Search form

Openbaring 2

Die boodskap vir die gemeente in Efese

1“Jy moet vir *die engel van die gemeente in die stad Efese skryf:

*Die Een wat die sewe sterre in sy regter-hand vashou en wat tussen die sewe goue *lampe loop, sê:

2Ek weet alles wat jy doen. Ek weet jy werk hard vir My en jy is geduldig wanneer mense slegte dinge aan jou doen. Ek weet jy hou niks van slegte mense nie. Daar is mense by jou wat sê hulle is *apostels, maar hulle is nie apostels nie. Jy het hulle getoets en uitgevind dat hulle vals is. 3Jy hou aan om die Here te dien, jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy word nie moeg om swaar te kry nie.

4Maar Ek is kwaad vir jou. In die begin was jy baie lief vir My, maar nou is jy nie meer baie lief vir My nie. 5Ja, jy moet onthou hoe baie jy verander het, en dan moet jy weer lewe soos Ek wil hê jy moet lewe. Jy moet weer die dinge doen wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek kom en Ek sal *jou lamp wegneem van sy plek. Ja, jy moet weer lewe soos Ek wil hê.

6Maar jy doen een ding wat reg is. Jy haat die dinge wat die *Nikolaïete doen. Ek haat dit ook.

7As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou die vrugte gee van die boom wat lewe gee, die boom wat in God se tuin is.”

Die boodskap vir die gemeente in Smirna

8“Jy moet vir *die engel van die gemeente in die stad Smirna skryf:

Die Een wat die Eerste en die Laaste is, *Hy wat dood was maar wat weer lewe, Hy sê:

9Ek weet jy kry swaar en jy is arm, jy het min geld. Maar Ek sê jy is ryk, want jy behoort aan My. Ek weet die Jode praat sleg van jou, maar hulle is nie regtig Jode nie, hulle kom bymekaar in ’n *sinagoge, maar dit is die sinagoge van die *Satan.

10Jy sal swaarkry, maar jy moenie bang wees nie. *Die duiwel sal party van julle in die tronk laat gooi. Dan sal almal sien of julle kan aanhou glo. Ja, julle sal tien dae lank swaarkry, maar jy moet aanhou glo, ook as die mense jou wil doodmaak. Dan sal Ek jou weer laat lewe, dit sal vir jou wees soos ’n *lourier-krans op jou kop.

11As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal jy nie *’n tweede maal sterf nie.”

Die boodskap vir die gemeente in Pergamum

12“Jy moet vir *die engel van die gemeente in die stad Pergamum skryf:

*Die Een wat die skerp swaard het, sê:

13Ek weet waar jy woon. *Satan se *troon is daar, maar jy hou aan om in My te glo. Ja, Satan woon daar by julle. En die mense het vir Antipas daar by julle doodgemaak omdat hy aangehou het om vir mense te vertel van My, maar jy was nie bang om te sê dat jy in My glo nie.

14Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen ’n paar dinge verkeerd. Party van jou mense doen die dinge wat *Bileam vir die mense geleer het. Hy het vir Balak gesê hoe hy die Israeliete sonde kan laat doen. Hy het gesê Balak moet vir hulle *afgod-offervleis laat eet en hy moet hulle *onsedelik laat lewe. 15Dieselfde gebeur daar by jou. Daar is ook party mense wat die dinge glo wat die *Nikolaïete vir hulle leer. 16Maar jy moet lewe soos Ek wil hê. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek gou kom en Ek sal die swaard wat in my mond is, gebruik om oorlog te maak teen die mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer.

17As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou van die *manna gee, ander mense weet nie van daardie manna nie. Ek sal ook vir jou ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n nuwe naam geskryf. Niemand anders sal weet wat daardie naam is nie, net jy sal dit weet.”

Die boodskap vir die gemeente in Tiatira

18“Jy moet vir *die engel van die gemeente in die stad Tiatira skryf:

*Die Seun van God se oë is soos ’n vuurvlam en sy voete is soos blink koper. Hy sê:

19Ek weet alles wat jy doen: Jy is lief vir My, jy doen wat jy sê jy sal doen, en jy dien die ander *gelowiges. Ek weet jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy bly geduldig. Ek weet jy doen nou baie meer dinge vir My, meer as wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het.

20Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen niks teen die vrou Isebel nie. Sy sê sy is ’n *profeet, maar sy leer dinge wat nie waar is nie, sy leer dit vir die mense wat My dien. Sy leer vir hulle om *onsedelik te lewe en om *afgod-offervleis te eet. 21Ek het vir haar tyd gegee om te begin lewe soos Ek wil hê en om op te hou om onsedelik te lewe, maar sy wil nie ophou nie. 22As sy en almal wat saam met haar onsedelik lewe, nie ophou om verkeerde dinge te doen nie en as hulle nie begin lewe soos Ek wil hê nie, dan sal Ek vir haar en vir hulle baie siek laat word. 23Ek sal almal laat sterf wat doen wat sy sê. Dan sal al die gemeentes weet dat Ek sien wat mense dink en wat hulle wil doen. Ek *oordeel elke mens oor wat hy gedoen het.

24Maar julle ander wat ook in Tiatira woon, julle glo nie die dinge wat Isebel vir hulle leer nie. Party mense sê die dinge wat sy vir hulle leer, is die groot geheime van die *Satan, maar julle wou nie daardie dinge leer ken nie. Vir júlle sê Ek: Ek wil hê julle moet net een ding doen, en dit is: 25Julle moet aanhou om alles te glo wat julle nou glo. Julle moet dit doen totdat Ek weer kom.

26As jy oorwin en aanhou doen wat Ek wil hê, dan sal Ek vir jou sê jy mag oor die volke regeer. 27Jy sal kwaai oor hulle regeer, soos ’n koning wat met ’n *yster-septer regeer. Jy sal met hulle doen wat jy wil, soos wanneer iemand kleipotte stukkend slaan. 28My Vader het gesê Ek mag so regeer. Jy mag ook so regeer. Ek sal vir jou die môrester gee, jy sal wees soos Ek.

29As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index