Search form

Rigters 2

Bokim

1Die *Engel van die Here het van die stad Gilgal na die plek Bokim gegaan en Hy het vir die Israeliete gesê: “Ek het julle uit Egipte gebring na die land wat Ek vir julle *voorvaders belowe het, en Ek het gesê: Ek sal nooit my *verbond met julle breek nie, 2maar dan moet julle nie ’n *ooreenkoms maak met die mense wat in die land woon nie, en julle moet hulle *altare afbreek.

“Maar julle was nie gehoorsaam aan My nie. Julle het nie gedoen wat Ek gesê het nie. 3Ek het ook vir julle gesê Ek sal nie die mense wegjaag wat in die land woon nie. Julle sal niks kan doen teen hulle en hulle *gode nie. Julle sal word soos voëls in *vangstrikke en *vangnette.”

4Toe die Engel van die Here dit vir al die Israeliete sê, het hulle hard gehuil. 5Daarom het hulle die plek *Bokim genoem. Hulle het ook daar *offers gebring vir die Here.

Die Israeliete het opgehou om die Here te dien

6Josua het die Israeliete gestuur om die land te vat, en hulle het gegaan en dit gedoen. Elkeen het na die stuk grond gegaan wat hy moes kry. 7Die Israeliete het die Here gedien terwyl Josua gelewe het en terwyl die leiers ná Josua gelewe het. Hierdie leiers was die mense wat gesien het watter groot dinge die Here vir die Israeliete gedoen het. 8Maar Josua, seun van Nun en *dienaar van die Here, het gesterf. Hy was 110 jaar oud. 9Sy mense het hom begrawe op sy grond in Timnat-Geres, in die Efraim-berge, noord van Gaäs-berg. 10En toe die mense wat saam met Josua gelewe het, ook gesterf het, het ’n nuwe *geslag gekom wat nie die Here geken het nie en nie geweet het wat Hy alles vir die Israeliete gedoen het nie. 11Die Israeliete het toe dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hulle het die *Baäls gedien. 12Hulle het opgehou om die Here te dien, die God van hulle *voorvaders, die Here wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het ander *gode gedien, gode van die volke rondom hulle. Hulle het voor daardie gode gebuig en hulle het die Here kwaad gemaak. 13Ja, die Israeliete het opgehou om die Here te dien en hulle het die Baäls en *Astartes gedien. 14Die Here het baie kwaad geword. Hy het ander mense laat kom wat al die Israeliete se goed kom vat het. Hy het die Israeliete swakker laat word as al hulle vyande rondom hulle, en die Israeliete kon nie die vyande keer nie. 15Oral waar die Israeliete gegaan het, het die Here dit sleg laat gaan met hulle. Hy het hulle gewaarsku dat Hy dit sal doen, en hulle het nou baie swaar gekry.

Die leiers

16Partymaal het die Here vir die Israeliete leiers gegee, en dan het die leiers die Israeliete gered van die mense wat die Israeliete se goed kom vat het. 17Maar die Israeliete het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die Israeliete het ander *gode gedien en voor hulle gebuig. Ja, die Israeliete het nie gedoen soos hulle *voorvaders gedoen het nie. Hulle voorvaders was gehoorsaam aan die *gebooie van die Here, maar nou het die Israeliete dit nie meer gedoen nie. 18Wanneer die Here vir die Israeliete ’n leier gegee het, dan was die Here by die leier. Die Here het die Israeliete gered van hulle vyande terwyl die leier gelewe het. Die Here het hulle gered, want Hy was jammer vir hulle wanneer vyande hulle verdruk en laat swaarkry. 19Maar wanneer daardie leier sterf, dan het hulle nog slegter dinge gedoen as hulle voorvaders. Hulle het ander gode gedien en voor die gode gebuig. Hulle het aangehou om verkeerde dinge te doen. 20Die Here het baie kwaad geword vir die Israeliete. Hy het gesê: “Hierdie mense doen nie wat Ek vir hulle voorvaders gesê het nie, hulle is ongehoorsaam. 21Daarom sal Ek nie die volke wegjaag voor die Israeliete nie, nie een van die volke wat Josua laat oorbly het nie. 22Ek wil die Israeliete toets, Ek wil kyk of hulle soos hulle voorvaders sal doen wat Ek wil hê.”

23Die Here het toe party van die volke daar laat bly, Hy het hulle nie dadelik weggejaag nie. Hy het nie vir Josua gesê om oorlog te maak teen daardie volke nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index