Search form

Lukas 19

Jesus en Saggeus

1Jesus het in Jerigo ingegaan en Hy het deur die stad geloop. 2Daar het ’n man gewoon, sy naam was Saggeus. Hy was die hoof van die *tollenaars en hy was ’n ryk man. 3Hy wou graag vir Jesus sien, hy wou sien wie Hy is. Maar omdat daar so baie mense was, kon Saggeus nie vir Jesus sien nie, want Saggeus was ’n kort mannetjie. 4Toe het Saggeus verder op die pad gehardloop en hy het in ’n wildevye-boom geklim sodat hy vir Jesus kon sien, want Jesus moes daar verbyloop. 5Toe Jesus by die boom kom, het Hy opgekyk en Hy het vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim gou af, want Ek moet vandag in jou huis bly.” 6Saggeus het gou afgeklim en hy het vir Jesus in sy huis ingenooi. Saggeus was baie bly dat Jesus in sy huis wou bly. 7Maar almal wat dit gesien het, was ontevrede. Hulle het gesê: “Jesus het by ’n sondige man se huis ingegaan om daar te bly.”

8Saggeus het voor Jesus gaan staan en gesê: “Here, ek belowe ek sal die helfte van alles wat ek het, vir die arm mense gee. En as ek te veel geld van iemand gevat het, sal ek vier maal meer teruggee.”

9Jesus sê toe vir Saggeus en vir almal wat ontevrede was: “Vandag het God die mense in hierdie huis gered, want Saggeus is ook van die *nageslag van Abraham. 10Ek, die *Seun van die mens, het gekom om almal wat *verlore is, te soek en te red.”

Die gelykenis van die tien geldstukke

(Ook Matt 25:14-30)

11Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle ’n *gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer. 12Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was ’n man, hy was ’n koning se seun. Hy het na ’n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense. 13Toe roep hy tien van sy *slawe en hy gee vir hulle tien geldstukke en sê: ‘Julle moet met hierdie geld baie dinge koop en dit weer verkoop en meer geld kry totdat ek terugkom.’ 14Maar baie van die mense het niks van die koning se seun gehou nie, en nadat hy weggegaan het, het hulle *boodskappers na hom toe gestuur om vir hom te sê: ‘Ons wil nie hê jy moet koning wees oor ons nie.’ 15Maar die man het koning geword. Hy het teruggekom en toe laat roep hy die slawe vir wie hy die geld gegee het. Hy het vir hulle gevra wat hulle met die geld gedoen het. Hy wou weet wat hulle gekoop en verkoop het. 16Die eerste slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog tien geldstukke daarby.’ 17Die koning het vir hom gesê: ‘Dit is goed. Jy is ’n goeie slaaf. Ek gee nou vir jou tien stede, jy moet oor hulle regeer, want jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het.’ 18Toe kom die tweede slaaf en hy sê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog vyf geldstukke daarby.’ 19Die koning het ook vir hierdie slaaf gesê: ‘Ek gee vir jou vyf stede, jy moet oor hulle regeer.’

20“’n Derde slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die geldstuk wat jy gegee het. Ek het dit mooi toegedraai in ’n lap en ek het dit gebêre, 21want ek was bang vir jou omdat jy kwaai is. Jy vat van mense goed wat jy nie gegee het nie, en jy sny koring af wat jy nie gesaai het nie.’ 22Toe sê die koning vir hom: ‘Jy is ’n slegte slaaf, jy het nou self gesê hoekom ek jou moet straf. Jy het geweet ek is kwaai, ek vat van mense goed wat ek nie gegee het nie en ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie. 23Hoekom het jy nie my geld in die bank gesit nie? Dan kon ek my geld en die *rente gekry het toe ek teruggekom het.’ 24Toe sê die koning vir sy *amptenare: ‘Vat die geldstuk van hom weg en gee dit vir die slaaf wat tien geldstukke het.’ 25Hulle het vir hom gesê: ‘Meneer, hy het klaar tien geldstukke.’ 26Maar die koning het gesê: ‘Ek sê vir julle, ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee, en ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het. 27En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle en maak hulle dood hier voor my.’ ”

Jesus ry op ’n donkie in Jerusalem in

(Ook Matt 21:1-3,6-9; Mark 11:1-10; Joh 12:12-14)

28Nadat Jesus hierdie *gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem. 29Toe Hy naby die dorpies Betfage en Betanië op die Olyf-berg kom, het Jesus twee van sy *dissipels gestuur 30en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit ’n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hier. 31En wanneer iemand vir julle vra hoekom julle die donkie losmaak, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik.”

32Daardie twee dissipels het toe gegaan en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. 33Toe hulle die donkie losmaak, het sy eienaars vir die dissipels gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?”

34Die dissipels het gesê: “Die Here wil hom gebruik.”

35Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe, en hulle gooi van hulle klere oor die donkie, en hulle tel Jesus op die donkie. 36Daarna het Jesus verder gery op die donkie, en die mense het van hulle klere op die pad voor Hom oopgegooi. 37Toe Jesus naby Jerusalem kom, op die pad wat van die Olyf-berg na onder gaan, was al die mense wat saam met Jesus geloop het, baie bly. Hulle het hard begin skree en hulle het God geprys oor al die wonderlike dinge wat hulle gesien het. 38Hulle het geskree:

*Prys die Man wat kom!

Hy is die Koning,

die Here het Hom gestuur!

Daar is vrede in die hemel,

God in die hoogste hemel

is Koning!

39Party van die *Fariseërs wat tussen die mense was, het vir Jesus gesê: “Meneer, jy moet vir jou dissipels sê hulle moet stilbly. Hulle mag nie hierdie dinge sê nie.”

40Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, dan sal die klippe hard skree en dit sê.”

41Toe Jesus nader gaan en Jerusalem sien, het Hy gehuil oor die stad. 42Hy het gesê: “Mense van Jerusalem, hoekom wil julle vandag nie verstaan wat dit is wat vir julle vrede sal bring nie. Julle wil dit nie sien nie. 43Ek huil oor julle, want daar sal ’n tyd kom wanneer julle vyande ’n *grondwal rondom die stad sal bou. Hulle soldate sal rondom julle wees en julle sal nie uit die stad kan gaan nie. 44Julle vyande sal die stad *verwoes en hulle sal julle almal doodmaak. Hulle sal alles afbreek, daar sal nie een muur bly staan nie. Hoekom? Omdat die tyd gekom het wanneer God julle wil red, maar julle verstaan dit nie.”

Jesus jaag die verkopers uit die tempel

(Ook Matt 21:12-13; Mark 11:15-18; Joh 2:13-14,16)

45Jesus het toe na die *tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop. Jesus het hulle uitgejaag. 46Hy het vir hulle gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘God het gesê:

“ ‘*My *tempel moet ’n plek wees

waar mense bid.’

*Maar julle het dit verander,

dit is nou ’n plek

waar diewe bymekaarkom.”

47Jesus het elke dag vir die mense in die tempel geleer. Die *priesterleiers, die *skrifgeleerdes en die leiers van die volk het planne gemaak om Hom dood te maak, 48maar hulle kon nie besluit hoe hulle dit sal doen nie, want al die mense het van Jesus gehou en hulle het graag na Hom geluister.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index