Search form

Psalm 62

Ek kan net by God stil wees

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Jedutun.” ’n Psalm van Dawid.

2Ek kan net by God stil wees,

dit is Hý wat my red.

3Net Hy is my rots,

Hy red my en beskerm my,

my vyande kan my nie oorwin nie.

4My vyande, hoe lank sal julle my nog aanval

en my probeer vermoor, julle almal?

Ek is soos ’n muur wat amper omval

wanneer mense dit wil omstoot,

soos ’n klipmuur wanneer hulle dit wil omstamp.

5My vyande wil net een ding doen,

hulle wil my *verneder.

Hulle hou daarvan om te lieg.

Hulle sê dat hulle my *seën,

maar in hulle hart *vervloek hulle my.

6Ek kan net by God stil wees,

ek wéét Hy sal my help.

7Net Hy is my rots,

Hy red my en beskerm my,

my vyande kan my nie wen nie.

8Dit is God wat my sal red

en wat vir my *eer sal gee.

Hy is my sterk rots, ek vra dat Hy my moet beskerm.

9My volk, julle moet altyd glo dat God julle sal help,

julle moet vir Hom sê hoe julle in julle harte voel.

God sal ons beskerm.

*Sela

10Mense is soos wind,

mense beteken niks.

Wanneer jy hulle op ’n *weegskaal sit,

dan sal jy sien hulle weeg niks.

Hulle almal saam beteken minder as wind.

11Julle moenie dink dat dit met julle goed sal gaan

wanneer julle die goed vat wat julle nie moet kry nie,

julle moenie dink dat dit vir julle sal help

om ander mense se goed te vat nie.

En wanneer julle ryk word, moenie dan dink

dat julle alles het wat julle moet hê nie.

12God het een ding gesê,

nee, ek het twee dinge gehoor:

Hy het gesê dat dit net Hy is wat sterk is,

13en, Here, U het gesê dat U doen wat U belowe het,

want U self *beloon elke mens

vir die dinge wat hy gedoen het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index