Search form

Rigters 7

1Gideon en al die manne by hom het vroeg opgestaan en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad En-Garod. Die Midianiete se kamp was by die Waarsêer-hoogte in die vallei, noord van Gideon se kamp. 2Die Here het vir Gideon gesê: “Jy het te veel manne by jou. As ek hulle laat wen teen die Midianiete, dan sal die Israeliete spog en sê hulle het hulleself gered. 3Daarom, jy moet hulle roep en sê elkeen wat bang voel, kan teruggaan huis toe.”

Gideon het die manne bymekaargeroep en hy het dit vir hulle gesê. Toe het 22 000 manne teruggegaan huis toe. Daar het 10 000 manne oorgebly. 4Die Here het vir Gideon gesê: “Die manne is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar uitsoek. Ek sal vir jou sê wie mag saamgaan met jou en wie nie.”

5Gideon het toe die manne laat afgaan na die water, en die Here het vir hom gesê: “Party manne sal water skep met hulle hande soos ’n hond water oplek met sy tong. Jy moet hulle apart laat staan, nie by die ander manne wat kniel om water te drink nie.”

6Daar was 300 manne wat die water met hulle hande opgeskep het. Al die ander manne het gekniel om water te drink. 7Die Here het vir Gideon gesê: “Ek sal julle red met hierdie 300 manne wat die water met hulle hande geskep het. Ek sal jou laat wen teen die Midianiete. Laat die ander manne teruggaan, elkeen na sy huis.”

8Gideon het die ander manne laat teruggaan huis toe en hy het die 300 manne by hom laat bly. Hulle het die padkos en ramshorings by hulle gehou. Die kamp van die Midianiete was in die vallei, onderkant die kamp van Gideon. 9Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet die Midianiete se kamp gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle. 10Maar as jy bang is om hulle aan te val, dan moet jy en Pura, die seun wat by jou is, eers na die kamp gaan 11en luister na wat hulle praat. Dan sal jy nie meer bang wees om hulle aan te val nie.”

Gideon en Pura het toe afgegaan tot by die kant van die kamp. 12Die manne in die kamp was gereed om oorlog te maak. Daar was baie Midianiete en Amalekiete en Oosmense in die vallei. Hulle was so baie soos sprinkane. Niemand kon hulle kamele tel nie, want hulle was so baie soos die sand by die see. 13Toe Gideon by die kamp kom, was ’n man besig om vir sy maat te vertel wat hy gedroom het. Hy het gesê: “Ek het gedroom ek sien ’n ronde *garsbrood wat deur die kamp rol. Dit het tot teen ons tent gerol en die tent omgestamp. Die tent het geval, en die brood het bo-oor die tent gerol.”

14Die man se maat sê toe: “Dit beteken die Israeliet, Gideon seun van Joas, kom oorlog maak teen ons, en God sal hom laat wen teen die Midianiete en hierdie hele kamp.”

15Toe Gideon hoor van die droom en wat dit beteken, het hy gebuig en hy het die Here geprys. Hy het teruggegaan na die kamp van die Israeliete, en gesê: “Kom, die Here sal julle laat wen teen die *leër van die Midianiete.”

16Gideon het die 300 manne verdeel in drie groepe, en hy het vir elke man ’n ramshoring en ’n leë *kruik gegee. Daar was ’n *fakkel in elke kruik. 17Hy het vir hulle gesê: “Julle moet kyk wat ek doen en dan moet julle dieselfde doen. 18Ek en almal by my sal die ramshorings blaas, en dan moet julle ook rondom die Midianiete se kamp julle ramshorings blaas en julle moet skree: ‘Vir die Here en vir Gideon.’ ”

19Gideon en die 100 manne by hom het by die kamp aangekom toe die *middel-wagbeurt begin het, net nadat die nuwe *wagte op hulle plekke kom staan het. Toe Gideon en die manne by hom die ramshorings blaas en die kruike stukkend slaan, 20het die ander groepe manne ook hulle ramshorings geblaas en hulle kruike stukkend geslaan. Hulle het die fakkels met die linker-hand vasgehou en met die regter-hand het hulle die ramshorings vasgehou waarop hulle geblaas het. Hulle het geskree: “Die Here en Gideon kom oorlog maak!”

21Gideon se manne het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy plek. Die mense in die kamp het opgespring en geskree en begin hardloop. 22Toe die manne die 300 ramshorings blaas, het die Midianiete mekaar begin doodmaak. Die Here het hulle dit laat doen. Hulle het gevlug tot by die stad Bet-Sitta naby Serera en tot by die grens van die grond van die stad Abel-Megola by Tabbat. 23Gideon het nog Israeliete laat roep uit die Naftali-stam en die Aser-stam en uit die hele Manasse-stam. Hulle het gekom en hulle het die Midianiete gevolg en gejaag. 24Gideon het ook boodskappers gestuur na al die mense van die *Efraim-stam in die berge. Hy het gevra hulle moet die Midianiete vang by al die plekke waar water is, tot by die stad Bet-Bara en die Jordaan-rivier. Hulle het gekom en hulle het dit gedoen. 25Hulle het die twee generaals van die Midianiete gevang. Die generaals se name was Kraai en Wolf. Hulle het vir Kraai doodgemaak by Kraairots, en vir Wolf by die Wolf-*parskuip. Nadat hulle klaar die Midianiete gevolg en gejaag het, het hulle Kraai en Wolf se koppe vir Gideon gebring anderkant die Jordaan-rivier.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index