Search form

Numeri 11

Die Brandplek

1Eendag het die Israeliete gekla dat dit sleg gaan met hulle, en die Here het gehoor dat hulle kla. Hy het kwaad geword en Hy het vuur tussen hulle laat brand. Die buitenste deel van die kamp het verbrand. 2Die volk het gevra dat Moses hulle moet help, en Moses het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 3Hulle het daardie plek “Die Brandplek” genoem, omdat die Here daar ’n vuur tussen hulle laat brand het.

Die volk kla oor kos

4Eendag het ’n paar slegte mense wat tussen die Israeliete was, baie lus geword vir vleis. Die Israeliete het ook gehuil en gevra: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet? 5Ons dink aan die vis wat ons in Egipte kon eet, ons het nie daarvoor betaal nie. En ons dink aan die komkommers, die spanspekke, die *preie, die uie en die knoffel. 6Maar nou moet ons droë kos eet. Ons sien net *manna, niks ander kos nie.”

7Die manna was soos koljander-saad en dit het geblink soos ’n boom se gom. 8Die mense het gegaan en hulle het die manna bymekaargemaak. Hulle het dit gemaal op *maalklippe of dit fyngestamp in *stampblokke, en dan het hulle dit gekook en koekies daarvan gemaak. Die koekies het gesmaak soos olyfolie-koekies. 9Wanneer die *dou in die nag in die kamp geval het, dan het die manna saam met die dou geval.

Moses kla by die Here

10Moses het gehoor dat die mense huil, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here was baie kwaad, en Moses was bang en ontsteld daaroor. 11Moses het vir die Here gevra: “Hoekom laat U my swaarkry? Ek is u *dienaar. Hoekom is U onvriendelik met my? U het gesê ek moet hierdie hele volk dra, en dit is ’n swaar vrag om te dra. 12Ek is nie hulle ma nie, maar U sê vir my ek moet hulle soos ’n kinder-oppasser teen my bors dra na die land wat U aan hulle *voorvaders belowe het. 13Waar moet ek vleis kry vir al hierdie mense? Want hulle huil by my en hulle sê ek moet vir hulle vleis gee om te eet. 14Ek kan nie hierdie hele volk alleen dra nie, dit is te swaar vir my. 15As U my so swaar wil laat kry, dan sal dit beter wees as U my doodmaak, dit sal beter wees vir my. U moenie my so swaar laat kry nie.”

Die 70 leiers

16Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet vir My 70 van Israel se leiers laat bymekaarkom. Jy weet wie is goeie leiers en voormanne. Jy moet hulle neem na die tent waar Ek aan die Israeliete *verskyn, en jy moet hulle daar by jou laat staan. 17Ek sal afkom en daar met jou praat en Ek sal van die gees wat in jou is, neem en dit in hulle laat kom. Dan kan hulle saam met jou die volk dra en dan moet jy dit nie alleen doen nie. 18En jy moet vir die volk sê: Julle moet julleself *wy vir môre, want môre sal julle vleis eet. Die Here het gehoor dat julle gehuil en gekla het. Julle het gesê: ‘Wie sal hier vir ons vleis gee om te eet? Dit was vir ons beter in Egipte.’ Die Here sal môre vir julle vleis gee en julle sal dit eet. 19Julle sal nie een dag lank eet nie, nie twee dae nie, nie vyf dae nie, nie tien dae nie, nie 20 dae lank nie, 20nee, julle sal ’n hele maand lank eet, totdat die vleis by julle neuse uitkom en julle naar word daarvan. Want julle het gewys dat die Here nie vir julle belangrik is nie, die Here wat tussen julle is. Hy het gehoor dat julle huil en vra: ‘Hoekom het ons weggegaan uit Egipte?’ ”

21Toe sê Moses vir die Here: “Daar is 600 000 manne hier by my wat oorlog kan maak, en U sê U sal vir hulle vleis gee en hulle sal ’n maand lank eet. 22Is daar genoeg skape en beeste en bokke om vir hulle te slag? Sal al die vis in die see genoeg wees as ons dit kry en dit vir hulle bymekaarmaak?”

23Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy dat Ek dit nie kan doen nie? Jy sal nou sien of dit wat Ek gesê het, sal gebeur of nie.”

24Moses het uitgegaan en hy het vir die volk gesê wat die Here gesê het. Toe het hy 70 van die leiers van Israel laat bymekaarkom en hy het gesê hulle moet rondom die tent staan. 25Daarna het die Here in ’n wolk afgekom en Hy het met Moses gepraat. Die Here het van die gees geneem wat in Moses was, en Hy het dit in die 70 leiers gesit. En toe die gees in die 70 manne kom, het hulle soos *profete gepraat. Maar hulle het dit net daardie een maal gedoen. 26Twee manne, Eldad en Medad, het nie uitgegaan na die tent nie, hulle het in die kamp gebly. Hulle name was ook by die name van die 70 leiers. Toe die gees in hulle kom, het hulle daar in die kamp soos profete begin praat. 27’n Jongman het gehardloop en hy het vir Moses gaan sê dat Eldad en Medad besig is om in die kamp soos profete te praat. 28Josua seun van Nun het vir Moses gewerk vandat hy klein was. Hy het gesê: “Meneer Moses, jy moet hulle stop.”

29Maar Moses het gesê: “Is jy bekommerd oor my? Ek wens die Here gee vir sy hele volk van sy Gees, sodat hulle almal profete kan wees.”

30Moses en die leiers van Israel het toe teruggegaan na die kamp.

Die Here gee vir die volk vleis om te eet

31Die Here het toe ’n wind gestuur, en die wind het van die see af *kwartels gebring en by die kamp laat val. Die kwartels het omtrent twee *el diep op die grond gelê, omtrent so ver soos ’n mens in een dag kan loop langs al die kante van die kamp. 32Die mense het begin en hulle het daardie hele dag en die hele nag en die hele dag daarna kwartels bymekaargemaak. Die minste wat een persoon bymekaargemaak het, was tien *gomer. Hulle het die kwartels rondom die kamp gegooi om droog te word. 33Die mense het begin eet, maar hulle het nog nie die vleis in hulle monde begin kou nie, toe laat die Here baie van hulle sterf, want Hy was kwaad vir hulle. 34Hulle het die mense daar begrawe, die mense wat so lus was vir vleis, en hulle het die plek genoem “Lus-grafte.” 35Die volk het van Lus-grafte verder gegaan, en hulle het gekom by die stad Gaserot.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index