Search form

Numeri 29

Die offers op die Nuwejaar-fees

1“Op die eerste dag van die sewende maand moet julle bymekaarkom en julle moet julleself *wy. Julle mag nie op daardie dag die werk doen wat julle altyd doen nie. 2Julle moet vir die Here ’n *brand-offer bring wat lekker ruik vir Hom. Die brand-offer is: ’n bul, ’n skaap-ram en sewe jaaroud ram-lammers. Dit moet gesonde diere wees. 3Julle moet dit gee saam met die *koring-offer wat by elke brand-offer moet wees. Die koring-offer moet van die beste meel wees wat julle moet meng met olyf-olie. Die koring-offer is: drie tiendes van ’n *efa meel vir die bul, twee tiendes van ’n efa meel vir die skaap-ram 4en een tiende van ’n efa meel vir elke lam. 5Julle moet ook ’n bok-ram gee om ’n *sonde-offer te wees wat *versoening kan doen vir julle. 6Julle moet hierdie *offers bring saam met die brand-offer op die *Nuwemaan-fees en die koring-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring. Dit is ook saam met die brand-offer wat julle elke dag moet bring en die koring-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring, en saam met die *drank-offers wat by al die offers moet wees. Julle moet dit doen soos die Here vir julle gesê het. Die offers ruik lekker vir die Here, dit is ’n *vuur-offer vir Hom.”

Die offers op Versoendag

7Die Here het vir Moses gesê: “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle bymekaarkom en julle moet julleself aan die Here *wy. Julle mag dan nie eet nie en julle mag nie julle werk doen wat julle altyd doen nie. 8Julle moet vir die Here ’n *brand-offer gee wat lekker ruik vir Hom. Die brand-offer is: ’n bul, ’n skaap-ram en sewe jaaroud ram-lammers. Dit moet gesonde diere wees. 9Julle moet dit gee saam met die *koring-offer wat by die brand-offer moet wees. By die bul moet julle drie tiendes van ’n *efa van die beste meel gee wat julle met olyf-olie moet meng, by die skaap-ram twee tiendes van ’n efa meel 10en by elke lam een tiende van ’n efa meel. 11Julle moet ook ’n bok-ram gee om ’n *sonde-offer te wees saam met die sonde-offer vir *versoening. Julle moet hierdie *offers gee saam met die brand-offer wat julle altyd moet bring en die koring-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring, en saam met die *drank-offer wat julle by elke offer moet gee.”

Die offers op die Hutte-fees

12Die Here het vir Moses gesê: “Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle bymekaarkom en julle moet julleself *wy. Julle mag nie op daardie dag julle werk doen wat julle altyd doen nie. Julle moet hierdie fees sewe dae lank vir die Here vier. 13-34Julle moet elke dag bulle, skaap-ramme en jaaroud ram-lammers gee. Dit moet gesonde diere wees. Dit moet ’n *brand-offer wees, ’n *vuur-offer wat lekker ruik vir die Here. Saam met die brand-offer moet julle ’n *koring-offer gee van die beste meel wat julle met olyf-olie moet meng. Vir elke bul moet julle drie tiendes van ’n *efa meel gee, vir elke skaap-ram twee tiendes van ’n efa meel en vir elke lam een tiende van ’n efa meel. Julle moet elke dag ook ’n bok-ram gee om ’n *sonde-offer te wees. Julle moet hierdie *offers gee saam met die brand-offer wat julle elke dag moet bring en die koring-offer en die *drank-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring.

“Op die eerste dag moet julle 13 bulle, twee skaap-ramme en 14 lammers gee, op die tweede dag twaalf bulle, twee ramme en 14 lammers, op die derde dag elf bulle, twee ramme en 14 lammers, op die vierde dag tien bulle, twee ramme en 14 lammers, op die vyfde dag nege bulle, twee ramme en 14 lammers, op die sesde dag ag bulle, twee ramme en 14 lammers, op die sewende dag sewe bulle, twee ramme en 14 lammers.

35“Op die agste dag moet julle ’n *gewyde feesdag hê, julle mag nie op daardie dag julle werk doen wat julle altyd doen nie. 36Julle moet ’n brand-offer gee, dit is ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here. Die vuur-offer is: ’n bul, ’n skaap-ram, en sewe jaaroud ram-lammers. Dit moet gesonde diere wees. 37Saam met die brand-offer moet julle die koring-offer en die drank-offer gee wat by elke offer moet wees, julle moet dit by elke bul en elke ram en elke lam gee, soos die Here gesê het. 38Julle moet ook ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees. Julle moet hierdie offers gee saam met die brand-offer wat julle elke dag moet bring en die koring-offer en die drank-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring.

39“Dit is die offers wat julle moet bring vir die Here wanneer julle *feesvier. Julle moet die brand-offers, die koring-offers, die drank-offers en die *ete-offers gee saam met die *gelofte-offers en met die offers wat julle self besluit om te bring.”

40Moses het vir die Israeliete alles gesê wat die Here vir hom gesê het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index