Search form

Jeremia 4

1Die Here sê:

“Mense van Israel, as julle wil terugkom,

dan moet julle terugkom na My toe.

En as julle die vuil afgode wegvat voor My,

dan moet julle nie weer verkeerd doen nie.

2Julle moet belowe en sê:

‘So seker soos die Here lewe,’

maar julle moet regtig wil doen

wat julle sê.

Dan sal die volke bid en vra

dat Ek hulle moet *seën,

en hulle sal My prys.”

3Ja, die Here sê vir die mense van *Juda en Jerusalem:

“Julle moet weer begin,

soos ’n boer wat ’n nuwe land ploeg

en nie koring saai tussen die dorings nie.

4Mense van Juda en Jerusalem,

julle moet bewys dat julle aan My behoort.

Julle laat julle *besny,

maar julle moet ook julle harte verander.

As julle dit nie doen nie, dan sal Ek julle straf

oor al die slegte dinge wat julle gedoen het.

Die straf sal wees soos ’n vuur wat aanhou brand.”

Dit sal baie sleg gaan met die mense van Juda en Jerusalem

5Praat met die mense van *Juda en Jerusalem,

blaas die *ramshoring in die land, skree hard en sê:

“Kom bymekaar, ons moet gaan na die stede wat sterk mure het.

6Hou ’n vlag op in die lug, na *Sion toe,

soek plek om weg te kruip, moenie staan nie,

want Ek laat vyande kom uit die noorde,

en dit sal baie sleg gaan met julle.

7Die vyande wat volke doodmaak, kom,

hulle kom soos ’n leeu wat uit ’n bos kom,

hulle kom om julle land leeg te maak,

hulle sal julle stede *verwoes, daar sal nie mense woon nie.”

8Daarom moet julle *rouklere aantrek, julle moet huil en treur,

want die Here sal kwaad bly vir ons.

9Die Here het gesê: “Daardie dag

sal die koning en die *amptenare bang wees,

die *priesters sal nie weet wat om te doen nie,

die *profete sal nie weet wat om te sê nie.”

10Ek, Jeremia, het gesê: “Ag, Here, my Here,

U het hierdie volk

en die mense van Jerusalem *bedrieg.

U het gesê hulle sal vrede hê,

maar die swaarde van die vyande

is al klaar teen ons keel.”

11Die Here sê: “In daardie tyd sal mense vir hierdie volk en vir die mense van Jerusalem sê: ‘Daar kom ’n warm wind oor die heuwels waar nie plante groei nie, dit kom deur die woestyn op die pad na my volk toe, maar dit is nie ’n wind wat koring op die *dorsvloer sal skoonmaak nie.’ 12Die stormwind is die vyande, hulle kom na My toe, en nou sal Ek ook sê hoe Ek my volk sal straf.

13“Die vyande kom aan soos ’n wolk, hulle *oorlogkarre is soos ’n stormwind, hulle perde is vinniger as arende.”

Die mense van Jerusalem sê: “Dit gaan sleg met ons, die vyande het ons verwoes.”

14Die Here sê:

“Mense van Jerusalem,

julle moet die sonde uit julle harte uitwas

sodat Ek julle kan red.

Hoe lank wil julle aanhou om slegte planne

te maak?

15Want mense skree uit die stad Dan,

en uit die Efraim-berge vertel hulle

van die vyande wat kom.

16Julle moet vir die mense in Jerusalem sê:

Die vyande is hier,

hulle kom uit ’n ver land om oorlog te maak

teen die stede van Juda.

17Hulle is rondom Jerusalem soos mense

wat ’n koringland oppas,

want die mense van Jerusalem

was *opstandig teen My.”

Dit het die Here gesê. 18Hy sê:

“Hierdie dinge gebeur met julle,

want julle het verkeerd gedoen.

Dit sal sleg gaan met julle, baie sleg,

dit sal vir julle voel soos wanneer ’n swaard

deur julle hart steek.”

19Die mense van Juda sê:

“Wanneer ons hoor die ramshoring blaas

en die vyande skree,

dan buig ons krom van die pyn,

en ons harte klop wild,

ons kan nie stil wees nie.

20Ons hoor hulle breek al die stede af,

eers die een stad, en dan die ander stad,

hulle verwoes die hele land.

Ons het skielik nie meer plek

waar ons kan woon nie.

21Hoe lank sal ons nog sien hoe die vyande

hulle vlag swaai,

hoe lank sal ons nog die ramshoring hoor blaas?”

22Die Here sê:

“Dit gebeur omdat my volk *dwaas is,

hulle ken My nie,

Hulle is dom kinders, hulle is nie *verstandig nie.

Hulle weet baie goed om sonde te doen,

hulle weet nie hoe om goed te doen nie.”

23Ek het na die land gekyk, en dit was leeg,

niemand het daar gewoon nie.

Ek het na die lug gekyk, en die sterre

het nie geskyn nie.

24Ek het na die berge gekyk,

en hulle het almal gebewe

en heen en weer geskud.

25Ek het gekyk,

en daar was nie mense nie,

en al die voëls het weggevlieg.

26Ek het gekyk,

en waar vrugtebome gegroei het,

was nou ’n woestyn,

en al die stede in die land

was verwoes.

Die Here het dit gedoen,

want Hy is kwaad.

27Ja, die Here sê:

“Die vyande sal die hele land verwoes,

maar nie alles nie.

28Ek het gesê wat Ek besluit het,

en Ek sal dit doen.

Daarom sal die plante in die land

droog word en verlep,

en die lug daar bo sal swart word.

29Al die mense in die stad sal vlug

wanneer hulle hoor dat die soldate kom,

die soldate op perde en die soldate met pyl en boog.

Die mense in die stad sal in die bosse in vlug

en teen die rotse probeer opklim.

Daar sal niemand oorbly in die stad nie,

niemand sal daar woon nie.

30En jy, Jerusalem, stad wat verwoes is,

hoekom maak jy soos ’n vrou

wat rooi klere aantrek en goue juwele aansit

en oogverf aan haar oë smeer?

Jy het jou mooigemaak, maar dit help niks.

Jy het probeer om vriende te maak,

maar jou vriende haat jou nou

en hulle wil jou doodmaak.

31Ja, Ek hoor iemand skree soos ’n vrou

wat haar eerste baba kry.

Dit is Jerusalem wat nie asem kry nie,

wat haar hande uitsteek en sê:

‘Dit gaan sleg met my,

ek kan niks meer doen nie,

hulle vermoor my.’ ”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index