Search form

Spreuke 25

Wanneer jy by die koning is

1Die volgende *spreuke is ook Salomo-spreuke. Koning Hiskia van *Juda se manne het hierdie spreuke bymekaargemaak.

2Mense respekteer en dien vir God,

maar hulle weet nie alles van Hom nie.

Mense respekteer ’n koning

wanneer die koning probeer om alles te weet.

3Niemand weet hoe hoog die hemel is

en hoe diep die aarde is nie,

en niemand weet wat die koning alles dink nie.

4Wanneer jy die vuil stukkies en die skuim

uit gesmelte silwer haal,

dan kan ’n *silwersmid iets maak

van die silwer.

5Wanneer jy die mense wat verkeerd doen,

wegvat van die koning,

dan kan die koning *regverdig regeer.

6Jy moenie probeer wys jy is belangrik

wanneer jy by die koning is nie,

jy moenie gaan staan

waar die belangrike mense staan nie.

7Want dit is beter as iemand vir jou sê:

“Kom op hiernatoe,”

beter as dat hy vir jou sê jy moet jou plek

vir ’n belangrike persoon gee.

Jy en jou naaste

Wanneer jy by jou *naaste iets gesien het

wat verkeerd is,

8dan moet jy dit nie dadelik

in die hof gaan vertel nie.

Wat sal jy doen wanneer jou naaste bewys

dat jy verkeerd is?

9Wanneer jy jou naaste wil beskuldig,

dan moet jy nie vertel wat iemand anders

vir jou gesê het toe julle alleen was nie.

10As jy dit doen, en jou naaste hoor dit,

dan kan hy miskien sê jy praat nie die waarheid nie,

en almal sal onthou wat jy gedoen het.

11Wanneer iemand die regte ding sê

op die regte tyd,

dan is dit soos goue appels

wat iemand op silwer vasgesit het.

12Wanneer iemand wat *wysheid het,

vir jou sê hoe jy moet lewe,

dan is dit soos ’n goue ring,

soos juwele van goud.

13Wanneer iemand ’n *slaaf gestuur het

en die slaaf het die boodskap reg gebring,

dan is dit soos wanneer dit warm was

en sneeu het dit lekker koel gemaak.

Dit laat die slaaf se eienaar goed voel.

14Wanneer iemand spog oor ’n present

wat hy nie gee nie,

dan is dit soos wanneer daar wolke is en die wind waai,

maar daar is nie reën nie.

15As jy baie geduldig is,

dan kan jy met ’n *regeerder praat

en hom laat besluit om iets te doen,

as jy vriendelik praat, dan sal hy miskien begin dink

dat hy iets op ’n ander manier moet doen.

16Wanneer jy heuning kry,

dan moet jy nie te veel eet nie.

As jy te veel eet, dan sal jy naar word.

17Jy moenie te veel by jou naaste kuier nie.

As jy te veel by hom kom,

dan sal hy nie meer lief wees vir jou nie.

18Iemand wat ’n *vals getuie

teen ’n ander mens is,

is soos ’n knopkierie, ’n swaard of ’n skerp pyl.

19Jy moenie dink dat ’n *ontrou mens

jou sal help wanneer dit sleg gaan met jou nie.

’n Ontrou mens is soos ’n stukkende tand of ’n lam voet.

20Jy moenie vra dat iemand wat wil huil,

liedjies moet sing nie.

Dit is soos wanneer jy op ’n koue dag

iemand se klere wegvat,

of soos wanneer jy asyn op ’n seerplek gooi.

21Wanneer iemand wat vir jou haat, honger is,

dan moet jy vir hom kos gee om te eet.

Wanneer hy dors is,

dan moet jy vir hom water gee om te drink.

22Dan sal jy hom skaam laat word

omdat hy jou haat,

en die Here sal jou *beloon.

23Wanneer die noordewind waai, dan gaan dit reën.

Wanneer iemand skinder, dan word mense kwaad.

24Dit is beter om bo-op ’n huis se dak te woon

as om in ’n huis te woon saam met ’n vrou wat aanhou kla.

25Goeie nuus uit ’n ver land

is soos koue water in die keel van ’n mens wat moeg is.

26’n Mens wat reg gelewe het en dan kies

om dieselfde dinge te doen soos ’n persoon

wat verkeerd lewe,

is soos ’n fontein of ’n *put vol vuil water.

27Dit is sleg wanneer jy te veel heuning eet,

en ook wanneer iemand jou te veel respekteer.

28Iemand wat homself nie kan regeer nie,

is soos ’n stad wat nie meer ’n muur rondom hom het nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index