Search form

Rigters 9

Abimelek

1Gideon se seun Abimelek het na die stad Sigem gegaan, na sy ma se broers toe. Hy het met hulle en met die hele familie van sy ma gepraat en gesê: 2“Praat asseblief met die belangrike manne van Sigem en sê vir hulle: ‘Wat is vir julle beter: dat Gideon se 70 seuns almal oor julle regeer of dat net een man oor julle regeer?’ En onthou ek is een van julle.”

3Abimelek se ooms het dit alles vir die manne van Sigem gesê, en hulle het vir Abimelek gekies, want hulle het gesê: “Hy is een van ons.”

4Die belangrike manne van Sigem het vir Abimelek 70 *stukke silwer gegee uit die *tempel van *Baäl-Berit, en Abimelek het dit gebruik om mense te huur om hom te help. Dit was mense wat nie ander werk gehad het nie. 5Abimelek het na sy pa se huis in Ofra gegaan en daar het hy sy broers, die 70 seuns van Gideon, vermoor, almal op een klip. Net Gideon se jongste seun Jotam het oorgebly, want hy het weggekruip.

6Die manne van Sigem en almal van Bet-Millo het toe bymekaargekom en hulle het gegaan om vir Abimelek koning te maak onder die groot boom by die *klip-paal van Sigem. 7Iemand het dit vir Jotam vertel. Hy het toe bo-op die Gerisim-berg gaan staan en hy het hard geskree en gesê:

“Manne van Sigem,

julle moet hoor wat ek sê,

dan sal God hoor wat julle sê.

8Eendag wou die bome

vir hulle ’n koning gaan *salf.

Hulle het vir die olyfboom gesê:

‘Jy moet ons koning wees.’

9Maar die olyfboom

het vir hulle gesê:

‘Die mense gebruik my olie

om *gode en mense te *eer.

Moet ek ophou olie gee om oor

die bome te regeer?

Nee, ek wil nie.’

10Toe sê die bome

vir die vyeboom:

‘Dan moet jy ons koning

kom wees.’

11Maar die vyeboom

het vir hulle gesê:

‘Ek dra baie vrugte,

en my vrugte is lekker soet.

Moet ek ophou vrugte dra

om oor die bome te regeer?

Nee, ek wil nie.’

12Toe sê die bome

vir die *wingerdstok:

‘Dan moet jy ons koning

kom wees.’

13Maar die wingerdstok

het vir hulle gesê:

‘My wyn maak gode

en mense bly.

Moet ek ophou druiwe dra

om oor die bome te regeer?

Nee, ek wil nie.’

14Toe sê al die bome

vir die doringbos:

‘Dan moet jy ons koning

kom wees.’

15Die doringbos het vir

die bome gesê:

‘As julle regtig wil hê

ek moet julle koning wees,

dan moet julle in my skaduwee

kom staan,

en as julle dit nie doen nie,

dan sal daar ’n vuur uit

die doringbos kom

en die vuur sal die sederbome

van die Libanon-berg

verbrand.’

16“En nou, manne van Sigem, julle het nie goed gedoen aan Gideon se familie nie. Julle het nie onthou wat hy vir julle gedoen het nie, julle was *ontrou aan hom. Julle het vir Abimelek gekies en julle het hom koning gemaak. 17My pa het oorlog gemaak sodat julle kan lewe. Hy was nie bang om te sterf nie. Hy het julle gered van die Midianiete. 18Maar julle is vandag *opstandig teen my pa se familie, en julle het sy 70 seuns vermoor, almal op een klip. Julle het Abimelek, die seun van my pa se *slavin, julle koning gemaak omdat hy familie is van julle. 19Julle was ontrou aan Gideon en sy familie. Nou moet julle en Abimelek gelukkig wees met mekaar. 20As julle dit nie doen nie, dan sal Abimelek ’n vuur wees wat die manne van Sigem en Bet-Millo verbrand, en die manne van Sigem en Bet-Millo sal ’n vuur wees wat vir Abimelek verbrand.”

21Jotam het toe weggehardloop en gevlug. Hy het in die stad Beër gaan woon, want hy was bang sy broer Abimelek maak hom dood.

22In die derde jaar nadat Abimelek oor die Israeliete begin regeer het, 23het die Here ’n *bose gees gestuur om Abimelek en die manne van Sigem vyande van mekaar te maak. Die manne van Sigem het ontrou geword aan Abimelek. 24Die Here wou Abimelek straf omdat hy sy broers, die 70 seuns van Gideon, vermoor het. Die Here wou ook die manne van Sigem straf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25Die manne van Sigem het in die berge gaan lê en wag vir mense wat op die pad verbykom, en dan het hulle die mense se goed gevat. Mense het dit vir Abimelek vertel. 26Toe het Gaäl seun van Ebed in Sigem aangekom, hy en sy broers. Die manne van Sigem het gedink hy sal hulle kan help. 27Eendag het Gaäl en sy broers uit die stad gegaan. Hulle het druiwe gepluk en wyn gemaak. Toe het hulle *feesgevier. Hulle het in die tempel van hulle god geëet en gedrink en gesê Abimelek beteken niks. 28Gaäl seun van Ebed het gesê: “Wie is Abimelek? Hoekom moet die mense van Sigem hom dien? Abimelek is die seun van Gideon, en hy en sy *goewerneur Sebul het die mense van Sigem gedien toe Sigem se pa Gamor nog gelewe het. Hoekom moet ons nou vir Abimelek dien? 29Wanneer ek oor hierdie mense regeer, dan sal ek vir Abimelek wegjaag. Ek sê vir Abimelek: Jy kan baie manne saambring, jy kan kom, ek is nie bang nie.”

