Search form

Rigters 6

Die Here stuur vir Gideon om die Israeliete te red

1Die Israeliete het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Daarom het Hy die Midianiete gestuur om die Israeliete sewe jaar lank te verdruk. 2Die Midianiete het die Israeliete laat swaarkry. Die Israeliete het hulle goed vir die Amalekiete probeer wegsteek in grotte en in plekke in die berge waar mense nie maklik kon kom nie. 3Hulle het dit gedoen omdat die Midianiete en die Amalekiete en die *Oosmense elke maal gekom het wanneer die Israeliete klaar hulle koring gesaai het. 4Hulle het dan hulle tente opgeslaan en hulle het die hele land *verwoes, tot by die stad Gasa. Hulle het niks laat oorbly wat die Israeliete kon eet nie, ook nie skape of beeste of donkies nie. 5Die Midianiete en die ander vyande het hulle eie skape en bokke en beeste en tente saamgebring. Hulle was so baie soos sprinkane. ’n Mens kon hulle en hulle kamele nie tel nie. Hulle het gekom en hulle het die land verwoes.

6Die Israeliete het baie arm geword omdat die Midianiete en die ander vyande altyd hulle goed gevat het. Die Israeliete het gebid en gevra dat die Here hulle moet help.

7Toe hulle dit gedoen het, 8het die Here ’n *profeet na hulle toe gestuur. Die profeet het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek het julle uit Egipte gebring waar julle *slawe was. 9Ek het julle gered van die Egiptenaars en van almal in hierdie land wat vir julle laat swaarkry het. Ek het hierdie mense weggejaag sodat julle plek kon kry om te woon, Ek het hulle land vir julle gegee. 10Ek het vir julle gesê: Ek is julle God die Here. Julle woon in die Amoriete se land, maar julle moenie hulle *gode dien nie. Julle was nie gehoorsaam aan My nie.”

11Die *Engel van die Here het gekom en het gaan sit onder die groot boom by die stad Ofra. Die plek het behoort aan Joas, ’n man uit die familie Abiëser. Joas se seun Gideon was besig om koring uit te slaan binne-in ’n *parskuip. Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie. 12Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is ’n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.”

13Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy *wonderwerke? Ons *voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.”

14Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.”

15Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die *Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.”

16Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.”

17Toe sê Gideon vir Hom: “As U goed wil wees vir my, doen dan vir my ’n wonderwerk wat wys dat U met my gepraat het. 18Asseblief, moenie hier weggaan nie, ek wil eers na U toe kom en my present bring en voor U neersit.”

Die Here het gesê: “Ek sal wag totdat jy kom.”

19Gideon het ’n bok-lam en ’n *efa meel gaan haal en die vleis gekook en brood gebak. Daar was nie *suurdeeg in die meel nie. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in die pot gehou en dit na die Here gebring onder die boom. Toe hy dit nader bring, 20het die Engel van God vir hom gesê: “Sit die vleis en die brood daar op die rots en gooi die sous daaroor.”

Gideon het dit gedoen. 21Toe steek die Engel van die Here sy kierie uit en raak met die punt van die kierie aan die vleis en die brood. Daar het vuur uit die rots gekom en dit het die vleis en die brood verbrand. Toe het Gideon nie meer die Engel van die Here gesien nie. 22Gideon het besef dit is die Engel van die Here, en hy het gesê: “Ag, Here, my Here, ek sal sterf, want ek het regtig die Engel van die Here gesien, Hy was hier voor my.”

23Maar die Here het vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie, moenie bang wees nie, jy sal nie sterf nie.”

24Gideon het daar ’n *altaar gebou vir die Here. Hy het die altaar genoem: “Die Here het gesê ek moenie bekommerd wees nie.” Daardie altaar is nog in Ofra, die familie Abiëser woon daar.

25Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet jou pa se bul vat, die bul wat sewe jaar oud is, en dan moet jy die *Baäl-altaar van jou pa afbreek en die *gewyde paal afkap wat daarby is. 26Jy moet vir My, jou God die Here, ’n altaar bou op die hoogste plek in hierdie stad. Jy moet die klippe van die altaar netjies opmekaar pak. Jy moet die hout van die gewyde paal wat jy afgekap het, gebruik om vuur te maak, en dan moet jy die bul op die altaar *offer.”

27Gideon het tien van sy slawe geneem en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was bang vir sy pa se familie en vir die mense van die stad, daarom het hy dit in die nag gedoen, nie in die dag nie. 28Die mense van die stad het die volgende oggend vroeg opgestaan. En wat het hulle gesien? Iemand het die Baäl-altaar afgebreek en die gewyde paal afgekap en ’n nuwe altaar gebou en die bul ge-offer. 29Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?”

Hulle het gesoek en vir almal gevra, en iemand het gesê: “Joas se seun Gideon het dit gedoen.”

30Toe sê die mense van die stad vir Joas: “Jy moet jou seun bring. Hy moet sterf omdat hy die Baäl-altaar afgebreek het en die gewyde paal afgekap het wat daarby was.”

31Joas sê toe vir almal wat daar by hom staan: “Wil julle vir *Baäl beskerm? Wil julle hom red? Die persoon wat vir Baäl wil beskerm, sal môre sterf. As Baäl ’n god is, dan moet hy homself beskerm teen die man wat sy altaar afgebreek het.”

32Joas het daardie dag gesê Gideon se naam is nou *Jerub-Baäl, want Baäl moet homself beskerm teen Gideon wat sy altaar afgebreek het.

Gideon maak oorlog teen die Midianiete

33Al die Midianiete en die Amalekiete en die *Oosmense het bymekaargekom en oor die Jordaan-rivier gegaan. Hulle het hulle tente opgeslaan in die Jisreël-vallei. 34Toe het die Gees van die Here in Gideon gekom. Hy het die *ramshoring geblaas en die familie Abiëser geroep om saam met hom te kom en hom te help. 35Hy het *boodskappers gestuur na die hele *Manasse-stam en hy het hulle ook geroep om saam met hom te kom en hom te help. Hy het ook boodskappers gestuur na die *Aser-stam en die *Sebulon-stam en die *Naftali-stam, en hulle het ook na Gideon toe gekom.

36Gideon het vir God gesê: “U het gesê U wil my gebruik om die Israeliete te red. 37Ek sal ’n skaap se wol oopgooi op die *dorsvloer. As daar net op die wol *dou is en die grond is droog, dan sal ek weet U wil my gebruik om die Israeliete te red, soos U gesê het.”

38Dit het toe gebeur. Toe Gideon die volgende oggend opstaan en die dou uit die wol druk, het daar ’n skottel vol water uit die wol gekom. 39Maar Gideon het vir God gesê: “U moenie kwaad word vir my nie, ek wil nog een maal iets vra, ek wil U nog een maal toets met die wol. U moet die wol droog laat bly, en môre-oggend moet die dou op die grond wees.”

40God het dit daardie nag so gedoen. Die wol was droog, en daar was dou op die grond.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index