Search form

Psalm 91

Ek weet U sal my beskerm

1Wanneer iemand veilig wil wees by die *Hoogste God,

wanneer hy wil hê die *Almagtige moet hom beskerm,

2dan sê hy vir die Here: “By U is ek veilig,

U is vir my soos ’n veilige plek in die berge.

My God, ek weet U sal my beskerm.”

3Ja, die Here sal jou red van die *vangnet

waarin iemand jou wil vang,

Hy sal jou red van die *pes wat alles *verwoes.

4Die Here sal jou beskerm

soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke beskerm,

Hy bly dieselfde, Hy sal vir jou wees soos ’n *skild,

soos ’n sterk muur om ’n stad.

5Jy moenie bang wees vir die dinge

wat jou in die nag laat skrik nie,

of vir die pyle wat mense in die dag na jou toe skiet nie.

6Jy moenie bang wees vir die pes

wat in die donker kom nie,

of vir die dinge wat in die dag alles verwoes nie.

7Wanneer 1 000 mense langs jou sterf, of 10 000,

dan sal daar niks wat sleg is, met jou gebeur nie.

8Jy sal dit self sien, jy sal kyk

hoe die Here die mense straf wat verkeerd doen.

9Jy het vir die Here gevra om jou te beskerm,

jy glo dat jy veilig sal wees by die Hoogste God,

10daarom sal daar niks wat sleg is, met jou gebeur nie,

en daar sal nooit siekte naby jou tent kom nie.

11Want die Here sal sy *engele stuur

om jou te beskerm oral waar jy gaan.

12Hulle sal jou dra,

en jy sal nie jou toon teen ’n klip stamp nie.

13Jy sal leeus en slange doodtrap.

14Die Here sê:

“Ek sal hom red omdat hy aanhou

om lief te wees vir My.

Ek sal hom beskerm omdat hy My ken.

15Hy sal roep en vra dat Ek hom moet help,

en Ek sal doen wat hy vra.

Ek sal by hom wees wanneer dit sleg gaan,

Ek sal hom red en Ek sal hom belangrik maak.

16Ek sal hom lank laat lewe, baie lank,

Hy sal weet dat Ek hom gered het.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index