Search form

Job 30

Job sê niemand respekteer die mense wat nou vir hom lag nie

1Job het gesê:

“Maar nou?

Mense lag vir my,

mense wat jonger is as ek,

mense wie se pa’s ek nie laat sit het

by die honde wat my skape opgepas het nie,

2want hulle kon niks doen vir my nie,

hulle was te swak om vir my te werk.

3Daardie mense is so maer en honger

dat hulle alles eet wat hulle kan kry

in die droë, wilde woestyn.

4Hulle pluk soutbos en die blare van bossies,

hulle grawe die wortels van besembos uit

om vuur te maak.

5Mense jaag hulle weg en skree vir hulle

soos hulle vir ’n dief skree.

6Hulle moet woon in die walle van riviere,

in gate in die grond, tussen rotse.

7’n Mens hoor dat hulle skree van honger,

soos *wildedonkies tussen die bossies,

hulle sit styf teen mekaar onder die doringbosse.

8Hulle het min verstand,

niemand respekteer hulle nie,

mense slaan hulle en jaag hulle weg.”

Job sê dat mense hom spot en aanval

9“En nou spot hulle my

en hulle maak grappe oor my.

10Hulle wil nie naby my kom nie,

hulle bly ver weg, en as hulle by my kom,

dan spoeg hulle in my gesig.

11God het my gemaak soos

’n *boogskutter met ’n stukkende boog,

Hy het my *verneder,

mense wat my sien,

wys dat hulle my nie meer respekteer nie.

12Mense val my aan

en hulle jaag my,

hulle wil my doodmaak.

13Hulle keer wanneer ek

wil weghardloop.

Niemand help hulle nie,

maar dit is vir hulle lekker

om my naby die dood te bring.

14Hulle hardloop na my toe

soos soldate wat deur

die stukkende muur

van ’n stad hardloop,

hulle kom vinnig na my toe

deur die hope klippe.

15Ek is ’n bang mens,

niemand respekteer my nie,

ek kan nie meer hoop

dat dit beter sal gaan nie.”

Job sê God val hom aan

16“En nou is my lewe amper verby,

ek kry elke dag baie swaar.

17Elke nag is alles in my seer,

die pyn hou nooit op nie.

18God gryp my klere

met sy groot krag,

Hy gryp my aan die kraag

van my rok

19en Hy gooi my in die modder,

ek het geword soos stof en *as.

20O God, ek het geroep na U

en ek het gevra dat U my moet help,

maar U het my nie geantwoord nie.

Ek staan hier, maar U kyk net na my,

U doen niks.

21U het wreed geword teen my,

U jaag my met u sterk hand.

22U tel my op en U gooi my

vir die wind,

U gee my vir die stormwind

om my heen en weer te ruk.

23Ja, ek weet dat U my

na die dood wil bring,

na die plek waarnatoe

almal moet gaan.

24Maar ek het mense altyd gehelp

wanneer hulle swaarkry en skree

en vra dat iemand hulle moet help.

25Ek het gehuil saam met die mense

wat ’n moeilike lewe gehad het,

ek was altyd jammer vir arm mense.

26Ek het toe gedink

dat dit goed sal gaan met my,

maar dit het sleg gegaan,

ek het gedink dat die lig

sal skyn oor my,

maar die donker het gekom.”

Job vra dat iemand hom moet help, maar niemand doen dit nie

27“Alles in my kook,

dit word nie stil nie,

dit gaan elke dag slegter.

28Ek lewe elke dag in die donker,

die son skyn nie op my nie.

Ek staan in die *volksvergadering

en ek vra dat iemand my moet help.

29Ek huil saam met die jakkalse,

ek is so alleen soos die volstruise.

30My vel het swart geword,

die bene in my is warm van die koors.

31As ek op my *lier speel,

dan doen ek dit om ’n *klaaglied te sing,

as ek die *fluit blaas,

dan huil ek saam met die fluit.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index