Search form

Josua 1

Die Here praat met Josua

1Moses, die *dienaar van die Here, het gesterf. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk. Die Here het vir Josua gesê: 2“My dienaar Moses is dood. Daarom moet jy nou gereedmaak, jy en hierdie hele volk, en julle moet oor die Jordaan-rivier gaan na die land wat Ek vir hulle, die Israeliete, gee. 3Ek het dit vir Moses belowe, en daarom sal Ek vir julle elke plek gee waar julle sal kom, 4van die woestyn en die Libanon-berg tot by die groot rivier, die Eufraat. Die hele land van die Hetiete tot by die *Groot See in die weste sal julle land word. 5So lank soos jy lewe, sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees, soos Ek by Moses was. Ek sal jou nie los nie, Ek sal altyd by jou wees. 6Jy moet sterk en dapper wees, want jý sal hierdie volk lei om die land te vat wat Ek vir hulle *voorvaders belowe het. 7Ja, jy moet sterk en dapper wees, jy moet seker maak dat jy alles doen wat die wette sê, die wette wat my dienaar Moses vir jou gegee het. Jy moet presies so doen, dan sal jy slaag met alles wat jy doen. 8Jy moet aanhou om te lees wat in hierdie wetboek staan, jy moet elke dag en elke nag daaroor dink, dan sal jy seker maak dat jy alles doen wat daarin geskryf is. Jy sal kan doen wat jy moet doen en jy sal slaag. 9Ek het vir jou gesê jy moet sterk en dapper wees. Jy moenie bang wees nie, jy moet vir niks skrik nie, want jou God die Here sal by jou wees, oral waar jy gaan.”

Josua praat met die voormanne van die volk en met die stamme wat oos van die Jordaan-rivier sal woon

10Josua het vir die voormanne van die volk gesê: 11“Julle moet deur die kamp gaan en julle moet vir die mense sê: ‘Julle moet vir julle padkos gereedmaak, want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan-rivier gaan. Julle sal die land vat wat julle God die Here vir julle gee.’ ”

12Josua het vir die *stamme Ruben en Gad en vir die halwe *Manasse-stam gesê: 13-14“Julle moet onthou wat Moses, die *dienaar van die Here, vir julle gesê het. Hy het gesê: ‘Julle God die Here het julle vyande oorwin en Hy sal vir julle hierdie grond oos van die Jordaan-rivier gee.’ Julle vroue en kinders en oumense en julle diere mag hier bly, maar almal van julle wat oorlog kan maak, moet voor die ander Israeliete oor die Jordaan-rivier gaan en julle moet hulle gaan help. 15Wanneer die Here die vyande van die ander Israeliete ook oorwin het en wanneer die ander Israeliete die land gevat het wat julle God die Here vir hulle gee, dan mag julle terugkom na julle eie grond wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle oos van die Jordaan-rivier gegee het.”

16Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir Josua gesê: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waar jy ons stuur. 17Ons sal luister na jou, soos ons geluister het na Moses. Ons is seker dat die Here by jou sal wees, soos Hy by Moses was. 18Elke man wat nie na jou wil luister nie en wat nie wil doen wat jy sê nie, moet sterf. Maar jy moet sterk en dapper wees.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index