30Toe Sebul, die goewerneur van Sigem, hoor wat Gaäl sê, was hy baie kwaad. 31Abimelek was by die stad Torma, en Sebul het *boodskappers na Abimelek toe gestuur. Hulle het vir Abimelek gesê: “Jy moet weet, Gaäl seun van Ebed het na Sigem gekom, hy en sy broers is besig om die mense van die stad opstandig te maak teen jou. 32Jy moet nou iets doen, jy en jou manne moet vannag kom en julle moet in die veld lê en wag. 33En môre-oggend wanneer die son opkom, moet julle opstaan en na die stad hardloop. Dan sal Gaäl en sy manne uitkom, en dan kan jy met hom doen wat jy wil.”

34Abimelek en al sy manne het toe in die nag gekom en hulle het buite Sigem gelê en wag. Hulle was in vier groepe. 35Toe Gaäl die oggend voor die *poort van die stad gaan staan, het Abimelek en die manne wat by hom was, opgestaan. 36Gaäl het hulle gesien en hy het vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense bo van die berg af.”

Maar Sebul het vir hom gesê: “Nee, jy sien die skaduwees in die berge en jy dink dit is mense.”

37Maar toe sê Gaäl weer: “Kyk, daar kom mense van die middel van die land af, en daar kom mense op die pad van die Waarsêer-boom af.”

38Sebul het vir Gaäl gesê: “Jy het gister baie gespog. Waar is jou groot mond nou? Jy het gesê: ‘Wie is Abimelek? Hoekom moet ons hom dien?’ Hier is die mense nou, jy het gesê hulle beteken niks. Gaan maak nou oorlog teen Abimelek.”

39Gaäl en die manne van Sigem het toe gaan oorlog maak teen Abimelek. 40Maar Abimelek se manne was te veel, en Gaäl het gevlug. Abimelek en sy manne het baie van Gaäl se manne doodgemaak voordat hulle kon inkom by die poort van die stad.

41Abimelek het in die stad Aruma gebly, en Sebul het vir Gaäl en sy broers weggejaag uit Sigem. 42Die volgende oggend het die mense van Sigem uit die stad na die veld gegaan. Abimelek het dit gehoor. 43Hy het sy manne in drie groepe verdeel en hy het hulle in die veld laat lê en wag. Toe hy sien die mense het uit die stad gekom, het hy hulle begin doodmaak. 44Hyself en die manne wat by hom was, het vorentoe gehardloop en voor die poort van die stad gaan staan. Die ander twee groepe het al die mense in die veld begin doodmaak. 45Abimelek het daardie hele dag oorlog gemaak teen die mense in die stad. Hy het die stad oorwin, die mense doodgemaak en die mure afgebreek. Toe het hy sout oor die stad gesaai. 46Die mense van die *Sigem-toring het gaan wegkruip toe hulle hoor daar is oorlog in die stad. Hulle het weggekruip in ’n *kelder by die tempel van *El-Berit. 47Abimelek het gehoor al die mense van die Sigem-toring is daar bymekaar. 48Hy en al sy manne het toe teen Salmon-berg opgeklim. Hy het ’n byl gevat en ’n tak van ’n boom afgekap en die tak op sy skouer gesit. Toe sê hy vir sy manne: “Julle moet dieselfde doen, doen dit gou.”

49Al die manne het takke afgekap. Hulle het agter Abimelek geloop en hulle het die takke op die kelder gesit. Toe steek hulle die takke op die kelder aan die brand bo-oor die mense van die Sigem-toring, en so het al die mense van die Sigem-toring gesterf. Dit was omtrent 1 000 mans en vroue.

50Abimelek het na die stad Tebes gegaan. Hy het die stad van al die kante aangeval en hy het dit oorwin. 51Binne-in die stad was ’n sterk toring, en al die mans en vroue het daarnatoe gevlug, ook die belangrike mense van die stad. Hulle het die deur gesluit en op die toring se dak geklim. 52Abimelek het by die toring gekom en hy wou oorlog maak teen die mense in die toring. Toe hy nader kom na die deur om dit aan die brand te steek, 53het ’n vrou ’n *maalklip afgegooi op Abimelek se kop, en die klip het sy kopbeen laat bars. 54Hy roep toe dadelik die seun wat sy wapens dra, en sê vir hom: “Vat jou swaard en maak my dood. Ek wil nie hê dat die mense sal sê ’n vrou het my doodgemaak nie.”

Die seun het Abimelek doodgesteek, 55en toe die Israeliete sien Abimelek is dood, het elkeen teruggegaan na sy huis.

56So het die Here vir Abimelek gestraf omdat hy sy broers doodgemaak het en so verkeerd gedoen het teen sy pa. 57Die Here het ook die belangrike mense van Sigem gestraf oor wat hulle gedoen het. So het gebeur wat Jotam oor hulle gesê het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index