Search form

Rigters 11

1Daar was ’n man in Gilead, sy naam was Jefta. Hy was iemand wat goed oorlog kon maak, maar hy was die seun van ’n *prostituut. Sy pa se naam was Gilead. 2Gilead se vrou het ook kinders gekry, en toe haar kinders groot was, het hulle vir Jefta weggejaag. Hulle het vir hom gesê: “Jy is ’n ander vrou se kind, jy kan nie saam met ons van pa se goed *erf nie.”

3Jefta het toe weggegaan van sy broers en hy het in die land Tob gaan woon. Mense wat nie grond of werk gehad het nie, het by Jefta gaan woon en hulle het oral saam met hom gegaan. 4Toe die Ammoniete later weer kom oorlog maak teen die Israeliete, 5het die leiers van die Gilead-mense vir Jefta gaan haal in die land Tob. 6Hulle het vir Jefta gesê: “Kom, jy moet ons leier wees, ons wil oorlog maak teen die Ammoniete.”

7Maar Jefta het vir die leiers van die Gilead-mense gesê: “Dit is júlle wat nie van my gehou het nie, julle het my weggejaag uit my pa se huis. Hoekom kom julle nou na my toe as dit sleg gaan met julle?”

8Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Dit is waar wat jy sê, maar ons het nou na jou toe gekom om te vra jy moet saam met ons gaan en oorlog maak teen die Ammoniete. As jy dit doen, dan sal jy die hoof word van al die mense wat in Gilead woon.”

9Toe sê Jefta vir die leiers van die Gilead-mense: “Goed, as julle wil hê ek moet terugkom om oorlog te maak teen die Ammoniete, en die Here laat my wen teen hulle, dan sal ek julle hoof wees.”

10Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons sê, Hy is die *getuie. Ons sal doen wat jy sê.”

11Jefta het saam met die leiers van die Gilead-mense gegaan, en die manne het hom hulle hoof en leier gemaak. Jefta het in die *tempel in Mispa belowe hy sal hulle leier wees. 12Daarna het hy *boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om vir hom te vra: “Wat is die probleem tussen ons? Hoekom het jy gekom om oorlog te maak in my land?”

13Die koning van die Ammoniete het vir Jefta se boodskappers gesê: “Sê vir Jefta: Ek het gekom om oorlog te maak omdat die Israeliete my land gevat het toe hulle uit Egipte gekom het. Dit is die grond tussen die Arnon-rivier en die Jabbok-rivier tot teen die Jordaan-rivier. Gee die grond terug, dan sal daar vrede wees tussen ons.”

14Jefta het weer boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete 15en vir hom gesê: “Die Israeliete het nie die land van die Moabiete en die land van die Ammoniete gevat nie. 16Wat gebeur het, is dit: Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle deur die woestyn gegaan tot by die Riet-see en toe het hulle by die stad Kades gekom. 17Die Israeliete het boodskappers gestuur na die koning van Edom en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan.’ Maar die koning van Edom wou nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Hulle het ook vir die koning van Moab ’n boodskap gestuur, maar hy wou ook nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Die Israeliete het toe in Kades gebly, 18en daarna het hulle om die land Edom en om die land Moab gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan oos van die land Moab, anderkant die Arnon-rivier. Hulle het nie oor die grens van die land Moab gegaan nie, want die Arnon-rivier was die grens. 19Die Israeliete het toe boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan na ons eie plek toe.’ 20Maar Sihon het nie die Israeliete *vertrou nie. Hy wou hulle nie deur sy land laat gaan nie. Hy het al sy manne bymekaargemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Jahas. Toe het hulle begin oorlog maak teen die Israeliete. 21Die Here, die God van Israel, het die Israeliete laat wen teen Sihon en al sy manne. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die hele land gevat van die Amoriete wat toe daar gewoon het. 22Hulle het die hele land van die Amoriete gevat, van die Arnon-rivier tot by die Jabbok-rivier, van die woestyn tot by die Jordaan-rivier. 23Verstaan jy? Dit is die Here, die God van Israel, wat die Amoriete oorwin en weggejaag het voor sy volk, die Israeliete. Hoekom wil jy nou die Israeliete wegjaag? 24Jy kan alles vat wat jou god *Kemos vir jou gee, en ons sal vat wat ons God die Here vir ons gee. 25Jy is nie beter as *Balak seun van Sippor nie, Balak die koning van die Moabiete. Hy het nie die Israeliete beskuldig nie en hy het nie oorlog gemaak teen hulle nie. 26Die Israeliete woon 300 jaar lank in die stad Gesbon en die klein dorpies daar naby, in die stad Aroër en die klein dorpies daar naby, en in al die stede langs die Arnon-rivier. Hoekom het julle nie in daardie tyd die stede en die plekke probeer terugvat nie? 27Dit is nie óns wat verkeerd gedoen het teen julle nie, dit is júlle wat verkeerd gedoen het teen ons, júlle het begin oorlog maak teen ons. Ek weet die Here sal vandag sê wie het reg gedoen, ons of julle.”

28Die koning van die Ammoniete wou nie doen wat Jefta vir hom gevra het nie. 29Toe het die Gees van die Here in Jefta gekom, en Jefta het deur Gilead en Manasse gegaan tot by die stad Mispa in Gilead, en van daar het hy na die Ammoniete toe gegaan. 30Jefta het vir die Here belowe en gesê: “As U my laat wen teen die Ammoniete, en ek lewe nog en ek kom terug by my huis, 31dan sal die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom, aan U behoort. Ek sal hom vir U gee, en hy sal my *brand-offer wees.”

32Daarna het Jefta na die Ammoniete toe gegaan om oorlog te maak teen hulle, en die Here het hom laat wen teen die Ammoniete. 33Jefta het die Ammoniete oorwin, dit was 20 stede van Aroër tot by Minnit en tot by Abel-Keramim. Jefta het ver gewen. Die Israeliete het die Ammoniete *verneder. 34Toe Jefta terugkom by sy huis in Mispa, was dit sy eie dogter wat eerste uitgekom het om hom te ontmoet. Sy het ’n *tamboeryn gespeel en gedans. Hierdie dogter was sy enigste kind. 35En toe Jefta haar sien, het hy sy *klere geskeur en hy het gesê: “My kind, ek is baie hartseer. Jy het ’n slegte ding met my laat gebeur, want ek het vir die Here belowe dat die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom om my te ontmoet, aan Hom sal behoort, en nou moet ek doen wat ek belowe het.”

36Sy dogter het vir hom gesê: “Pa, jy het belowe om my vir die Here te gee, en die Here het jou gehelp om jou vyande, die Ammoniete, te straf. Nou moet jy met my doen wat jy belowe het.”

37Sy het ook vir haar pa gesê: “Ek vra net een ding: Los my twee maande lank sodat ek en my vriendinne na die berge kan gaan. Ons wil daar gaan huil omdat ek moet sterf, ek wat ’n jongmeisie is.”

38Jefta het vir haar gesê: “Goed, jy mag gaan.”

Hy het haar laat gaan vir die twee maande, en sy en haar vriendinne het in die berge gaan huil omdat sy moes sterf, sy wat ’n jongmeisie was. 39Toe die twee maande verby was, het sy teruggekom na haar pa toe. En hy het met haar gedoen soos hy vir die Here belowe het. Sy het nooit by ’n man geslaap nie.

40Van toe af het die Israelitiese dogters elke jaar vier dae lank gaan huil en treur oor die dogter van Jefta, die Gilead-man.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index