Search form

Openbaring 14

Die 144 000 mense op Sionsberg

1En ek het gekyk en gesien die *Lam staan op Sionsberg! Saam met Hom was daar 144 000 mense. Die Naam van die Lam en die Naam van die Vader was op hulle voorkoppe geskryf. 2Toe hoor ek die *engele in die hemel sing. Hulle stemme was so hard soos baie water wat raas, soos baie harde donderweer, soos wanneer mense op *harpe speel. 3Hulle het ’n nuwe lied gesing voor God se *troon en voor die *vier diere en voor die *ouderlinge. Net die 144 000 mense kon daardie lied leer, niemand anders nie, want God het hulle *losgekoop. 4Hulle het nie *onsedelik gelewe nie, hulle was *maagde. Hulle het oral saam met die Lam gegaan. God het hulle vrygekoop. Ja, hulle was die eerste mense wat aan Hom en aan die Lam behoort het, God het hulle losgekoop om aan Hom te behoort. 5Hulle het nooit leuens vertel nie, hulle het heeltemal reg gelewe.

God sal die mense oordeel

6Ek het ’n ander *engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het ’n boodskap gehad, ’n boodskap wat altyd goed is. Hy moes die boodskap bring vir die mense van al die lande, *stamme, tale en volke. 7Die engel het hard geskree en gesê: “Julle moet vir God respekteer, want Hy gaan nou die mense *oordeel! Julle moet Hom aanbid! Hy het die hemel en die aarde en die see en die fonteine gemaak.”

8’n Tweede engel het gekom. Hy het geskree en gesê: “*Babilon, die groot stad, is afgebreek en *verwoes! Ja, dit is plat! Babilon was soos ’n vrou wat *onsedelik lewe, dit was vir haar baie lekker om so te lewe. En sy het vir die mense van die ander volke geleer om onsedelik te lewe.”

9’n Derde engel het gekom. Hy het hard geskree en gesê: “God sal *die mense straf wat die dier en sy *beeld aanbid, die mense wat *die dier se merk op hulle voorkoppe of op hulle hande het! 10God is baie kwaad vir hulle. Hy sal hulle straf en Hy sal vir hulle die *beker van swaarkry laat drink. Hy sal hulle seermaak met vuur en *swael. God se engele en die *Lam sal dit sien gebeur. 11Die vuur wat hulle seermaak, hou aan om altyd te brand, en hulle kan nooit rus nie, nie in die dag nie en ook nie in die nag nie. So sal dit gaan met almal wat die dier en sy beeld aanbid en wat die merk van sy naam gekry het.”

12Die mense wat aan God behoort, moet geduldig wees wanneer hulle swaarkry, hulle wat doen wat God se wette sê en wat aanhou om in Jesus te glo.

13En ek het die stem van iemand in die hemel gehoor. Hy het gesê: “Jy moet skryf! Van nou af is almal wat aan die Here behoort en wat sterf, gelukkige mense!”

Die Heilige Gees het gesê: “Ja, hulle sal nie meer hard werk nie. Hulle sal rus, want hulle het baie goeie dinge gedoen.”

14Ek het gekyk en gesien daar was ’n wit wolk, en op die wolk het Iemand gesit wat lyk soos die *Seun van die mens! Hy het ’n goue *kroon op sy kop gehad en in sy hand was ’n skerp *sekel. 15Ek het ’n ander engel gesien. Hy het uit die *tempel in die hemel gekom. Hy het hard geskree vir die Persoon wat op die wolk sit en gesê: “Dit is nou die tyd om die mense te straf! U moet hulle straf soos wanneer ’n mens koring afsny. U moet u sekel gebruik en begin afsny! Die oes op die aarde is ryp!”

16En die Persoon wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde geswaai en Hy het afgesny. 17’n Ander engel het uit die tempel in die hemel gekom. Hy het ook ’n skerp sekel in sy hand gehad. 18En ’n ander engel het van die *altaar in die tempel in die hemel gekom. Dit was die engel wat regeer het oor al die vuur. Hy het vir die engel met die sekel geskree en gesê: “Dit is nou die tyd om die mense te straf! Die mense op die aarde is soos druiwetrosse. Gebruik jou skerp sekel, sny hulle af en maak hulle bymekaar soos ’n mens die druiwetrosse van ’n *wingerdstok bymekaarmaak! Jy moet dit doen, want die druiwe is ryp.”

19Die engel het sy sekel oor die aarde geswaai en hy het die druiwetrosse afgesny. Hy het dit in die groot *parskuip gegooi. Die parskuip beteken dat God baie kwaad is vir die mense en dat Hy hulle baie swaar sal straf. 20Die parskuip was buite die stad, en die engel het die druiwe in die parskuip getrap. Die bloed het by die parskuip uitgevloei. Dit was so diep dat dit tot by die perde se *tome gevloei het. Die bloed het *1 600 stadioi ver gevloei.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index