Search form

Psalm 65

U sorg vir die aarde

1Vir die leier van die koor: ’n Psalm van Dawid. ’n Lied.

2O God, ons wil stil wees voor U,

ons wil U prys in *Sion,

ons wil doen wat ons vir U belowe het.

3Dit is U wat luister wanneer mense tot U bid.

Al die mense wil na U toe kom

4om te *bely dat hulle sondaars is.

Ons sondes is vir ons te veel om te dra,

dit is U wat ons sondes moet wegneem.

5Dit gaan goed met iemand

wanneer U hom kies

en hom laat nader kom

om voor u *tempel te staan.

Hy sal genoeg kry van al die goeie dinge

in u tempel, u *gewyde woonplek.

6Wanneer U reg doen aan ons

en vir ons antwoord,

dan doen U wonderlike dinge,

U, die God wat ons red.

Al die mense weet dat U sal help,

al die mense in die verste plekke op die aarde

en ver anderkant die see.

7U is sterk, sterker as alles en almal,

U het die berge neergesit op hulle plek.

8Wanneer U praat, dan word die see en sy branders stil,

en die volke hou op om te raas.

9Die *wonderwerke wat U doen,

laat die mense op die hele aarde bang word.

U laat hulle vrolik sing in die ooste en in die weste.

10U sorg vir die aarde, U gee die reën,

U maak die grond baie *vrugbaar.

’n Groot stroom water kom van U

en U laat die koring groei,

ja, U doen dit alles.

11U laat dit baie reën in die koringlande,

daar is baie water waar die mense geploeg het.

U maak die harde stukke grond nat,

dit word sag van die reën.

U laat die plante groei.

12U maak dit ’n mooi jaar,

alles groei goed, oral waar U gaan.

13Die weivelde is vol gras,

die heuwels juig.

14Die veld is vol skape en bokke,

die valleie is vol koring,

die mense skree, hulle sing.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index