Search form

Levitikus 24

Die lampstaander en die lampe

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet vir jou skoon olyf-olie bring sodat die *lampe op die lampstaander altyd kan brand. 3Aäron moet die lampstaander neersit voor die *gordyn in die tent waar die Here aan die Israeliete *verskyn. Die *kis waarin die tien *gebooie is, staan agter die gordyn. Die lampe moet van die aand tot die oggend voor die Here brand. Julle *nageslag moet dit ook altyd doen. 4Aäron moet die lampe op die goue lampstaander sit, dit moet altyd daar voor die Here wees.”

Die offer-brood

5“Jy moet van die beste meel neem en jy moet twaalf ringbrode bak. Jy moet twee tiendes van ’n *efa meel gebruik vir elke ringbrood. 6Dan moet jy die brood in twee rye neersit op die goue tafel voor die Here, in elke ry moet daar ses brode wees. 7Jy moet skoon *wierook by elke ry sit. Die wierook is ’n *vuur-offer vir die Here, dit is in die brood se plek. 8Die *priesters moet elke *Sabbatdag nuwe brood neersit voor die Here. Die Israeliete moet dit altyd doen. 9Aäron en sy seuns mag die brood kry wat op die tafel was. Hulle moet dit op ’n *gewyde plek eet. Die brood is *hoog-gewyd. Die priesters moet altyd daardie brood kry uit die *offers vir die Here. Dit moet altyd so wees.”

’n Persoon wat die Naam van die Here laster, moet sterf

10-11Daar was ’n man, hy was die seun van ’n Israelitiese vrou en ’n Egiptiese man. Sy ma was Selomit, dogter van Dibri, sy was van die *Dan-stam. Hy het baklei met ’n Israelitiese man. Die seun van die Israelitiese vrou en die Egiptiese man het die Naam van die Here *gelaster toe hy die ander man wou *vervloek. Hulle het hom na Moses toe gebring. 12Hulle het die man toegesluit, hulle wou eers hoor wat die Here sê. 13Die Here het vir Moses gesê: 14“Jy moet die man wat die ander man vervloek het, wegneem uit die kamp. Almal wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hande op sy kop sit, en die hele *volksvergadering moet hom doodgooi met klippe. 15Jy moet vir die Israeliete sê: Elke persoon wat sy God vervloek, is *skuldig, julle moet hom straf. 16Iemand wat die Naam van die Here laster, moet sterf, die hele volksvergadering moet hom doodgooi met klippe. Mense wat die Naam van die Here laster, *vreemdelinge of Israeliete, moet sterf. 17’n Persoon wat ’n ander mens doodmaak, moet sterf. 18Wanneer iemand ’n dier van iemand anders doodmaak, dan moet hy betaal, hy moet vir die eienaar ’n ander dier gee. 19Wanneer ’n persoon iemand anders seermaak, dan moet hulle dieselfde doen, hulle moet hom ook so seermaak. 20Die straf is: As hy die man seergemaak het, dan moet julle hom ook seermaak, ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand. Hulle moet dieselfde aan hom doen wat hy aan ’n ander mens gedoen het. 21Iemand wat ’n dier doodmaak, moet betaal, maar iemand wat ’n mens doodmaak, moet sterf. 22Dit moet dieselfde wet vir almal wees, vir vreemdelinge en vir Israeliete, want Ek is julle God die Here.”

23Moses het dit vir die Israeliete gesê, en hulle het die man wat gelaster het, weggeneem uit die kamp en hulle het hom doodgegooi met klippe. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses gesê het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index