Search form

Romeine 15

Gelowiges moet doen soos Christus gedoen het

1As ons geloof sterk is, dan moet ons die *gelowiges help wie se geloof swak is. Ons moenie doen wat vir óns lekker is nie. 2Ons moet die dinge doen wat vir ons *naaste lekker is, want dan doen ons wat goed is, en so word ons naaste se geloof sterker. 3Julle moet dit weet: Christus het ook nie net dinge gedoen wat lekker is vir Hom nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:

*Die mense wat vir U *beledig,

is die mense wat my beledig het.

4Want alles wat in die Ou Testament geskryf is, is voorheen geskryf om vir ons te leer, sodat ons kan aanhou glo. Dit is geskryf om ons te help en te *bemoedig. Dan sal ons seker weet dat God ons sal red. 5Dit is God wat ons help om aan te hou glo en wat ons bemoedig. Ek bid dat Hy vir julle sal help om altyd gereed te wees om saam te werk met mekaar, dit is soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan sal julle almal dieselfde daaroor dink en saam vir God prys, Hy wat die Vader van ons Here Jesus Christus is.

God wil al die mense red

7Julle moet mekaar aanvaar, soos Christus julle ook aanvaar het. Dan sal al die mense vir God prys. 8Ek sê vir julle: Christus het gekom om die Jode te dien sodat almal kon weet dat God doen wat Hy belowe het. God het goeie dinge belowe vir die *voorvaders van die Jode, en Christus het kom wys dat God doen wat Hy vir hulle belowe het. 9Christus het ook gekom sodat die *heidene God kan prys omdat God goed is vir hulle. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:

*Daarom, ek sal U prys sodat

die heidene dit kan hoor,

ek sal sing oor u Naam.

10En op ’n ander plek in die Ou Testament is geskryf:

*Julle heidene moet bly wees

saam met die volk wat aan

die Here behoort!

11In die Ou Testament is daar ook geskryf:

*Al die heidene moet

die Here prys,

al die mense moet Hom prys.

12En Jesaja sê:

*Die koning wat van

die *nageslag van Isai is,

sal kom,

en hy sal begin om oor

die heidene te regeer,

die heidene sal weet dat hy

hulle sal red.

13God laat mense aanhou hoop. Ek bid dat Hy vir julle bly sal maak en dat Hy vir julle vrede sal gee, vir julle wat glo. Dan sal die Heilige Gees vir julle krag gee, en julle sal baie seker wees dat die dinge wat julle hoop, sal gebeur.

Paulus se werk

14Vriende, ek is baie seker dat julle baie goeie dinge doen vir mekaar, julle weet alles wat julle moet weet en julle kan vir mekaar leer om reg te lewe. 15Maar ek het op party plekke in hierdie brief baie reguit met julle gepraat. Party van julle sal nie daarvan hou nie, maar ek wil hê julle moet onthou wat God vir julle gedoen het. God was baie goed vir my 16en Hy het my gekies om vir Christus Jesus te werk. Hy het my na die *heidene toe gestuur, en my werk is om vir hulle die goeie boodskap van God te bring. Wanneer die heidene in Christus glo, dan word hulle soos ’n *offer wat ek vir God gee, en God sal die offer aanvaar. Die Heilige Gees het hulle aan God *gewy. 17Ek behoort aan Christus Jesus en daarom is ek trots op alles wat ek vir God doen. 18Ek wil nie spog nie, ek sal net vertel van die dinge wat ek gedoen het omdat Christus vir my die krag gegee het om dit te doen. Hy het my gebruik sodat die heidene gehoorsaam kan word aan Hom. Ek het gedoen en gesê wat Christus wou hê. 19Die Heilige Gees het vir my krag gegee om *tekens en *wonderwerke te doen. Ja, ek het klaar die goeie boodskap oor Christus oral vir die mense gebring, van Jerusalem tot by die provinsie Illirikum. 20Ek wil graag die goeie boodskap bring waar mense nog nie van Christus gehoor het nie. Ek wil nie gaan preek waar ander mense klaar gepreek het nie. 21Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:

*Niemand het vir hulle

van Hom vertel nie,

maar hulle sal Hom sien,

hulle het nie van Hom

gehoor nie, maar hulle sal

van Hom weet.

Paulus wil na Rome gaan

22Ek het op baie plekke die boodskap van Christus gebring, en daarom kon ek nie na julle toe kom nie. 23Maar nou het ek hier op al die plekke die boodskap oor Christus gebring. Ek wou voorheen na julle toe gegaan het 24en ek wil nou na julle toe kom wanneer ek na die land Spanje gaan. Ja, ek hoop ek sal julle kan besoek wanneer ek na Spanje gaan. Dan wil ek eers ’n tyd lank by julle bly sodat ons by mekaar kan wees. Ek hoop julle sal dan vir my kan help sodat ek verder kan gaan.

25Maar ek gaan nou eers na Jerusalem. Ek gaan om die *gelowiges in Jerusalem te dien, 26want die gelowiges in die provinsies Masedonië en Agaje het besluit om van hulle geld te stuur vir die arm gelowiges in Jerusalem. 27Die gelowiges in Masedonië en Agaje is *heidene en die gelowiges in Jerusalem is Jode. Nou stuur die heidene vir die Jode geld, en dit is reg, want die Heilige Gees het vir die Jode baie goeie dinge gegee, en die heidene het ook daarvan gekry. Daarom is dit reg dat die heidene vir die Jode van hulle geld stuur. 28Wanneer ek hierdie werk klaar gedoen het, en wanneer ek die geld veilig vir die gelowiges in Jerusalem gegee het, dan kom ek na julle toe en dan gaan ek verder na Spanje. 29Ek weet dat ek al die *seën van Christus vir julle sal bring wanneer ek na julle toe kom.

30Vriende, ons behoort almal aan ons Here Jesus Christus, en die Heilige Gees help ons om lief te wees vir mekaar. Daarom vra ek mooi vir julle, julle moet baie ernstig saam met my bid dat God my sal help. 31Daar is mense in die provinsie Judea wat nie in Christus glo nie, en hulle wil slegte dinge doen aan my. Daarom moet julle bid dat God my sal beskerm teen hulle. Julle moet ook bid dat God sal help dat die gelowiges in Judea tevrede sal wees met die werk wat ek daar gaan doen. 32As God dit wil hê, sal ek dan na julle toe kom, en ek sal bly wees. Dit sal vir my baie lekker wees om by julle te wees en daar by julle te rus.

33Ek bid dat die God wat vrede gee, by julle almal sal wees. Amen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index