Search form

Jeremia 38

Amptenare sit vir Jeremia in ’n modderput, en die koning laat hom uithaal

1Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir al die mense gesê het. 2Jeremia het gesê: “Die Here sê: Elkeen wat in hierdie stad bly, sal sterf in die oorlog of van honger of van *pes. Maar elkeen wat na die Galdeërs toe gaan, sal aanhou lewe. Hy sal niks anders hê nie, maar hy sal lewe. 3Die Here sê: Ek gee hierdie stad vir die soldate van die koning van Babel. Hulle sal dit oorwin, dit is seker.”

4Die *amptenare het vir die koning gesê: “Asseblief, hierdie man moet sterf, want hy sê hierdie dinge en dit maak die manne moedeloos wat oorgebly het in die stad. Hy maak ook al die ander mense moedeloos. Hy wil nie hê dit moet goed gaan met hierdie mense nie, hy wil hê dit moet sleg gaan.”

5Koning Sedekia het gesê: “Julle mag met Jeremia doen wat julle wil, ek kan julle nie stop nie.”

6Toe het die amptenare vir Jeremia gevat en hulle het hom met toue in ’n *put laat afsak. Die put het behoort aan Malkihu, die seun van die koning. Daar was nie water in die put nie, daar was modder, en Jeremia het in die modder ingesak. 7Die Kussiet Ebed-Melek, ’n paleisbediende, het gehoor dat hulle vir Jeremia in die put gesit het. Die koning het in die *Benjamin-poort gesit, 8en Ebed-Melek het uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: 9“Meneer die koning, hierdie manne het ’n slegte ding gedoen met Jeremia. Hulle het hom in ’n put gegooi sodat hy daar van honger moet sterf, want daar is nie meer kos in die stad nie.”

10Toe het die koning vir die Kussiet Ebed-Melek gesê: “Jy moet gaan en jy moet drie manne saam met jou neem. Julle moet vir Jeremia uit die put optrek voordat hy sterf.”

11Ebed-Melek het die manne saamgeneem en hulle het ou, stukkende klere uit die stoorkamer van die paleis gevat. Hy het dit met toue laat afsak na Jeremia in die put. 12Hy het vir Jeremia gesê: “Jy moet die lappe onder jou arms sit sodat die toue jou arms nie seermaak nie.”

13Jeremia het dit gedoen, en hulle het hom met die toue uit die put opgetrek. Hy het in die *binneplaas van die wagte gebly.

Die koning praat weer met Jeremia

14Koning Sedekia het die *profeet Jeremia laat haal om na hom toe te kom. Die koning was in die derde ingang na die *tempel. Hy het vir Jeremia gesê: “Ek wil vir jou iets vra, en jy moet alles vir my vertel.”

15Jeremia het vir Sedekia gesê: “As ek alles vir jou vertel, dan sal jy my doodmaak, dit is seker. En as ek vir jou sê wat om te doen, dan sal jy nie na my luister nie.”

16Koning Sedekia het met Jeremia gepraat waar niemand anders dit kon hoor nie, en hy het vir Jeremia belowe: “So seker soos die Here lewe wat vir ons die lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie vir die manne gee wat jou wil doodmaak nie.”

17Toe sê Jeremia vir Sedekia: “Die Here, die God wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: As jy uitgaan na die *amptenare van die koning van Babel, dan sal jy aanhou lewe en dan sal hulle nie hierdie stad verbrand nie. Jy en jou huisgesin sal aanhou lewe. 18Maar as jy nie uitgaan na die amptenare van die koning van Babel nie, dan sal Ek hierdie stad vir die Galdeërs gee, en hulle sal dit verbrand. En jy sal nie kan wegvlug van hulle nie.”

19Koning Sedekia het vir Jeremia gesê: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs weggeloop het om saam met hulle te veg. Die Galdeërs sal my vir daardie Judeërs gee, en hulle sal my aanval en seermaak.”

20Jeremia het gesê: “Die Galdeërs sal jou nie vir daardie mense gee nie. Koning Sedekia, jy moet asseblief luister en doen wat die Here sê. Dan sal dit goed gaan met jou en jy sal aanhou lewe. 21Maar die Here het vir my gewys wat sal gebeur as jy nie wil uitgaan nie: 22Al die vroue wat oorgebly het in die paleis van die koning van *Juda, sal uitgaan na die amptenare van die koning van Babel en hulle sal sê:

“ ‘Jou vriende het jou *bedrieg,

hulle het jou verkeerd laat besluit,

nou sal jou voete wegsak in die modder,

en jou vriende het gevlug.’

23“Al jou vroue en jou seuns sal moet uitgaan na die Galdeërs toe, en jy sal ook nie vry kan wegkom nie. Ja, hulle sal jou vang en vir die koning van Babel gee, en hulle sal hierdie stad verbrand.”

24Sedekia het vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand sê wat ons gepraat het nie, dan sal jy nie sterf nie. 25As die amptenare hoor dat ek met jou gepraat het, dan sal hulle na jou toe kom en hulle sal vir jou sê: ‘Vertel asseblief vir ons wat jy vir die koning gesê het. Jy moet alles vir ons vertel, dan sal ons jou nie doodmaak nie.’ Hulle sal ook vir jou vra wat die koning vir jou gesê het. 26Dan moet jy vir hulle sê: ‘Ek het vir die koning kom soebat dat hy my nie moet terugstuur na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ”

27Al die amptenare het toe na Jeremia toe gekom en vir hom gevra wat hulle gepraat het. Hy het hulle geantwoord soos die koning gesê het, en hulle het hom gelos, want niemand het gehoor wat hy en die koning gepraat het nie. 28Jeremia het in die *binneplaas van die wagte gebly tot die dag toe die Galdeërs Jerusalem oorwin het.

Die Galdeërs oorwin Jerusalem

(Kyk ook Jer 52:1-30; 2 Kon 25:1-12)

Die Galdeërs het Jerusalem oorwin. Dit het só gebeur:

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index