Search form

Psalm 94

Die Here gooi nie sy volk weg nie

1Here, God wat mense straf

oor wat hulle gedoen het,

God wat mense straf, U moet kom.

2*Regter van die mense op die aarde,

U moet begin,

U moet die hoogmoedige mense straf

oor wat hulle gedoen het.

3Here, hoe lank sal die mense wat verkeerd doen,

juig oor wat met ander mense gebeur?

Hoe lank sal hulle aanhou om dit te doen?

4Hoe lank sal al die mense wat slegte dinge doen,

aanhou spog?

5Here, hulle laat u volk swaarkry,

hulle verdruk die mense wat aan U behoort.

6Hulle vermoor weduwees en *vreemdelinge,

hulle maak weeskinders dood,

7en dan sê hulle: “Die Here sien dit nie,

die *God van Jakob weet nie dat dit gebeur nie.”

8Dom mense van my volk, julle is *dwase,

julle moet verstaan.

Wanneer sal julle *verstandig word?

9Die Here het vir ons ore gegee.

Dink julle dat Hy nie self ook kan hoor nie?

Hy het vir ons oë gegee.

Dink julle dat Hy nie self ook kan sien nie?

10Hy straf die ander volke.

Dink julle dat Hy nie ook vir julle sal straf nie?

Dit is Hy wat vir mense leer wat hulle moet weet.

Dink julle dat Hy self niks weet nie?

11Die Here weet wat ’n mens dink,

Hy weet dit beteken niks.

12Dit gaan goed met iemand wanneer die Here

vir hom leer wat hy moet doen,

wanneer U vir hom leer wat U wil hê.

13U laat hom vry wegkom wanneer dit sleg gaan,

maar U maak ’n graf gereed

vir die mense wat verkeerd doen.

14Want die Here gooi nie sy volk weg nie,

Hy los nie die mense wat aan Hom behoort nie.

15Die mense wat moet *oordeel,

sal weer reg oordeel,

en al die eerlike mense sal sê dit is goed.

16Niemand het vir my gehelp veg

teen die slegte mense nie,

niemand het my gehelp

teen die mense wat slegte dinge doen nie.

17As die Here nie vir my gehelp het nie,

dan was ek lank gelede dood.

18Ek het gedink my voete gly,

maar U het gedoen wat U belowe het,

U het my regop gehou.

19Ek was baie bekommerd,

maar U het dinge vir my verander

en U het my bly laat word.

20U kan nie ’n vriend wees van slegte regters nie,

mense wat ongehoorsaam is aan u wette,

en wat ander mense laat swaarkry.

21Hulle maak saam planne

teen mense wat reg doen,

hulle sê *onskuldige mense is *skuldig.

22Maar die Here het my beskerm.

My God is die *Rots by wie ek veilig is.

23Hy sal daardie mense straf oor hulle sonde,

Hy sal hulle laat sterf oor die slegte dinge

wat hulle gedoen het.

Ons God die Here sal hulle laat sterf.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index