Search form

Josua 16

Die grond van die Josef-stamme

1Hulle het lootjies getrek en hulle het vir die *nageslag van Josef die grond gegee wat begin by die Jordaan-rivier naby Jerigo, oos van die Jerigo-fonteine. Die grens gaan van Jerigo deur die woestyn na die Bet-El-berge, 2en van Bet-El na die stad Lus, en dan verby die grens van die Arkiete na die stad Atarot. 3Daarna gaan die grens wes na die grens van die Jafletiete tot teen die grens van die stad Bet-Goron-Onder en die stad Geser, en dan tot teen die see. 4Dit is die grond wat die nageslag van Josef, die *stamme Manasse en Efraim, gekry het.

Die grond van die Efraim-stam

5Die grens van die grond van die families in die *Efraim-stam gaan van die stad Atrot-Addar in die ooste na die stad Bet-Goron-Bo 6en dan verder tot teen die see. Van die stad Mikmetat in die noorde draai die grens verby die stad Taänat-Silo na die stad Janoag in die ooste. 7Van Janoag gaan die grens af na die stede Atarot en Naära, en dan na Jerigo en tot teen die Jordaan-rivier. 8Van die stad Tappuag gaan die grens wes in die Kana-vallei tot teen die see. Dit is die grond van die families in die Efraim-stam. 9Die Efraim-mense het ook stede gekry op die grond van die Manasse-mense, hulle het die stede en die dorpies daar naby gekry. 10Die Efraim-mense het nie die Kanaäniete oorwin en weggejaag wat in die stad Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete woon nou nog tussen die Efraim-mense, maar hulle moet vir die Efraim-mense werk.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index