Search form

Psalm 106

Ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig

1Julle moet die Here prys.

Julle moet vir die Here dankie sê,

want Hy is goed,

ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.

2Niemand kan sê hoe sterk die Here is nie,

niemand kan Hom reg prys nie.

3Dit gaan goed met mense

wat aanhou om reg te *oordeel,

met mense wat altyd reg doen.

4Here, wanneer U goed is vir u volk,

dan moet U ook aan my dink.

Wanneer U hulle red,

dan moet U my nie vergeet nie.

5Dan sal ek sien hoe goed gaan dit

met u mense, U het hulle gekies.

Ek sal bly wees wanneer u volk bly is,

ek sal juig saam met die mense wat aan U behoort.

6Ons het sonde gedoen soos ons *voorvaders,

ons het verkeerde dinge gedoen, ons is *skuldig.

7Ons voorvaders het in Egipte

nie u *wonderwerke verstaan nie,

hulle het nie onthou dat U altyd

doen wat U belowe het nie.

Hulle was *opstandig by die see, die Riet-see.

8Maar Hy het hulle gered omdat Hy God is,

omdat Hy wou hê hulle moet weet

dat Hy sterk is.

9Hy het hard gepraat met die Riet-see,

en die see het droog geword.

Hy het ons voorvaders laat deurloop

op die plek waar daar voorheen *diep water was,

hulle het deurgeloop soos in ’n woestyn.

10Hy het hulle gered van die mense

wat vir hulle gehaat het,

Hy het hulle vrygemaak van hulle vyande.

11Die water het bo-oor hulle vyande gespoel,

nie een van hulle het aangehou lewe nie.

12Toe het ons voorvaders geweet

dat die Here doen wat Hy sê,

hulle het gesing en Hom geprys.

13Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het,

hulle het nie gewag totdat Hy vir hulle sê

wat hulle moet doen nie.

14Hulle was honger vrate in die woestyn,

hulle het God getoets in die woestyn.

15En Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,

maar Hy het hulle ook siek gemaak en maer laat word.

16Hulle was in die kamp baie kwaad vir Moses

en vir Aäron wat aan die Here *gewy was.

17Toe het die aarde oopgegaan en vir Datan ingesluk,

dit het toegegaan oor Abiram en sy vriende.

18’n Vuur het hulle almal gebrand,

’n vlam het die mense verbrand

wat verkeerd gedoen het.

19Hulle het by Horeb ’n *kalfbeeld gemaak,

hulle het gebuig voor ’n *beeld.

20Hulle het hulle Koning gelos en hulle het ’n beeld aanbid,

’n beeld van ’n bul wat gras vreet.

21Hulle het vir God vergeet, God wat vir hulle gered het,

God wat groot dinge gedoen het in Egipte,

22wonderwerke in die land van Gam,

en dinge by die Riet-see, dit het die mense bang laat word.

23Die Here het besluit om hulle almal te laat sterf,

en Hy sou dit gedoen het, maar Moses het vir Hom gesoebat

om dit nie te doen nie.

Die Here het voorheen vir Moses gekies,

en Moses het nou gekeer dat die Here

hulle nie almal doodmaak nie.

24Die mense het gemaak of die mooi land niks beteken nie,

hulle het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy gesê het nie.

25Hulle het in hulle tente gesit en kla,

hulle wou nie luister na wat die Here sê nie.

26Die Here het vas besluit dat Hy hulle sou laat sterf

in die woestyn,

27dat Hy hulle *nageslag sou laat sterf tussen *heidene,

dat Hy hulle oral na ander lande sou jaag.

28Hulle het vir *Baäl-Peor begin dien,

hulle het vleis geëet wat die mense *ge-offer het vir dooie *afgode.

29Hulle het die Here kwaad gemaak

omdat hulle verkeerde dinge gedoen het,

en hulle het baie siek geword.

30Maar Pinehas het opgestaan

en hy het die mense gestraf wat skuldig was,

en toe het die mense nie meer siek geword nie.

31Mense sal altyd en altyd onthou

dat Pinehas gedoen het wat reg was.

32*Die volk het die Here kwaad gemaak

by die *Meriba-water,

en dit het sleg gegaan met Moses

omdat hulle dit gedoen het.

33Hulle het Moses baie kwaad gemaak,

hy het nie gedink wat hy sê nie,

en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was.

34Die Here het vir die volk gesê

hulle moet die volke wat heidene was,

almal doodmaak,

maar hulle het dit nie gedoen nie.

35Hulle het met heidene getrou

en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen.

36Hulle het die heidene se afgode begin dien,

en dit het hulle vasgevang

soos ’n *vangstrik ’n voël vasvang.

37Hulle het hulle seuns en hulle dogters

vir die *veldgode ge-offer.

38Hulle het *onskuldige mense vermoor,

hulle het hulle eie seuns en dogters

ge-offer vir die afgode van Kanaän.

Hulle het die land vuil gemaak met bloed.

39Hulle het *onrein geword oor die dinge

wat hulle gedoen het,

hulle was *ontrou aan God,

hulle het baie verkeerde dinge gedoen.

40Die Here het baie kwaad geword vir sy volk,

Hy het nie meer gehou van die mense

wat aan Hom behoort nie.

41Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee,

sodat die heidene oor hulle kon regeer,

die heidene wat vir hulle gehaat het.

42Die volk se vyande het hulle verdruk

en laat swaarkry.

43Die Here het hulle baie maal gered,

maar hulle het besluit om opstandig te bly,

hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen.

44Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle

en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help.

45Hy het toe gedink aan sy *verbond met hulle

en Hy het dit beter laat gaan met hulle,

Hy het onthou dat hulle sý mense is.

46Hy het hulle vyande se harte verander,

die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het.

Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here.

47Ons God die Here, U moet ons red,

U moet ons bymekaarmaak tussen die volke,

sodat ons u *heilige Naam kan sê

en vir U dankie kan sê,

sodat ons dit sal geniet om U te prys.

48*Almal moet die Here, die God van Israel, prys,

hulle moet Hom altyd en altyd prys.

En die hele volk moet sê: Amen.

Julle moet die Here prys!

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index