Search form

Psalm 79

U moet ons red en U moet ons sondes vergewe

1’n Psalm van Asaf.

O God, *heidene het gekom in die plek

wat aan U behoort,

hulle het u *gewyde tempel *ontwy,

hulle het Jerusalem *verwoes,

en daar is nou net hope klippe.

2Hulle het die lyke van u *dienaars,

die liggame van die mense wat in U glo,

vir die voëls en die wilde diere gegee om te vreet.

3Hulle het u dienaars se bloed soos water

laat vloei rondom Jerusalem,

en daar was niemand wat hulle begrawe het nie.

4Ons bure *beledig ons,

die mense rondom ons lag vir ons en spot ons.

5Here, hoe lank moet dit aanhou?

Wil U altyd kwaad bly vir ons?

Moet dit aanhou om ons te brand soos ’n vuur?

6Dit is die heidene vir wie U kwaad moet wees,

die mense wat nie vir U ken nie en wat nie tot U bid nie.

7Want hulle het die *nageslag van Jakob doodgemaak

en hulle woonplek verwoes.

8U moenie vir ons straf oor die sondes

wat ons *voorvaders gedoen het nie.

U moet gou weer goed wees vir ons,

want dit gaan baie sleg met ons.

9O God, U wat ons elke maal gered het,

U moet ons help, sodat almal sal weet dat U God is.

U moet ons red en U moet ons sondes vergewe,

sodat almal sal weet wie U is.

10Die heidene vra:

“Waar is hulle God?”

U moet die heidene straf,

ons wil sien hoe die heidene voel

wanneer U hulle straf

omdat hulle u dienaars doodgemaak het

en hulle bloed laat vloei het.

11U moet luister hoe kla en sug die *gevangenes,

U moet die mense wat naby die dood is,

laat aanhou lewe.

U is sterk, U kan dit doen.

12Here, U moet aanhou om ons bure te straf

omdat hulle U beledig het.

13Dan sal ons, u volk, u eie mense,

altyd aanhou om vir U dankie te sê.

Ons sal vir elke *geslag vertel

hoekom hulle U moet prys.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index