Search form

Jeremia 43

1Jeremia het vir al die mense alles gesê wat hulle God gesê het, hy het die hele boodskap van die Here vir hulle vertel. Maar toe hy dit klaar gesê het, 2het Asarja en Joganan en ander onbeskofte manne vir hom gesê: “Jy vertel leuens. Ons God die Here het jou nie gestuur om vir ons te sê ons moenie na Egipte gaan om daar *vreemdelinge te wees nie. 3Nee, dit is Baruk seun van Nerija wat gesê het jy moet téén ons wees. Hy wil hê jy moet die Galdeërs help om ons te vang en dood te maak of om ons weg te vat na Babel.”

4Joganan en al die offisiere en al die ander mense was nie gehoorsaam aan die Here nie, hulle wou nie in die land Juda bly nie. 5Hulle het almal gevat wat oorgebly het, almal wat teruggekom het van die ander volke na wie toe hulle gevlug het en wat in Juda kom woon het. 6Hulle het die mans gevat en die vroue en kinders en oumense, en die prinsesse en almal wat Nebusaradan, die *hoof-offisier van die Galdeërs, by Gedalja laat bly het, en ook die profeet Jeremia en Baruk, seun van Nerija. 7Hulle het na Egipte gegaan en by die stad Tagpanges aangekom. Hulle was nie gehoorsaam aan die Here nie.

Nebukadnesar sal oorlog maak teen die mense van Egipte

8In die stad Tagpanges het Jeremia gehoor die Here sê vir hom: 9“Jy moet groot klippe neem en jy moet hulle wegsteek in die klei onder die baksteenvloer voor die gebou van die *farao in Tagpanges. Die Judeërs moet sien wanneer jy dit doen. 10Dan moet jy vir die Judeërs sê: Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Luister na My, Ek sal my *dienaar koning Nebukadnesar van Babel laat kom en Ek sal sy *troon neersit bo-op hierdie klippe wat Ek weggesteek het, en hy sal sy tent daar bo-op die klippe opslaan. 11Hy sal kom en hy sal die mense van Egipte aanval. Party van hulle sal sterf van *pes, hy sal party van hulle vang en wegvat, hy sal party van hulle doodmaak. 12En Ek sal ’n vuur aansteek in die *tempels van die *gode van Egipte. Nebukadnesar sal die tempels verbrand en hy sal die gode wegvat. Hy sal die mense van Egipte vang soos ’n skaapwagter luise in sy klere vang, en hy sal weggaan, niemand sal hom keer nie. 13Nebukadnesar sal die *klip-pale van die stad Bet-Semes in Egipte breek, en hy sal die tempels van die gode van Egipte verbrand.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index