Search form

Job 14

1’n Mens, die kind van ’n vrou,

lewe nie lank nie,

en dit gaan nooit heeltemal goed

met hom nie.

2Hy is soos ’n blom wat oopgaan

en wat dan droog word en verlep,

hy is soos ’n skaduwee wat verbykom

en nie stilstaan nie.

3U kyk na so ’n mens,

U wil so ’n mens voor die hof bring.

4Wanneer ’n mens *onrein is,

dan is hy onrein, niemand kan dit verander nie.

5Sy tyd om te lewe, is kort,

net U weet hoe lank hy sal lewe.

U het besluit hoe lank hy sal lewe,

en hy sal nie langer lewe

as daardie tyd nie.

6U moet wegkyk en U moet die mens los

totdat hy soos ’n *dagloner klaar is

met die werk wat hy moet doen.

7Wanneer iemand ’n boom afgekap het,

dan kan ’n mens hoop dat die boom

weer sal groei en nie sal doodgaan nie.

8Sy wortels in die grond word oud,

dit lyk of hulle droog en dood is,

9maar wanneer die wortels water kry,

dan groei die boom weer,

hy kry nuwe takkies.

10Maar ’n mens word swak, hy sterf

en hy is nie meer daar nie.

11Water raak weg uit die see,

en ’n rivier word droog.

12So sterf ’n mens en hy lewe nie weer nie,

hy word nie weer wakker nie,

niemand sal hom wakker maak nie,

so lank soos wat die hemel daar is.

13Ek wens dat U my wil wegsteek

in die *doderyk

en dat U my daar wil hou

totdat U nie meer kwaad is nie.

Ek wens dat U wil besluit hoe lank

ek daar moet bly

en dat U dan weer aan my sal dink.

14Maar kan ’n mens weer lewe

nadat hy gesterf het?

As dit kan gebeur, dan sal ek wag

totdat dit weer goed gaan met my,

ek sal aanhou wag terwyl ek

swaarkry in hierdie lewe.

15Dan sal ek roep, en U sal antwoord.

U sal graag vir my weer wil sien,

vir my wat U gemaak het.

16Ja, dan sal U kyk hoe ek lewe,

maar U sal nie my sonde onthou nie.

17U sal vergeet dat ek *opstandig was,

U sal maak of U nie weet dat ek

verkeerd gedoen het nie.

18Maar nee, berge val

en hulle breek stukkend,

rotse gaan weg uit hulle plek,

19water vloei oor klippe

en skuur dit weg,

baie water spoel die grond weg.

So laat U die dinge verdwyn

wat ’n mens graag wil hê.

20U vat die mens weg vir altyd, en hy gaan,

hy lyk nie meer soos hy gelyk het nie,

U stuur hom weg.

21Mense respekteer sy seuns,

maar hy weet dit nie.

Of mense dink sy seuns is nie belangrik nie,

en hy sien dit nie.

22Hy voel net die pyn in sy liggaam

en hy huil en treur oor homself.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index