Search form

Psalm 16

U leer vir my hoe om te lewe

1’n Lied van Dawid.

My God, U moet my beskerm,

ek wil veilig wees by U.

2Here, ek het vir U gesê ek behoort aan U,

al die goeie dinge wat ek het, kom van U.

3Daar is *afgode in hierdie land,

en daar is mense wat van hulle hou

en wat dink dat die afgode *heilig en sterk is.

4Dit sal baie sleg gaan met mense

wat in daardie afgode glo.

Ek sal nie *drank-offers van bloed

vir hulle gee nie,

ek sal nooit hulle name sê nie.

5Here, ek het net vir U,

dit is net U wat my kan laat lewe,

dit is Ú wat besluit wat met my sal gebeur.

6U laat my woon op ’n plek wat baie mooi is,

ek is lief vir die plek wat U vir my gegee het.

7Ek prys die Here, Hy sê vir my wat ek moet doen,

ook in die nag dink ek aan wat U vir my leer.

8Ek weet die Here is altyd naby my.

Ek val nie, want Hy is by my.

9Daarom, ek is bly, ek juig, ek is altyd veilig,

10want U sal my nie los nie, ek sal nie sterf nie.

Ek glo in U, en U sal my nie in die graf laat kom nie.

11U leer vir my hoe om te lewe,

U leer vir my dat ’n mens wat naby U is,

’n dankbare mens is,

U leer vir my dat dit altyd lekker is by U.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index