Search form

Levitikus 6

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Wanneer iemand vir ’n ander Israeliet iets gegee het om vir hom te bêre of wanneer hy dit vir hom geleen het, en die ander Israeliet sê hy het dit nie, dan doen hy sonde en hy is *ontrou aan die Here. Hy doen ook sonde wanneer hy ’n ander Israeliet se goed vir homself vat, of wanneer hy die ander Israeliet slaan en seermaak en sy goed vat, 3of wanneer iets van ’n ander Israeliet weggeraak het, en hy kry dit, maar hy sê nie hy het dit gekry nie. Hy sê die Here is die *getuie, maar hy lieg. Wanneer iemand een van hierdie dinge doen, dan het hy sonde gedoen. 4Hy het sonde gedoen en hy is *skuldig, hy moet die goed teruggee wat hy gevat het of wat iemand by hom gebêre het, hy moet die goed teruggee wat weggeraak het en wat hy gekry het, 5hy moet alles teruggee waaroor hy gelieg het en gesê het die Here is die getuie. Wanneer mense sê dat hy dit gedoen het, en hy is skuldig, dan moet hy alles teruggee en hy moet ook nog een vyfde daarby sit. 6Hy moet ook vir die Here ’n *skuld-offer gee. Hy moet ’n gesonde skaap-ram vir die *priester bring om ’n skuld-offer te wees. Die priester moet sê hoe groot die ram moet wees. 7Die priester moet dan vir hom *versoening doen, en die Here sal hom alles vergewe wat hy verkeerd gedoen het.”

Die brand-offer

8Die Here het vir Moses gesê: 9“Jy moet vir Aäron en sy seuns sê wat hulle met die *brand-offer moet doen. Die brand-offer moet die hele nag deur op die vuurmaakplek op die *altaar bly tot die volgende oggend. Die vuur moet aanhou brand. 10Die volgende oggend moet die *priester sy linne-klere en sy linne-broek aantrek. Hy moet die vet optel wat oorgebly het toe die brand-offer op die altaar gebrand het, en hy moet die vet langs die altaar sit. 11Dan moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek en hy moet die vet na ’n *rein plek buite die kamp bring. 12Die vuur op die altaar moet aanhou brand, dit mag nie doodgaan nie. Die priester moet elke oggend hout op die vuur sit. Hy moet die brand-offer op die vuur sit en hy moet die vet van die *ete-offer in die vuur verbrand. 13Daar moet altyd vuur wees op die altaar, dit mag nie doodgaan nie.”

Die koring-offer

14“En dit is wat die *priesters met die *koring-offer moet doen: ’n Priester van die *nageslag van Aäron moet die *offer naby die *altaar bring voor die Here, 15en hy moet ’n handvol van die meel en die olyf-olie neem en ook al die *wierook wat bo-op die koring-offer is. Dan moet hy dit verbrand. Die handvol meel is die *teken van die hele offer. Dit ruik lekker vir die Here. 16Aäron en sy seuns moet die meel eet wat oorbly. Hulle moet *ongesuurde brood daarvan bak en hulle moet dit op ’n *gewyde plek eet, op die *oop stuk grond by die *tempel. 17Hulle mag nie die brood met *suurdeeg bak nie. Dit is wat die priesters moet kry van die *vuur-offers. Dit is *hoog-gewyd, soos die *sonde-offer en die *skuld-offer. 18Elke man en seun van die nageslag van Aäron mag hierdie brood eet, hy en sy *nageslag. Dit kom uit die vuur-offers vir die Here. Alles wat daaraan raak, word *gewyd.”

Die koring-offer van die priesters

19Die Here het vir Moses gesê: 20“Op die dag wanneer jy vir Aäron *salf, moet hy en sy seuns hierdie *offer vir die Here gee: een tiende van ’n *efa van die beste meel. Hulle moet altyd hierdie offer bring, die helfte van die offer in die oggend en die helfte van die offer in die aand. 21Hy moet die meel met olyf-olie meng en hy moet dit op ’n bakplaat bak. Dan moet hy die brood in stukkies breek en hy moet dit vir die Here gee. Dit is ’n *koring-offer wat lekker ruik vir die Here. 22Jy moet ’n *priester van die nageslag van Aäron salf om *hoëpriester te wees. Hy moet altyd die koring-offer offer. Die offer behoort aan die Here, dit moet heeltemal verbrand word. 23Elke koring-offer van ’n priester moet heeltemal verbrand word. Hulle mag dit nie eet nie.”

Die sonde-offer

24Die Here het vir Moses gesê: 25“Jy moet vir Aäron en sy seuns sê wat hulle met die *sonde-offer moet doen. Hulle moet die dier wat die sonde-offer moet wees, voor die Here slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die *brand-offer slag. Die sonde-offer is *hoog-gewyd. 26Die *priester wat die dier *offer om ’n sonde-offer te wees, moet die vleis eet op ’n *gewyde plek, op die *oop stuk grond by die tent waar die Here aan die Israeliete *verskyn. 27Elkeen wat aan die dier se vleis raak, word gewyd. Wanneer van die dier se bloed op iemand se klere spat, dan moet jy die klere op ’n gewyde plek was. 28As jy die vleis gekook het in ’n kleipot, dan moet jy die pot breek. As jy dit in ’n *brons pot gekook het, dan moet jy die pot skuur en was. 29’n Priester, ’n man of ’n seun, mag van die vleis eet. Die vleis is hoog-gewyd. 30Maar wanneer julle die bloed van ’n sonde-offer in die tent bring waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle gebruik daardie bloed om *versoening te doen in die *tempel, dan mag julle nie die vleis eet nie, julle moet dit verbrand.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index