Search form

Rigters 21

Die Benjamin-mense kry weer vroue

1Toe die Israeliete in Mispa bymekaar was, het hulle belowe dat nie een van hulle sy dogter sal laat trou met iemand uit die *Benjamin-stam nie. 2Ná die oorlog teen die Benjamin-mense het die Israeliete na die stad Bet-El gegaan en hulle het daar tot die aand voor God gesit en aangehou om hard te huil. 3Hulle het gesê: “Here, God van Israel, hoekom het dit gebeur? Hoekom is daar vandag een *stam minder in die volk Israel?”

4Die volgende dag het hulle vroeg opgestaan en hulle het daar ’n *altaar gebou en *brand-offers en *ete-offers gebring. 5Die Israeliete het gevra: “Watter Israeliete het nie na die vergadering by die *tempel in Mispa gekom nie?”

Hulle het in daardie tyd belowe hulle sal almal doodmaak wat nie na die tempel in Mispa kom nie. 6Hulle was nou jammer oor hulle broers, die Benjamin-mense, en hulle het gesê: “Daar is vandag een stam minder in die volk Israel. 7Wat kan ons doen sodat die paar van hulle wat oorgebly het, vroue kan kry? Ons het belowe, en die Here was die *getuie, ons sal nie ons dogters met hulle laat trou nie.”

8Daarom het hulle gevra: “Watter Israel-stam het nie na die tempel in Mispa gekom nie?”

Niemand uit Jabes-Gilead het na die vergadering gekom nie. 9Toe die Israeliete die manne tel, het hulle gesien nie een van Jabes-Gilead se mense het gekom nie. 10Hulle stuur toe 12 000 van hulle beste manne en sê vir hulle: “Julle moet die mense van Jabes-Gilead gaan doodmaak, die vroue en kinders ook. 11Julle moet elke man of seun doodmaak, ook al die vroue wat seks gehad het met ’n man.”

12Die manne het tussen die mense van Jabes-Gilead 400 jongmeisies gekry wat nog nie by ’n man geslaap het nie, en hulle het die meisies na die kamp in Silo gebring in die land Kanaän. 13Toe stuur die Israeliete *boodskappers na die Benjamin-mense by die Rimmon-rots en sê hulle kan terugkom. 14Die Benjamin-mense het teruggegaan en die Israeliete het vir hulle die vroue gegee wat van Jabes-Gilead gekom het. Maar daar was nie genoeg vroue nie, 15en die Israeliete was jammer oor die Benjamin-stam, want die Here het een stam weggevat uit die volk Israel. 16Die leiers van die *volksvergadering het vir mekaar gevra: “Wat kan ons doen sodat die Benjamin-mense wat oorgebly het, ook vroue kan kry? Want in die Benjamin-stam is daar nie vroue wat nog lewe nie.”

17Hulle het gesê: “Die mense van Benjamin moet kinders kry, want daar mag nie ’n stam uit die volk Israel verdwyn nie. 18Maar ons kan nie ons dogters met hulle laat trou nie, want ons het gesê ons *vervloek elkeen wat vir ’n Benjamin-man ’n vrou gee, en die Here was die getuie.”

19Maar toe sê die leiers: “Daar is elke jaar ’n fees van die Here in die stad Silo.”

Silo is noord van die stad Bet-El, oos van die pad tussen Bet-El en die stad Sigem, en suid van die stad Lebona. 20Die leiers het vir die Benjamin-mense gesê: “Julle moet in die *wingerde gaan lê en wag, 21en wanneer julle sien die meisies van Silo kom uit om te dans, dan moet julle uit die wingerde gaan en vir julle elkeen ’n vrou uit die meisies van Silo vang. Dan moet julle teruggaan na die land Benjamin. 22En wanneer hulle pa’s of broers by ons kom kla, dan sal ons vir hulle sê: ‘Los dit asseblief, want ons het nie genoeg vroue vir hulle gekry toe ons teen Jabes-Gilead gaan oorlog maak het nie. Julle is nie *skuldig nie, want julle het nie julle dogters vir hulle gegee nie.’ ”

23Die Benjamin-mense het so gemaak. Toe die meisies kom dans het, het elke man vir hom ’n vrou gevat, en hulle het teruggegaan na hulle land. Hulle het die stede weer gebou en hulle het daar gaan woon. 24Die Israeliete het daarna ook teruggegaan, elkeen na sy plek waar sy stam en sy familie gewoon het. 25In daardie tyd was daar nie ’n koning in die land Israel nie. Elkeen het gedoen wat hy gedink het is reg.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index