Search form

Numeri 16

Korag en sy groep is opstandig teen Moses

1-2Korag, Datan, Abiram en On het *opstandig geword teen Moses. Korag was die seun van Jishar seun van Kehat seun van Levi, Datan en Abiram was die seuns van Eliab, en On was die seun van Pelet. Hulle was uit die *nageslag van Ruben. Saam met hulle was daar 250 manne van Israel, manne wat leiers van die volk was. Die *volksvergadering het hulle voorheen gekies, en almal het hulle geken. 3Hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en vir hulle gesê: “Julle wil alles self doen. Almal in die volk is *gewyd, en die Here is by hulle. Hoekom wil julle regeer oor die volk van die Here?”

4Toe Moses dit hoor, het hy gaan lê met sy gesig teen die grond. 5Hy sê toe vir Korag en al sy vriende: “Die Here sal môre wys wie aan Hom behoort en gewyd is. Hy sal wys vir wie Hy gekies het om vir Hom *offers te bring. 6Korag, jy en al jou vriende, dit is wat julle moet doen: Julle moet panne neem, 7en julle moet kole in die panne sit. Dan moet julle *wierook bo-op die kole sit en julle moet die panne na die *altaar bring. Julle moet dit môre doen. Die Here sal self kies wie gewyd is. *Leviete, julle moenie alles self wil doen nie.”

8Moses het vir Korag en sy vriende gesê: “Leviete, luister na wat ek sê: 9Die God van Israel het vir julle uit die volk Israel geneem om naby Hom te kom. Julle moet die werk in die *tempel-tent van die Here doen, julle moet dit doen vir die volk. Wat wil julle nog meer hê? 10Korag, die Here het jou en al die ander Leviete saam met jou naby Hom laat kom. Wil julle nou ook *priesters wees? 11Julle moet dit weet, jy en al jou vriende is opstandig teen die Here self. Hoekom beskuldig julle nou vir Aäron?”

12Moses het toe vir Korag en vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie. 13Jy het ons weggeneem uit ’n *vrugbare land om ons in ’n woestyn te laat sterf. Is dit nie genoeg nie? Wil jy ons nog meer laat swaarkry? 14Jy het ons nie na ’n vrugbare land geneem en vir ons koringlande en *wingerde gegee wat aan ons kan behoort nie. Wil jy aanhou om hierdie manne te *bedrieg? Ons sal nie kom nie.”

15Moses het baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “U moenie die offers neem wat hulle vir U wil gee nie. Ek het niks van hulle gevat nie en ek het niks verkeerd gedoen aan hulle nie.”

16Toe sê Moses vir Korag: “Môre moet jy en al jou vriende voor die Here kom staan, jy en hulle en Aäron. 17Elkeen van julle moet ’n pan neem en wierook daarin sit en hy moet dit vir die Here bring. Elkeen moet sy eie pan hê, daar moet 250 panne wees, en jy en Aäron moet ook elkeen ’n pan hê.”

18Die volgende oggend het elkeen toe sy pan geneem, en kole daarin gesit en wierook bo-op. Hulle het by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete *verskyn. Moses en Aäron het ook daar gestaan. 19Korag het die hele volksvergadering bymekaargeroep by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy het die volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en Aäron. Maar toe sien die hele volksvergadering die lig wat om die Here, die Koning is. 20En toe sê die Here vir Moses en Aäron: 21“Julle moet weggaan van hierdie volk, Ek wil hulle dadelik laat sterf.”

22Maar Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het gesê: “O God, U gee vir almal die lewe. Net een persoon het sonde gedoen, hoekom is U nou kwaad vir die hele volk?”

23Die Here sê toe vir Moses: 24“Sê vir die volk hulle moet weggaan van Korag, Datan en Abiram se tente.”

25Moses het opgestaan en hy het na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het saam met hom gegaan. 26Moses het vir die volk gesê: “Asseblief, gaan weg van die tente van hierdie slegte mense en moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, sodat julle nie verdwyn omdat hulle sonde gedoen het nie.”

