Search form

Psalm 4

U kan my veilig laat slaap, net U kan dit doen

1Vir die leier van die koor: Met *snaarmusiek. ’n Psalm van Dawid.

2O God, U weet ek is *onskuldig,

U moet my antwoord en my help wanneer ek roep.

U het my gered toe dit sleg gegaan het met my.

Nou moet U goed wees vir my en luister na wat ek bid.

3Mense, hoe lank wil julle aanhou om my te *verneder?

Hoe lank wil julle my vals beskuldig en lieg oor my?

*Sela

4Julle moet weet, die Here het ’n *wonderwerk gedoen

vir my wat in Hom glo.

Die Here sal nou ook hoor wanneer ek roep

en vra dat Hy my moet help.

5Julle moenie sonde doen

wanneer julle kwaad en ontsteld is nie.

Wanneer julle gaan slaap

en julle dink oor die dinge wat vir julle kwaad gemaak het,

dan moet julle nie daaroor praat nie.

Sela

6Julle moet die regte *offers bring

en julle moet glo dat die Here julle sal help.

7Daar is baie mense wat vra:

“Wie sal dit goed laat gaan met ons?”

Here, U moet weer goed wees vir ons.

8U het my bly gemaak,

blyer as mense wat baie koring en wyn het.

9Here, ek is nie bekommerd

wanneer ek gaan lê en aan die slaap raak nie,

want U kan my veilig laat slaap, net U kan dit doen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index