Search form

Psalm 74

Wil U altyd kwaad bly vir ons?

1’n Lied van Asaf.

O God, hoekom het U ons weggegooi?

Wil U altyd kwaad bly vir ons,

vir ons wat u eie volk is?

2U moenie die mense vergeet

wat bymekaarkom om U te dien nie,

die mense wat U lank gelede vir U geneem het.

U het hulle vrygemaak om die volk te wees

wat aan U behoort.

U moenie die Sionsberg vergeet nie,

die plek waar U woon.

3U moet kom kyk na die hope klippe

wat so lank hier lê.

Die vyande het alles in die *tempel *verwoes.

4U vyande het soos leeus gebrul

binne-in die plek waar U

aan die volk *verskyn het

wat aan U behoort.

Hulle het hulle vlae daar kom neersit

om te wys dat hulle gewen het.

5Dit het gelyk soos wanneer mense

bosse afkap met byle,

6hulle het die mooi houtwerk in die tempel

stukkend geslaan met byle en ysters.

7Hulle het u tempel afgebrand,

hulle het die plek waar U self gewoon het,

afgebreek tot op die grond en hulle het dit *ontwy.

8Hulle wou ons heeltemal breek,

hulle het elke plek in die land afgebreek

waar God aan mense verskyn het.

9U het altyd vir ons gesê wat U wil doen,

maar U sê dit nie meer vir ons nie.

Daar was *profete, maar nou is daar nie een nie,

daar is niemand by ons wat weet

hoe lank dit nog so sal aanhou nie.

10O God, hoe lank sal die vyande nog aanhou spot?

Hoe lank sal hulle nog aanhou om u Naam te *laster?

Vir altyd?

11Hoekom steek U nie u hand uit

en help ons nie?

Hoekom maak U nie die vyande dood nie?

12God is my Koning van lank gelede af,

dit is Hý wat mense op die aarde red.

13O God, dit is U wat sterk is,

U het die see in twee gebreek.

U het die koppe van die *watermonsters

in die water stukkend geslaan.

14Dit is U wat die koppe van die watermonster *Leviatan

stukkend getrap het

en wat hom vir die haaie gegee het

om op te vreet.

15Dit is U wat fonteine en riviere laat vloei het,

dit is U wat riviere laat droog word het

waar daar altyd water was.

16Die dag en ook die nag behoort aan U.

Dit is U wat die son en die maan

op hulle plekke gesit het.

17Dit is U wat gesê het

waar die grense van die land moet wees.

U het die somer en die winter gemaak.

18Here, U moenie vergeet

hoe die vyande U *beledig het nie,

hulle is *dwase mense en hulle sê

u Naam is nie belangrik nie.

19U moenie dat hierdie mense

aanhou wen teen u volk nie,

hierdie mense wat soos wilde diere is.

U moenie u volk wat swak is,

vir altyd vergeet nie,

u volk wat homself nie kan help nie.

20U moet onthou dat U ’n *verbond

met ons gemaak het,

want in elke donker plek in die land

maak hulle die mense seer wat aan U behoort.

21U moenie die mense laat verloor

wat hulleself nie kan beskerm nie.

Die mense wat hulleself nie kan help nie

en wat niks het nie, wil u Naam prys.

22O God, U moet kom help,

U moet Uself verdedig,

want dwase mense hou aan

om U te beskuldig en te beledig.

23U moenie vergeet wat u vyande gesê het nie,

U moenie vergeet hoe die mense wat teen U *opstandig is,

aangehou skree en raas het nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index