Search form

Klaagliedere 2

Jerusalem, wat kan ek sê om jou te troos?

1Hoekom het dit gebeur?

Die Here was kwaad

en Hy het dit donker laat word oor *Sion.

Israel was trots op die stad,

maar die Here het die stad

uit die hemel neergegooi

op die aarde.

Hy het nie aan sy *tempel gedink

op daardie dag toe Hy kwaad

geword het nie.

2Die Here was nie jammer vir hulle nie,

Hy het al die woonplekke in *Jakob *verwoes.

Hy het die stede van *Juda afgebreek,

die stede wat sterk mure gehad het.

Hy het die koning en sy *amptenare

hard laat val en Hy het hulle *verneder.

3Hy was baie kwaad,

Hy het almal laat sterf wat sterk was in die volk Israel.

Hy het hulle nie gehelp teen die vyande nie.

Dit was soos ’n vuur wat alles verbrand het.

4Die Here het soos ’n vyand

sy boog se snaar styfgetrek

en Hy het gereedgestaan.

Hy het almal wat mooi was,

met sy sterk arm doodgemaak

in die woonplekke van Sion.

Hy was kwaad,

en dit het gebrand soos vuur.

5Die Here was soos ’n vyand,

Hy het Israel verwoes,

Hy het al die mooi huise verwoes,

Hy het al die sterk mure afgebreek,

Hy het baie mense in Juda

laat huil en *rou.

6Hy het sy tempel, sy woonplek,

plat getrap soos mense ’n tuin plat trap.

Hy het die plek verwoes

waar Hy aan sy volk *verskyn het.

Hy het mense laat vergeet

dat die mense van Sion feeste

en *Sabbatdae gevier het.

Hy was kwaad,

Hy het die koning en die *priesters verneder.

7Die Here wou nie meer sy eie *altaar hê nie,

en ook nie sy tempel nie.

Hy het die mure van die stad se mooi huise

vir die vyande gegee om af te breek.

Hulle het in die tempel gaan staan en skree

soos mense op ’n feesdag gedoen het.

8Die Here het besluit om die mure van Sion

af te breek.

Hy het die mure gemeet en Hy het

nie opgehou om dit af te breek nie.

Hy het *torings en mure laat omval

en Hy het dit saam op die grond laat lê.

9Die *poorte van die stad het omgeval,

want die Here het die *sluitbalke

van die poorte stukkend gebreek.

Die koning en die amptenare van die stad

is by ander volke.

Daar is nie meer priesters wat vir die mense

kan sê wat die Here wil hê nie.

Die Here wys ook nie meer vir die *profete

wat hulle moet sê nie.

10Die leiers van Sion sit op die grond,

hulle praat nie,

hulle het *stof op hulle koppe gegooi

en hulle het *rouklere aangetrek.

Die jongmeisies van Jerusalem

buig hulle koppe laag,

tot naby die grond.

11Ek is moeg, want ek het baie gehuil,

alles pyn binne-in my.

Dit voel of my lewer op die grond wil val,

want die Here het my volk stukkend gebreek.

Kinders en babas het flou geval

op die *oop stukke grond in die stad.

12Hulle vra vir hulle ma’s:

“Waar kan ons brood en wyn kry?”

Maar dan val hulle flou soos dooie mense

op die oop stukke grond in die stad,

of hulle sterf terwyl hulle

teen hulle ma’s se borste lê.

13Jerusalem, wat kan ek sê

om jou te troos?

Sion, wie kry so swaar soos jy?

Hoe kan ek dit vir jou makliker maak?

Jou swaarkry is so groot soos die see,

wie kan dit beter laat gaan met jou?

14Jou profete het gesê die Here

het vir hulle dinge gewys,

maar hulle het gelieg,

hulle het jou *bedrieg.

Hulle het nie oor jou sonde gepraat

sodat jy kon verander

en lewe soos God wil hê

en sodat dit dan met jou beter kon gaan nie.

Hulle het gesê die Here het vir hulle dinge gesê,

maar dit was leuens, hulle het jou bedrieg.

15Almal wat op die pad verbykom,

spot en klap hulle hande oor jou.

Hulle *fluit en hulle wys

dat hulle bly is oor wat gebeur het

met Jerusalem.

Hulle vra:

“Is dít die stad wat vir die mense

die mooiste van al die stede was?

Is dít die stad waaroor al die mense

in die wêreld bly was?”

16Al jou vyande spog oor wat hulle

met jou gedoen het,

hulle fluit, hulle byt hard op hulle tande.

Hulle sê:

“Ons het Jerusalem verwoes,

ons het gewag vir hierdie dag,

en die dag het gekom, ons het dit gesien.”

17Die Here het gedoen wat Hy wou doen,

Hy het laat gebeur wat Hy

lank gelede gesê het.

Hy het die stad afgebreek,

Hy was nie jammer nie.

Hy het jou vyande bly gemaak

oor wat met jou gebeur het,

Hy het hulle sterk gemaak.

18Jerusalem, jou mure het geskree

en gevra dat die Here hulle moet help.

Jou trane moet vloei soos ’n rivier,

elke dag en nag.

Jy moenie rus nie, jy moenie ophou huil nie.

19Jy moet opstaan,

jy moet aanhou roep in die nag.

Wanneer elke *wagbeurt begin,

dan moet jy vir die Here sê hoe jy voel.

Jy moet jou hande uitsteek na Hom toe

en jy moet bid dat Hy jou kinders moet laat lewe,

jou kinders wat op al die hoeke van die strate

flou word omdat hulle honger is.

20Here, U moet kyk, U moet sien

aan wie U dit gedoen het.

Wil U hê vroue moet hulle eie kinders eet?

Moet die vyande die priesters en die profete

vermoor in die tempel?

21Seuns en ou manne lê saam dood

op die strate.

My jongmeisies en my jongmanne

het gesterf in die oorlog.

U het hulle laat sterf toe U kwaad was,

U het hulle doodgemaak,

U was nie jammer vir hulle nie.

22U het die vyande van al die kante geroep,

U het hulle geroep soos U mense roep

om te kom *feesvier.

Toe die *dag van die Here kom,

het niemand vry weggekom en weggehardloop nie.

My vyande het almal doodgemaak

wat hier gebore is en wat hier grootgeword het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index