27Die volk het toe weggegaan van die tente van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgekom en hulle het by die ingange van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue en hulle kinders en hulle ander mense. 28Toe sê Moses: “Julle sal nou weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen, julle sal weet dat ek nie self besluit het om dit te doen nie. 29As hierdie mense sterf soos mense gewoonlik sterf, as dieselfde met hulle gebeur wat met al die mense gebeur, dan het die Here my nie gestuur nie. 30Maar as die Here iets anders laat gebeur, en as die aarde sy mond oopmaak en hy sluk hulle in saam met alles wat aan hulle behoort, en as hulle lewendig afgaan na die *doderyk, dan moet julle weet dat hierdie mense gewys het dat die Here nie vir hulle belangrik is nie.”

31Nadat Moses dit gesê het, het die grond onder daardie mense oopgeskeur. 32Die aarde het sy mond oopgemaak en dit het hulle huisgesinne ingesluk, elkeen wat saam met Korag was, en alles wat aan hulle behoort het. 33Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig afgegaan na die doderyk. Die aarde het hulle toegemaak. Hulle het verdwyn uit die volk. 34Al die Israeliete naby hulle het gevlug toe hulle hoor hoe skree die mense. Die Israeliete was bang dat die aarde hulle ook sal insluk. 35Daarna het die Here ’n vuur gestuur, en die 250 mans wat die wierook wou offer, het verbrand.

36Die Here het vir Moses gesê: 37“Sê vir die *priester Eleasar seun van Aäron hy moet die panne optel en die kole weggooi, want 38die panne van hierdie sondaars wat gesterf het, is nou *gewyd. Julle moet die panne plat slaan en die plate teen die *altaar vasmaak. Die manne het die panne naby die altaar gebring, daarom is die panne gewyd, en die plate moet vir die Israeliete ’n *teken wees.”

39Die priester Eleasar het toe die *brons panne geneem en hy het hulle plat geslaan en die plate teen die altaar vasgemaak. 40Wanneer die Israeliete die plate sien, dan moes hulle onthou dat net iemand van die *nageslag van Aäron by die altaar mag kom om wierook te brand. As iemand anders daar wierook brand, dan sal dieselfde met daardie persoon gebeur wat met Korag en sy vriende gebeur het. Die Here het vir Moses gesê hy moet dit vir die Israeliete sê.

Die Israeliete is opstandig, en die Here straf hulle

41Die volgende dag het die hele *volksvergadering van die Israeliete vir Moses en Aäron beskuldig. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here doodgemaak!”

42Die Israeliete het *opstandig geword teen Moses en Aäron, maar toe hulle kyk na die tent waar die Here aan die Israeliete *verskyn, toe was die wolk oor die tent en toe sien hulle die lig wat om die Here, die Koning, is. 43Toe Moses en Aäron by die tent kom, 44het die Here vir Moses gesê: 45“Julle moet weggaan van die volksvergadering, Ek wil hulle nou dadelik laat sterf.”

Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond. 46Toe sê Moses vir Aäron: “Neem ’n pan en sit daarin van die kole wat op die *altaar is. Sit dan *wierook bo-op en gaan gou na die volksvergadering toe en doen *versoening vir hulle. Die Here is baie kwaad, en daar is mense wat begin sterf.”

47Aäron het gedoen wat Moses gesê het. Die mense het begin sterf, maar Aäron het tussen hulle ingehardloop en hy het die wierook gebrand en versoening gedoen vir hulle. 48Terwyl hy daar staan tussen die mense wat gesterf het en die mense wat nog gelewe het, het daar nie meer mense gesterf nie. 49Daar was 14 700 mense wat gesterf het. Korag en sy vriende het ook gesterf. 50Aäron het teruggegaan na Moses by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Daar het nie nog mense gesterf nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index