Search form

Rut 1

Elimelek gaan woon in Moab

1Dit was in die tyd toe die leiers oor die Israeliete regeer het. Dit was baie droog in die land Juda, en die mense het niks gehad om te eet nie. ’n Man het weggegaan uit die stad Betlehem in die land Juda en hy het in die land Moab gaan woon. Hy was ’n *vreemdeling in Moab. 2Die man se naam was Elimelek, en sy vrou se naam was Naomi, en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle het van Efrat gekom, dit is van Betlehem in Juda. Hulle het in die land Moab gekom en daar gebly.

3Naomi se man Elimelek het gesterf, en sy en haar twee seuns het oorgebly. 4Die seuns het getrou met vroue wat Moabiete was. Die een vrou se naam was Orpa, en die ander vrou se naam was Rut.

Naomi kom terug en Rut kom saam

Naomi en haar twee seuns Maglon en Kiljon het omtrent tien jaar in die land Moab gewoon. 5Toe het haar seuns ook gesterf, en Naomi het alleen oorgebly. Haar man en haar seuns was dood. 6Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab. 7Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda. 8Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma’s se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my. 9Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen ’n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.”

Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil. 10Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.”

11Naomi het gesê: “Nee, my dogters, julle moet teruggaan. Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek kan nie nog seuns kry wat julle mans kan word nie. 12Julle moet teruggaan, my dogters, julle moet gaan, want ek is te oud om weer te trou. En ook, as ek dink ek kan miskien nog kinders kry, en ek slaap vannag by ’n man en ek kry seuns, 13dan sal julle nie kan wag totdat hulle groot is nie. Julle sal wil trou. Nee, my dogters, die Here laat my swaarkry, die lewe is bitter vir my, meer bitter as vir julle.”

14Naomi se twee skoondogters het weer begin huil. Orpa het vir Naomi gegroet en sy het gegaan, maar Rut het styf vasgehou aan Naomi. 15Naomi het vir Rut gesê: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense toe en na haar *god. Jy moet ook teruggaan, saam met haar.”

16Maar Rut het vir Naomi gesê: “Jy moenie aanhou sê dat ek jou moet los en moet teruggaan nie, want waar jy gaan, wil ek ook gaan, en waar jy gaan slaap, wil ek ook gaan slaap. Jou volk is ook my volk, en jou God is ook my God. 17Waar jy sterf, wil ek ook sterf, en daar moet die mense my begrawe. Die Here is my *getuie. Net die dood sal ons twee skei van mekaar.”

18Naomi het toe geweet dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan, en sy het nie weer met Rut daaroor gepraat nie.

19Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?”

20Maar Naomi het vir die mense gesê: “Julle moet my nie Naomi noem nie, julle moet my nou ‘Bitter’ noem, want die *Almagtige God het my lewe vir my baie bitter gemaak. 21Ek het hier weggegaan met baie, maar die Here het my met niks laat terugkom. Die Here, die Almagtige God, het my laat swaarkry, Hy het dit sleg laat gaan met my.”

22So het Naomi teruggekom uit die land Moab, en Rut, haar Moabitiese skoondogter, het saam met haar gekom. Hulle het in Betlehem gekom toe die mense begin het om die *gars af te sny.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index