Search form

Josua 6

Die Israeliete oorwin en verwoes die stad Jerigo

1Die stad Jerigo was toe. Die *poorte was gesluit sodat die Israeliete nie kon inkom nie. Niemand het uit die stad gegaan nie en niemand het ingekom nie. 2Die Here het vir Josua gesê: “Luister na My, Ek gee Jerigo vir jou, en ook sy koning en sy soldate, julle sal hulle oorwin. 3Julle moet om die stad loop, almal wat kan oorlog maak. Julle moet ses dae lank elke dag een maal om die stad loop. 4Sewe *priesters moet elkeen ’n *ramshoring dra voor die *kis. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters die ramshorings blaas. 5Wanneer die priesters die ramshorings lank aanmekaar blaas, en julle hoor dit, dan moet al die manne hard skree om die oorlog te begin. Die muur van die stad sal dan omval, en die manne moet opklim, elkeen moet reguit vorentoe gaan.”

6Josua seun van Nun het die priesters geroep en hy het vir hulle gesê: “Julle moet die *verbondskis dra, en sewe priesters moet elkeen ’n ramshoring dra en hulle moet voor die kis van die Here loop.”

7Josua het vir die volk gesê: “Julle moet begin loop. Julle moet om die stad gaan, en die manne wat wapens het, moet voor die kis van die Here loop.”

8Dit het gebeur soos Josua vir die mense gesê het. Die sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring gedra het, het voor die kis geloop en hulle het die ramshorings geblaas. Agter hulle het die priesters geloop wat die verbondskis van die Here gedra het. 9Die manne wat wapens gehad het, het voor die priesters geloop, en die ander mense het agter die kis geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas. 10Josua het vir die manne gesê: “Julle moenie skree nie, julle moet stilbly. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voordat ek vir julle sê nie, dan moet julle hard skree.”

11Die priesters het die kis van die Here een maal om die stad gedra, en toe hulle by die kamp kom, het hulle die nag daar gebly. 12Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan, en die priesters het die kis van die Here opgetel en gedra. 13Die sewe priesters het elkeen ’n ramshoring gedra en hulle het voor die kis van die Here geloop. Hulle het aangehou om die ramshorings te blaas. Die manne wat wapens gehad het, het voor hulle geloop, en die ander mense het agter die kis van die Here geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas. 14Hulle het op die tweede dag een maal om die stad geloop en toe het hulle teruggegaan na die kamp. Hulle het dit ses dae lank elke dag gedoen. 15Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop. 16En toe die priesters die sewende maal die ramshorings blaas, het Josua vir die manne gesê: “Julle moet skree om die oorlog te begin, want die Here sal julle laat wen teen die mense van hierdie stad. 17Maar julle moet die stad en alles wat daarin is, aan die Here *wy en julle moet dit *verwoes. Net die *prostituut Ragab en almal by haar in haar huis mag aanhou lewe, want sy het ons *boodskappers weggesteek. 18En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here *gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp. 19Die silwer en die goud en die goed van *brons en yster is aan die Here gewy, julle moet dit sit in die stoorkamer van die Here.”

20Die manne het geskree om die oorlog te begin, en hulle het die ramshorings geblaas. Toe die manne hoor die ramshorings blaas, het hulle hard geskree om die oorlog te begin. Die muur van die stad het omgeval, en die manne het opgeklim in die stad, elkeen het reguit vorentoe in die stad ingegaan en hulle het die stad oorwin. 21Hulle het almal en alles in die stad doodgemaak, mans en vroue, jongmense en oumense, beeste, skape en donkies. 22Josua het vir die twee mans wat gaan kyk het hoe die land is, gesê: “Gaan na die huis van die prostituut en bring haar en al haar mense uit. Doen dit, want julle het dit vir haar belowe.”

23Die jongmanne wat gaan kyk het hoe die land is, het gegaan en hulle het vir Ragab, haar ouers, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring. Die jongmanne het hulle buite die kamp van die Israeliete laat bly. 24Die manne het die stad en alles wat daarin was, verbrand. Hulle het net die silwer en die goud en die goed van brons en yster in die stoorkamer van die *tempel gesit. 25Josua het vir Ragab en haar familie, al haar mense, laat aanhou lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar *nageslag woon nou nog hier, want sy het die boodskappers weggesteek wat Josua gestuur het om te kyk hoe die land is.

26In daardie tyd het Josua met die mense gepraat en hy het gesê die Here is die *getuie. Josua het gesê: “Ek *vervloek die man wat probeer om hierdie stad Jerigo weer te bou. Sy oudste seun sal sterf wanneer hy die *fondamente van die stad bou, en sy jongste seun sal sterf wanneer hy die poorte se deure insit.”

27Die Here was by Josua, en al die mense in die land het geweet van hom.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index