Search form

Jona 1

Die Here stuur vir Jona na Nineve

1Die Here het met Jona gepraat. Jona was die seun van Amittai. Die Here het gesê: 2“Jy moet gereedmaak, jy moet na die groot stad *Nineve gaan. Jy moet met daardie mense gaan praat en vir hulle sê Ek sal hulle straf, want Ek het gesien hulle doen baie sonde.”

Jona vlug

3Jona het gereedgemaak, maar hy wou na die land Tarsis gaan. Hy wou wegvlug van die Here. Hy het eers na die stad Joppe gegaan. Daar was ’n skip wat na Tarsis sou gaan. Hy het betaal om saam te ry en hy het op die skip geklim. Hy wou saam met die ander mense na Tarsis gaan. Hy wou wegvlug van die Here.

Die matrose gooi vir Jona in die see

4Die Here het ’n baie sterk wind oor die see gestuur. Daar het ’n groot storm op die see gekom, en die skip het amper gebreek. 5Die matrose op die skip het bang geword. Elkeen het tot sy *god gebid en gevra sy god moet hom help. Die matrose het die goed wat op die skip was, afgegooi in die see om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip. Hy het daar gaan lê en hy het aan die slaap geraak. 6Die kaptein van die skip het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, bid tot jou God. Miskien sal Hy aan ons dink, en dan sal ons nie sterf nie.”

7Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons gekom het.”

Hulle trek toe lootjies, en die lootjies wys dit is Jona se skuld. 8Die matrose het vir Jona gevra: “Is dit jou skuld dat hierdie storm oor ons gekom het? Watter soort werk doen jy? Van waar kom jy? Uit watter land, uit watter volk kom jy?”

9Jona het vir hulle gesê: “Ek is ’n *Hebreër en ek dien die Here, die God van die hemel. Hy het die see en die land gemaak.”

10Die matrose het baie bang geword en hulle het gebewe. Hulle het vir Jona gesê: “Hoekom het jy dit gedoen?”

Hulle het geweet hy vlug weg van die Here, want hy het dit voorheen vir hulle vertel. 11Die branders in die see het groter geword, en die matrose het vir Jona gevra: “Wat moet ons doen met jou sodat die storm op die see stil kan word?”

12Jona het vir hulle gesê: “Tel my op en gooi my in die see, dan sal die see stil word rondom julle. Ek weet dit is my skuld dat hierdie groot storm oor julle gekom het.”

13Die matrose het hard geroei en hulle het eers probeer om terug te kom by die land, maar hulle kon nie, want die branders van die see het groter en groter geword rondom hulle. 14Hulle het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, U moet ons asseblief nie laat sterf omdat hierdie een man verkeerd gedoen het nie. Help ons ook dat ons nie iemand doodmaak wat *onskuldig is nie. U is die Here, U kan doen wat U wil doen.”

15Hulle het Jona opgetel en hulle het hom in die see gegooi. Toe het die see kalm geword en die branders was nie meer groot nie. 16Die matrose het baie bang geword vir die Here. Hulle het vir die Here ’n *offer gebring en hulle het belowe om nog meer offers vir die Here te gee.

17Die Here het ’n groot vis gestuur om vir Jona in te sluk. Jona was drie dae en drie nagte binne-in die vis.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index