Search form

Hooglied 2

Soos ’n blom tussen dorings

1Sy sê: “Ek is die *affodil van Saron,

die blom van die valleie.”

2Hy sê: “My liefste,

wanneer jy tussen die jongmeisies is,

dan is jy soos ’n blom tussen dorings.”

3Sy sê: “Wanneer die man vir wie ek lief is,

tussen die jongmans is,

dan is hy soos ’n appelboom

tussen die bome in die bos.

Ek wil graag in sy skaduwee sit,

sy appels is soet in my mond.”

’n Plek waar ons kon feesvier

4Sy sê: “Hy het my geneem na ’n plek

waar ons kon *feesvier,

hy het vir my gewys dat hy lief is vir my.

5Jy moet vir my rosyntjies gee

om my sterk te maak,

jy moet vir my appels gee,

sodat ek nuwe krag kan kry,

want ek het swak geword van liefde.

6Sy linker-arm is onder my kop,

sy regter-arm is om my lyf.

7Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe,

en die *gaselle en die takbokke in die veld

moet die *getuies wees,

julle moet belowe dat julle ons nie sal wakker maak

en nie sal pla nie.

Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit

wat om te doen.”

Dit is die tyd om te sing

8Sy sê: “Ek hoor die man vir wie ek lief is,

kyk daar, hy kom, hy gaan teen die berge op,

hy spring oor die heuwels.

9Die man vir wie ek lief is,

is soos ’n *gasel, soos ’n jong takbok.

Kyk daar, hy staan anderkant ons muur,

hy kyk deur die vensters,

hy loer deur die tralies.

10Die man vir wie ek lief is, begin praat,

hy sê vir my: ‘My liefste, my mooiste,

jy moet opstaan, jy moet kom.

11Want kyk, die winter is verby,

dit reën nie meer nie.

12Daar is weer blomme in die veld,

dit is nou die tyd om te sing,

ek hoor die duiwe *koer in ons land.

13Die vyeboom laat sy vye groot word,

jy kan ruik dat die *wingerdstokke

blomme kry.

My liefste, my mooiste,

jy moet opstaan, jy moet kom.

14Jy is soos ’n duif tussen die rotse,

’n duif wat wegkruip teen die hoë rotse,

ek wil jou sien, ek wil jou hoor,

jou stem is mooi en jy is mooi.’ ”

Die klein jakkalsies wat aan die wingerdstokke vreet

15Sy sê: “Julle moet vir ons die jakkalse vang,

die klein jakkalsies wat aan die *wingerdstokke vreet,

ons wingerdstokke wat nou begin blomme kry.

16Die man vir wie ek lief is, is myne, en ek is syne,

hy is soos ’n takbok wat wei tussen die blomme

17totdat die aandwind waai en die skaduwees weg is.

Jy, man vir wie ek lief is, jy moet terugkom,

jy moet wees soos ’n *gasel,

soos ’n jong takbok op die Beter-berge.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index