig as die ontrou mense van Juda. 12Jy moet na die noorde kyk en jy moet sê: Die Here sê: Kom terug, mense van Israel wat My verraai het. Ek is nie meer kwaad vir julle nie, Ek wil doen wat Ek belowe het toe Ek ’n *verbond gemaak het met julle. Ek sal nie altyd kwaad bly nie. 13Maar een ding moet julle weet: Julle het sonde gedoen, julle was *opstandig teen julle God die Here, julle het *gode van ander volke gedien, oral onder elke groen boom, julle was nie gehoorsaam aan My nie.”

Dit het die Here gesê. 14Die Here sê: “Kinders wat My verraai het, julle moet terugkom, julle behoort aan My. Ek sal uit elke stad een van julle neem, en uit elke familie twee, en Ek sal julle na *Sion bring. 15Ek sal vir julle leiers gee, mense wat is soos Ek graag wil hê hulle moet wees. Hulle sal My ken en hulle sal regeer soos Ek wil hê. 16Wanneer julle in daardie tyd meer word in die land en baie kinders kry, dan sal niemand meer praat oor die *verbondskis van die Here nie. Niemand sal daaraan dink nie, niemand sal vra waar dit is nie, niemand sal ’n ander kis wil maak nie. 17In daardie tyd sal die mense Jerusalem noem ‘Die *troon van die Here,’ en al die volke sal bymekaarkom daar waar die Here is, in Jerusalem. Hulle sal nie meer hardkoppig wees nie, hulle sal nie doen wat hulle sondige harte vir hulle sê nie. 18In daardie tyd sal die volk Juda saam met die volk Israel kom uit die land ver in die noorde. Hulle sal kom na die land wat Ek vir hulle *voorvaders gegee het.”

Julle moet julle harte verander

19Die Here sê:

“Ek wou julle aanneem en julle my kinders maak.

Ek wou vir julle ’n pragtige land gee

wat mooier is as die mooiste lande van ander volke.

Ek het gedink julle sal vir My sê: ‘U is ons Vader,’

Ek het gedink julle sal nie weggaan van My nie.

20Maar, *nageslag van Israel, julle was *ontrou aan My

soos ’n vrou wat ontrou is aan haar man.”

Dit het die Here gesê. 21Hy het gesê:

“Ek het gehoor hoe die mense van *Israel gehuil het

op die heuwels waar nie bome is nie.

Hulle het gebid en gevra dat Ek moet luister,

want hulle het verkeerd gedoen,

hulle het hulle God die Here vergeet.

22Kinders wat My *verraai het,

julle moet terugkom.

Ek sal julle gesond maak

sodat julle My nie weer verraai nie.”

Die mense van Israel sê: “Hier is ons,

ons kom na U toe, want U is ons God die Here!

23Ons was baie besig om *afgode te dien op die berge,

maar dit het ons niks gehelp nie.

Nee, dit is net ons God die Here

wat vir Israel kan red.

24*Baäl, die *god wat nie kan help nie,

het van die begin af ons *voorvaders

se koring-oeste gevat,

en ook hulle skape en bokke,

hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters.

25Ons is baie skaam, elke dag en nag,

want ons het sonde gedoen

teen ons God die Here,

ons en ons *voorvaders,

van die begin af tot nou toe.

Ons was nie gehoorsaam

aan ons God die Here nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index