Search form

Psalm 7

U moet my Regter wees

1’n *Klaaglied van Dawid. Hy het hierdie lied vir die Here gesing oor iets wat Kus, van die *Benjamin-stam, vir hom gesê het.

2My God die Here, ek vra vir Ú om my te beskerm.

Mense jaag my en hulle wil my vang,

U moet my red en my vrymaak.

3As U dit nie doen nie,

dan sal hulle my doodbyt

soos ’n leeu ’n dier doodbyt

wanneer daar niemand is

wat die dier kan red nie.

4My God die Here, my vyande sê

ek het verkeerde dinge gedoen,

5hulle sê ek het my vriende *verraai

en ek het my vyande se goed gevat

toe hulle niks verkeerd gedoen het aan my nie.

6As dit waar is dat ek dit gedoen het,

dan moet my vyande my vang

en my doodtrap en in die stof laat lê.

*Sela

7Here, U moet kwaad word,

U moet my vyande aanval

wat so kwaad is vir my,

U moet my nou help.

U het gesê mense moet reg doen aan mekaar.

8U moet al die volke bymekaarbring by U

en U moet hoog bo hulle gaan sit op u *troon.

9Here, dit is U wat die volke sal *oordeel,

U moet my *Regter wees,

U weet ek het reg gedoen

en ek is *onskuldig.

10U toets ’n mens,

U weet wat hy in sy hart voel en wat hy dink,

U is die *Regverdige God.

Asseblief, U moet die mense wat verkeerd doen,

laat ophou verkeerd doen,

U moet dit goed laat gaan met die mense wat reg doen.

11U is my *skild, o God, U beskerm mense wat eerlik is.

12U is ’n *regverdige Regter, o God,

U is ’n God wat altyd mense straf wat *skuldig is.

13Die vyand hou nie op nie, hy maak sy swaard skerp,

hy trek sy boog styf, hy wil my skiet.

14Maar sy eie wapens sal hom doodmaak,

die pyle wat hy maak, sal sy eie huis aan die brand steek.

15Almal kan sien hy hou aan om verkeerde dinge te doen,

hy laat mense swaarkry en hy lieg.

16Maar hy sal self val in die diep gat

wat hy vir my gegrawe het.

17Hy wil my laat swaarkry en my seermaak,

maar hy sal self swaarkry en seerkry.

18Ek sal die Here prys wat reg sal doen aan my.

Ek sal sing oor die Naam van die Here,

die *Hoogste God.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index