Search form

Josua 22

Die manne van die stamme wat oos van die Jordaan-rivier woon, gaan terug

1Daarna het Josua die manne van die *stamme Ruben, Gad en die halwe *Manasse-stam geroep 2en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses, die *dienaar van die Here, vir julle gesê het en julle was altyd gehoorsaam aan my. 3Julle het hierdie hele lang tyd tot vandag toe nie die ander Israeliete gelos nie en julle het gedoen wat die Here wil hê. 4En nou het julle God die Here die ander Israeliete laat wen teen hulle vyande, Hy het dit vir hulle belowe. Gaan nou terug na julle woonplekke in die land wat aan julle behoort, die land oos van die Jordaan-rivier. Dit is die land wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het. 5Maar onthou, julle moet seker maak dat julle doen wat die *gebooie en die wette sê wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het. Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet doen wat sy gebooie sê. Julle moet aanhou om Hom te dien met julle hele hart, met julle hele lewe.”

6Josua het hulle *geseën en hy het hulle laat gaan, en hulle het na hulle woonplekke gegaan. 7Moses het vir die een helfte van die Manasse-stam grond gegee in die land Basan, en Josua het vir die ander helfte van die stam grond gegee by die ander Israeliete wes van die Jordaan-rivier. Josua het hulle laat gaan na hulle woonplekke en hy het hulle geseën. 8Hy het vir hulle gesê: “Julle mag teruggaan na julle woonplekke met die baie goed, die groot troppe beeste, skape en bokke, die silwer en goud en *brons en yster, en die baie klere wat julle van die vyande gevat het. Maar julle moet vir die ander mense in julle stamme ook van daardie goed gee.”

Die altaar by die Jordaan-rivier

9Die manne van die *stamme Ruben en Gad en die halwe *Manasse-stam het toe teruggegaan. Hulle het weggegaan van die ander Israeliete by die stad Silo in die land Kanaän. Hulle het na die land Gilead gegaan, die land wat aan hulle behoort. Die Here het vir Moses gesê hulle moet daardie land vat. 10Hulle het by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier gekom, dit was in die land Kanaän. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het daar ’n *altaar gebou, ’n groot altaar. 11Die ander Israeliete het gehoor dat die manne van die twee en ’n halwe stamme ’n altaar gebou het langs die grens van die land Kanaän, by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier. Dit was langs die ander Israeliete se grond. 12Toe die Israeliete dit hoor, het die hele *volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en ’n halwe stamme. 13Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van *die priester Eleasar gestuur na die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead. 14Tien leiers het saam met hom gegaan, ’n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van ’n groep families van Israel. 15Toe hulle by die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead kom, het hulle vir daardie stamme gesê: 16“Die volksvergadering van die Here vra: Hoekom is julle *ontrou aan die God van Israel? Julle het opgehou om die Here te dien toe julle vir julle ’n altaar gebou het. Julle is nou *opstandig teen die Here. 17*Ons het voorheen by die stad Peor groot sonde gedoen en die Here het die volk swaar gestraf, maar tot nou toe het ons nog nie weer *rein geword nie. 18As julle vandag ophou om die Here te dien en as julle opstandig is teen Hom, dan sal Hy môre kwaad wees vir ál die Israeliete. 19As die land wat aan julle behoort, *onrein is, dan moet julle kom na die land wat aan die Here self behoort, die land waar sy *tempel-tent is, en julle moet vir julle grond vat tussen ons. Maar julle moenie opstandig wees teen die Here en teen ons nie. Julle moenie vir julle ’n eie altaar bou wat nie die altaar van ons God die Here is nie. 20*Akan seun van Serag was ontrou, hy het van die goed gevat wat aan die Here *gewy was, en die Here het nie net vir hóm laat sterf oor sy sonde nie, die Here was kwaad vir ál die Israeliete.”

21Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê: 22“Die Here is die God van die *gode, die Here is die God van die gode! Hy weet, en julle moet ook weet hoekom ons dit gedoen het. Ons het dit nie gedoen omdat ons opstandig wil wees teen die Here of omdat ons ontrou wil wees aan Hom nie. As julle dink dat ons verkeerd gedoen het, dan moet julle ons vandag doodmaak. 23Die Here self sal ons straf as ons vir ons ’n altaar gebou het om op te hou om die Here te dien en om *brand-offers, *koring-offers en *ete-offers op die altaar te bring. 24Nee, ons het die altaar gebou omdat ons bekommerd was. Ons het gedink julle kinders sal eendag vir ons kinders sê: ‘Julle behoort nie aan die Here, die God van Israel, nie. 25Die Here het gesê daar moet ’n grens wees tussen ons en julle, dit is die Jordaan-rivier, julle behoort nie aan die Here nie.’ Dan sal julle kinders miskien ons kinders laat ophou om die Here te dien. 26Ons het toe gedink ons moet vir ons ’n altaar bou. Ons wil nie daarop brand-offers en ander *offers bring nie, 27die altaar moet ’n *getuie wees tussen ons en julle en tussen ons *nageslag en julle nageslag. Die altaar moet die getuie wees dat ons sal aanhou om die Here by sy altaar te dien met ons brand-offers, ons ander offers en ons ete-offers. Dan sal julle nageslag nie eendag vir ons nageslag kan sê: ‘Julle behoort nie aan die Here nie.’ 28Ons het gedink as julle nageslag dit eendag vir ons nageslag sê, dan kan ons nageslag sê: ‘Kyk, daar is die altaar wat ons *voorvaders gemaak het, dit lyk soos die Here se altaar. Maar ons gebruik nie die altaar om brand-offers en ander offers te offer nie, die altaar is die getuie tussen ons en julle.’ 29Ons wil glad nie opstandig wees teen die Here nie, en ons wil nie ophou om Hom te dien nie. Die altaar van ons God die Here is voor sy tempel-tent, en ons het nie ’n ander altaar gebou vir brand-offers en koring-offers nie.”

30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die familie-groepe van Israel, hoor wat sê die mense van Ruben, Gad en Manasse, was hulle tevrede. 31Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou dat die Here by ons is, want julle was nie ontrou aan die Here toe julle die altaar gebou het nie. Julle het gekeer sodat die Here nie die Israeliete straf nie.”

32Pinehas seun van die priester Eleasar en die leiers het weggegaan van die stamme in die land Gilead. Hulle het na die ander Israeliete toe gegaan en hulle het vir die ander Israeliete gesê wat hulle gehoor het. 33Die Israeliete was toe tevrede en hulle het God geprys. Hulle het besluit om nie oorlog te maak teen daardie stamme nie en om nie die land te *verwoes waar hulle woon nie. 34Die mense van Ruben en Gad het vir die altaar ’n naam gegee en gesê: “Die altaar is die getuie tussen ons, dit sê die Here is God.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index